Victor: my reis – Uittreksel 1

Hoofstuk 7: Die begin van ‘n droom
Bladsy 100

Ek kon nie wag om die Groen en Goud oor my kop te trek vir die toetsseisoen van 2005 nie, want ek het pas my beste Super 12-reeks beleef.

In die wedstryd teen die Waratahs het ek egter ‘n baie harde hou op my regterboud gekry en met die terugvlug het dit vererger. Aanvanklik het ons gedink ek sal net ‘n week of twee nie kan speel nie, maar uiteindelik was dit vier weke. Dit het ook nie gehelp dat ek tydens die Bokke se jaarlikse jagtog gegly en op die seer boud te lande gekom het nie.

Gevolglik het ek die eerste toets van die seisoen, teen Uruguay in Oos-Londen, misgeloop. Jake het vir dié wedstryd ‘n paar proefnemings gemaak, maar die Bokke was steeds op ‘n hoër vlak en het die arme Suid-Amerikaners met 134-3 verniel. Dit was ons grootste toetsoorwinning nog. Die eerste toets teen die Franse, in Durban, was gelykop (30-30) en die tweede een, in Port Elizabeth, het ons 27-13 gewen.

Om ‘n Drienasies-toernooi as die verdedigende kampioen aan te pak was iets wat ons nie geken het nie. Net Percy Montgomery het daarvan ondervinding gehad.

Die Britse en Ierse Leeus het in Nieu-Seeland getoer en ons moes eers twee ekstra toetse, een in Sydney en een op Ellispark, teen Australië om die Nelson Mandela Uitdaagskild speel.

Die wedstryd in Sydney het ons 12-30 verloor – die Bokke se grootste nederlaag sedert Jake White oorgeneem het – en in die proses hopeloos verdedig. Om al die pad vir een wedstryd soontoe te vlieg, soos met die Super 12-halfeindstryd, was net te moeilik. Jou liggaamsklok is heeltemal deurmekaar en tyd vir herstel is daar nie. Die gevolge van ‘n vlug in daardie rigting is altyd erger as van daar af weswaarts na Suid-Afrika.

Op Ellispark het ons die bordjies behoorlik verhang. Oudpresident Nelson Mandela het die wedstryd bygewoon en ons voor die tyd in die tonnel toegespreek. Sy boodskap was eenvoudig: “Doen julle bes vir Suid-Afrika.”

Dit het ons opgesweep én ‘n negatiewe uitwerking op die Wallabies gehad. Hulle het met groot oë by ons verbygeskuur op pad kleedkamer toe ná die opwarming; dat dié wêreld-ikoon ons voor ‘n toets besoek en toespreek, was vir hulle een te veel.

Met ‘n span bestaande uit agt of nege gekleurde spelers het ons hulle tjank behoorlik afgetrap en maklik 33-20 gewen. Die Wallabies het boonop laat in die wedstryd twee drieë gedruk wat die telling vir hulle beter laat lyk het. Ons was reg vir die Drienasies…

Lees nog ‘n uittreksel hier.

Vir meer inligting oor die boek klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae