Venter se ‘Minder as niks’ eersdaags in Albanees

Minder as niks, die jongste roman van immergewilde spanningskrywer Irma Venter, sal eersdaags in Albanees vertaal word.

Dit volg ná die uitgewery Ombra GVG die vertaalregte vir Venter se topverkoperboek aangeskaf het in ʼn ooreenkoms wat deur literêre agent Catrina Wessels gesluit is.

“Ons is verheug om Minder as niks by ons lys van publikasies te voeg,” sê Vasilika Tafa, uitgewer van Ombra GVG.

Volgens Tafa is hulle opgewonde om Venter se boeiende en goedgeskrewe roman met lesers te deel. “Sy weet duidelik hoe om ʼn storie te vertel,” voeg Tafa by.

Ombra GVG, wat in 1998 deur Vasilika en Gëzim Tafa gestig is, is een van die voorste uitgewerye in Albanië en is al met verskeie kulturele pryse bekroon. Dit sluit in die Lumo Skëndo-prys in 2010 wat deur die ministerie van toerisme, kultuur, jeug en sport, asook die Nasionale Biblioteek van Albanië toegeken word.

Minder as niks, een van die gewildste Afrikaanse boeke wat in 2021 uitgegee is, is die eerste boek in ʼn nuwe reeks spanningsromans uit Venter se pen. Dit volg op die groot sukses van Venter se sogenaamde “S-reeks”, ʼn reeks spanningsromans wat vanaf 2012 uitgereik is, met karakters wat oorvleuel en titels wat telkens met die letter “s” begin.

Oor die boek

Dertig jaar gelede is Johan Botha lewenslank tronk toe gestuur vir die moord op drie tienermeisies. Terminaal siek en pas vrygelaat, vra hy misdaadjoernalis Ami Prinsloo om hom te help om sy onskuld te bewys.

Hoe kan sy nee sê? Dit is ʼn uitstekende storie. En as ʼn voormalige swemkampioen met geraamtes in haar eie kas, weet sy hoe dit voel om als te verloor en te sukkel om mense in die oë te kyk. Sy weet hoe dit voel as iemand na aan jou vermoor word en te weet dat die skuldige nog op vrye voet is …

Klik hier om Minder as niks deur Irma Venter aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.