Verklikker – Uittreksel 2

Leon van Nierop

Hoofstuk 8

Marco se klasmaats loop uit, maar gesels nie so vrolik soos gewoonlik nie. Dit is of almal iets het om weg te steek, dink Marco. Soos die keer toe Ellen afgeskryf het. Daardie ontmoeting agter die fietsloodse toe Altus die manne aangemoedig het om vir hom as klaskaptein te stem. Die wit leuen wat Lucinda vir haar ma vertel het toe sy laat by die huis gekom het, en die geld wat Thys opgetel en gehou het al het hy geweet dit het uit Dieter se tas geval. En hy wat Marco is, het nog meer wat hy wegsteek.

Marco bly agter. Hy kyk na Sagrys. “Ek is stressed oor baie dinge. Gaan dit wys?”

“Almal is gespanne as hulle ʼn poligraaftoets doen, maar ek weet hoe om te onderskei tussen daardie spanning en spanning oor die vrae wat saak maak. As jy nie die ring gesteel het nie, is jy veilig.”

“Hoe laat moet ek reg wees vir die toets?”

“Vanmiddag halfdrie.”

Die res van die dag dink hy nie aan die leuenverklikkertoets nie. Hy dink aan Ludwig se oproep.

Pouse gaan sit Marco en Lucinda weer op dieselfde bankie onder ʼn boom. Hulle praat oor die toets, en oor leuens.

“Is jy bang?” vra sy.

“Nee. Is jý?” vra Marco terug.

“Mens is altyd bang as jy ondervra word. Ek bedoel, oor ander goeters wat jy al in jou lewe gedoen het.”

“Wat het jý al gedoen?” vra Marco.

Sy trek haar mond op ʼn plooi. “Ag, ek weet nie. Eendag iets ge-Google en dit toe in ʼn opstel gebruik sonder om die bron te noem.”

“Dis ʼn leuen, orraait,” lag Marco.

“En eendag het ek my ma se ‘make-up’ gebruik nadat sy gesê het ek mag nie. En toe, die middag nadat ek dit afgewas het, toe vra sy of ek by haar make-up was, toe sê ek nee.”

“Hoekom het jy gejok?” vra hy.

“Want ek was bang sy raas.”

“Ek is seker hy gaan jou nie oor jou ma se make-up vra nie,” lag Marco weer.

“Ja, maar ek voel skuldig daaroor. Dalk dink ek dááraan as hy vra of ek die ring gesteel het! Dan lyk dit of ek skuldig is!”

“Ek dink nie dit werk so nie.”

“Weet jy dat daar meer websites is oor hoe om die poligraaf te kul as oor die poligraaf self?”

Lees nog ‘n uittreksel uit die boek.
Vir meer inligting oor die boek, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.