Video: Die Naguilklub gesels oor ‘Meer as net ʼn ma’

Die beeld wat op sosiale media van ouerskap voorgehou word, is lieflik, maar o só ver van die werklikheid af. En dan is daar die mommy wars: keiser of normaal, bors of bottel, om te sleep train of nie … In die middel van dit alles is die vrou wat eintlik net haar bes doen om ʼn goeie ma te wees en steeds liggaam en siel aanmekaar te hou.

Die stigters van Die Naguilklub het besluit genoeg is genoeg. Pleks van meeding om perfeksie het dié drie vroue in die digitale wêreld ʼn ruimte geskep waar ouerskap sonder oordeel die leuse is – ʼn plek waar ma’s mekaar kan ondersteun deur die brutale fase van slapelose nagte, snotneuse en vloermoere.

In die boek Meer as net ʼn ma: Stories en raad uit die hart van Die Naguilklub deel die stigterslede – Lente Swift, Suzanne Smit en Juanli Theron – hulle persoonlike ouerskapervarings, wysheid en raad sodat ander ma’s kan sê: Ek ook!

Die vertellings is verstommend eerlik, dikwels hartroerend, soms snaaks en gevul met die soet en swaarkry van ouerskap.

Swift is ʼn ma van twee en ʼn toegelate prokureur met ʼn graad in sielkunde. Sy en haar gesin woon in Durbanville. Smit is ook self ʼn ma, ʼn toegelate prokureur en belastingspesialis. Sy woon saam met haar man en twee dogters in Centurion. Theron is ʼn taalkenner en die hoof van die Universiteit Stellenbosch se taalsentrum. Sy het ʼn dogter en ʼn seun en hulle gesin woon in Stellenbosch.

Meer as net ʼn ma het pas by NB-Uitgewers verskyn, en dit kos R280 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek aanlyn te koop.

Zetske van Pletzen het met Lente Swift, Suzanne Smit en Juanli Theron oor hulle boek gesels. Luister hier na die volledige gesprek wat deur Graffiti Boeke aangebied is:

Graffiti Boeke se aanlyn kuiers en boekbekendstellings word weekliks op Facebook aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.