Video: Dana Snyman gesels oor ‘In die tyd van die gif’

Dana Snyman

Min sou Dana Snyman weet toe hy na die Rugbywêreldbeker-eindstryd op Rondomskrik kyk dat die euforie van dié oomblik kortstondig sou wees; dat ons lewens binnekort handomkeer sou verander. Snyman verwoord die ervaring van die daaropvolgende 18 maande – van rugbytriomf tot treur en vertwyfeling – in ʼn nuwe bundel kortverhale.

Snyman se kenmerkende fyn waarneming en deurleefde wysheid maak In die tyd van die gif ʼn boek wat gelees moet word. Daar is pyn en verlies, maar ook geloof en hoop – en ʼn goeie blomjaar. Dan kry hy self ook Covid-19.

Snyman is op Stellenbosch gebore, maar het op verskeie plekke in Suid-Afrika en Namibië grootgeword. Ná ʼn kort, onsuksesvolle universiteitsloopbaan werk hy onder meer as veiligheidswag, skakelbordoperateur en boekwinkelklerk. Met die genade van bo beland hy in die joernalistiek, en vandaar word hy een van Suid-Afrika se geliefdste skrywers. Snyman het al talle suksesvolle rubrieke, boeke en verhoogstukke neergepen, vol empatie en insig in sy waarnemings oor alledaagse lewe in Suid-Afrika.

In die tyd van die gif het pas by NB-Uitgewers verskyn en kos R275 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek aanlyn te koop.

Phyllis Green het met Dana Snyman oor sy kortverhaalbundel gesels. Luister hier na die volledige gesprek wat deur Graffiti Boeke aangebied is:

Graffiti Boeke se aanlyn kuiers en boekbekendstellings word weekliks op Facebook aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.