Verhaal van vergifnis in 558 dae

 

Korkie

Die voorblad van Yolande Korkie se jongste boek ‘558 dae’. Foto: Verskaf.

“Die ontvoering en afloop daarvan het my herberaad. Die krisis was die hand wat die tentpenne van my begrip om God, myself en ander  te verstaan, gerek het. Ek wil nooit terugkeer na die oppervlakkige verhouding wat ek met die Here gehad het voordat dit alles gebeur het nie. Al was dit ʼn moeilike en pynlike tyd, is daar waardevolle geskenke wat ek met my sal saamneem so lank as wat ek leef.”

Vergifnis spreek hard en herhaaldelik uit die boek.

Aan die woord is Yolande Korkie, weduwee van die Suid-Afrikaner Pierre Korkie, wat 558 dae deur Al-Kaïda in Jemen aangehou en in Desember 2014 vermoor is tydens ʼn ontsettingsoperasie deur die Amerikaanse Seals, klaarblyklik op dieselfde dag as wat hy vrygelaat sou word.

Yolande, wat die boek, 558 dae, saam met die bekroonde skrywer, Maretha Maartens, geskryf het, was self meer as 200 dae gyselaar voordat sy deur bemiddeling van die Gift of the Givers vrygelaat is.

Sy was erg bewoë toe sy haar kinders, Pieter-Ben en Lize-Mari, erkenning gegee het vir hul bystand: “Pappa sou trots gewees het op julle.”

Cum, die christelike uitgewersmaatskappy wat die boek uitgee, beskryf die boek as ʼn roerende verhaal wat deur Yolande herleef word, van ʼn paartjie se ontvoering en gewelddadige skeiding van hul kinders en die lewe soos hulle dit geken het. Sy deel in die boek alles wat sy in dié afskuwelike tydperk ervaar het, van die oomblik wat hulle ontvoer is, haar vrylating en dan die Amerikaanse reddingspoging waartydens Al Kaïda Pierre vermoor het.

Die boek bevat inskrywings uit Pierre se joernaal wat tydens die ontsettingspoging herwin is, asook ʼn roerende laaste brief van Yolande aan Pierre.

Die boekbekendstelling het by Grey Kollege plaasgevind, waar Pierre bykans ʼn kwarteeu onderwyser was. ʼn Boom ter herinnering aan Pierre sal ook later vanjaar naby die wetenskapklas geplant word.

  • Die boek is ook in Engels beskikbaar, die taal waarin dit aanvanklik geskryf is. Maretha Maartens het ook die vertaling gedoen. Dit het 548 bladsye en kos R299,95.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.