Veronica: Die kleur van liefde

deur Alita Steenkamp

Die kleur van liefde is ʼn verhaal van onreg. Twee mense raak verlief op mekaar, maar dis ʼn verbode liefde want die regering van die dag duld nie liefde oor die kleurgrense nie. Dis die sestigerjare, en Suid-Afrika is vasgevang in die knelgreep van Apartheid. Selinah Phaswane raak swanger en beide sy en Paul Mills weet dat dit onmoontlik sal wees om die baba te behou. Op Paul se aandrang, vlug Selinah met die pasgebore baba na Lydenburg waar daar ʼn groot Bruin gemeenskap is. Sy laat haar baba in die sorg van die Nagels oor, min wetend dat haar kind nooit enige liefde en koestering sal ervaar nie.

Dis moeilike grootwordjare vir Veronica. Sy werk soos ʼn slaaf op die plaas van die Nagels, is altyd honger en ervaar nooit enige warmte of liefde wat deel moet wees van ʼn ouerhuis nie. Haar dissipline het daaruit bestaan om aan ʼn stoel vasgemaak te word en telkemale met ʼn sweep geslaan te word.
Sy maak kennis met God in die Rooms Katolieke Kerk op Lydenburg en onder die beskerming van vader Van der Legner word sy die geleentheid gegun om ook ʼn hoërskool opleiding te ontvang.
Op Middelburg in die koshuis leer sy vir die eerste keer die geheim van haar eie verlede ken. Gaan sy werklik haar ma vind?

Veronica se verhaal vertel nie net van die swaarkrydae nie, daar is ook avontuur en lewensvreugde ten spyte van die swaar. Dis ʼn getuienis van ʼn vrou wat ver bo haar swaarkry en die onreg uitgestyg het. En tog haal die onreg haar weer ʼn keer in. Sal sy die keer staande bly?

Oor die outeur:
Alita Steenkamp is ʼn vryskutjoernalis wat spesialiseer in persoonliksheidprofiele. In die 12 jaar wat sy in die bedryf staan, het sy al verskeie voorbladartikels vir tydskrifte soos Vrouekeur, rooi rose, Lig en Taalgenoot geskryf. Alita slaag uitstekend daarin om iemand lewensgetrou op papier vas te vang. In 2009 was sy ʼn medewerker in die skryf van Hestrie Cloete-Els se outobiografie, My pyn, my glorie, en in 2010 het sy Mathys Roets se inspirerende lewensverhaal in Steeds Mathys vertel. Nog ʼn boek uit haar pen gevloei het is Loui Fish: Onsinkbaar wat in 2012 verskyn het.

Uitgewer: LAPA uitgewers
Prys: 185-00*
*prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.