Video: Dirk Hermann vang kern van die Afrikaner vas met nuwe boek

Die pad na Ons sal self was nie ’n kortpad met afdraandes en koeltebome wat salig die pad teen die ergste son en reën beskerm nie. Inteendeel, die Afrikaner ken selfdoen teen hierdie tyd al soos die palm van sy hand. Om self te doen is egter nie beperk tot die “wat” van harde arbeid nie, dit is ook in die “hoe” van ’n samestelling van woorde, reaksies en gebeure wat daaruit spruit.

In hierdie publikasie, Ons sal self, word dr. Dirk Hermann se mees aangrypende en ingrypende ope briewe vir die eerste maal as versamelde werke gepubliseer. Die woede, frustrasie, passie en gedetermineerdheid van menige Afrikaner in bepaalde kontekste van gebeure wat kom sedert 2011 word daarin verwoord. Die probleme van die dag kry sonder pretensie en met absolute oortuiging aandag en in reaksie het die Afrikaner soos een man saamgestaan om sy mense te ondersteun en kon hy só sy gesag afdwing op die onregverdigheid waarmee hy gekonfronteer word.

Die boek is ingedeel in vyf temas waarbinne die afgelope nege jaar se ope briewe ingedeel is. Die eerste tema kan dus niks anders as die titel-tema van “Ons sal self” wees nie. Hierbinne vang Hermann die kern van die Afrikaner vas en herinner hy weer hoe die geskiedenis en die toekoms juis hierdeur aan mekaar verbind is en hoe die antwoord vir die toekoms se grondslag uit die verlede geput word.

Deel twee, wat in werklikheid die aanloop tot deel een was, gaan oor die vraagstukke van die Covid-19-krisis. In hierdie tyd raak dit duideliker dat die regering geen intensie het om minderhede te ondersteun nie en raak dit duidelik dat ras ’n pertinente rol in die ideologie van die staat speel. Die regering word nie net direk hieroor aangevat nie, maar daar word ook na die gemeenskap gekeer om hierdie vraagstukke op te los deur onder meer die Helpmekaardag.

In die derde afdeling kry die kwessie van ras duidelik aandag. Die openbare narratief wil-wil die Afrikaner deurentyd as sondebok en uitgeworpene op grond van sy velkleur hanteer en maatskappye speel daarmee saam. Hermann verwoord egter die Afrikaner se gevoel deur hierdie diskriminasie op sy naam te noem met ope briewe aan Sasol oor hul rasaandele, Total Sports omdat hulle Eben Etzebeth op hoor-sê “skuldig” bevind het en Tumi Morake van Jakaranda wat haarself aangestel het om wit mense op die lug te vermaan.

Die Afrikaner, sy taal en Afrika is die tema van deel vier. Die president word aangevat oor sy verkriminaliserende weergawe van die rol van die Voortrekkers by Bloedrivier en Malema moet twee keer dink voor hy weer vir ’n Afrikaner wil sê hy moet sy plek ken. Prins William van die Britse koningshuis word ook hier vertel hoe verskillend dit was vir ’n Afrikaner-vrou in die Anglo-Boereoorlog teenoor die troon van ’n moondheid wat homself wou afdwing op ’n volk wat op sy eie aangewese wou wees.

In die laaste afdeling, deel vyf, sluit in verskeie ope briewe aan individue wat, soos Hermann dit stel, klappe na Afrikaners uitgedeel het. Dit is briewe wat veral opskuddings veroorsaak het, soos die brief aan die Ghoema-Trust wat besluit het om die lied “Die Land” waarvan Steve Hofmeyr een van die sangers was, te verbied sowel as die ope brief aan die uitvoerende hoof van Spur.

Wat Hermann se ope briewe so merkwaardig maak is dat dit ontvang word as die ope brief van elke Afrikaner wat dit lees. Dit spreek namens hom en dit lok nie net reaksie uit nie maar lei dikwels tot aksie. Hierdie aksie spreek boekdele, maar dra in werklikheid ’n eenvoudige boodskap uit: onregverdigheid en diskriminasie sal nie geduld word nie. Ons staan op, ons staan teë, én ons sal self!

Ons sal self kos R180 en is aanlyn te koop by Kraal Uitgewers.

Jy kan hier na ʼn video kyk waarin Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sy ope brief aan EFF-leier Julius Malema voorlees. Die video is goedgunstig deur Solidariteit verskaf:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marie ·

Dirk, jy moet weet, ek as boervrou wat elke dag hierdie verregaande en arrogante diktat van die EFF en ANC moet opvreet, staan heelhartig agter jou. Ons het nog altyd, sal nog altyd self. Dit is wat hulle kwaad maak, want hulle kan nie.

maroelabutterfly ·

Ons staan bankvas agter jou. Baie Geluk met die Boek! Jul het in elke geval al baie meer vermag as wat baie in ons land bereik het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.