Video: François Bloemhof gesels oor ‘Verkleurmannetjie’

Hier volg ʼn uittreksel uit Verkleurmannetjie deur François Bloemhof.

Ek het pas die straat oorgesteek, toe iets my dwing om oor my skouer te kyk …

Niemand lyk of hulle my eens opmerk nie.

Maar vir ʼn oomblik was ek seker iemand hou my dop.

Daai kriewelrige gevoel wat jy soms teen jou ruggraat af kry, asof die spook van ʼn wêreldbekende pianis begin het om sy akkoorde daar te oefen.

Ek kyk weer ingeval dit hy is: die prokureur; meneer Du Toit; Pa. Miskien het hy agter my aan gekom omdat hy nog iets wou sê.

Daar’s niks.

Net dorpsmense.

Wys jou net in watter toestand wás ek!

Ek stap aan. Die kriewelrige gevoel kom jou wragtag weer, maar nou weet ek niemand kyk na my nie. Ek is op ʼn vreemde dorp en het pas iets hanteer waarop niks my kon voorberei nie, so dis oukei om gerattle te wees.

Twee blokke verder is ek terug by die lang dubbelverdieping waar ek gisteraand ingeboek het – ek wou nie vanoggend eers hier aankom nie. Dit was seker laaities wat die groot plastiekbord met klippe bygekom het.

STE NSDRIF HOT L

Die kamerdeur is skaars toe agter my, of ek bel vir Adri.

Wat dadelik antwoord: “Hoe’t dit gegaan?”

“Goed. Hy’s baie vriendelik.” Ek skop my skoene uit en sit eers die foon op die valerige tafeltjie neer sodat ek die hemp nog so toegeknoop oor my kop kan trek. Ek wat omtrent nooit ʼn knoophemp dra nie. Dis benoud in die kamer en ek kan weer myself wees.

“Lyk julle na mekaar?” vra Adri.

Ek vang my bolyf in die lang, dowwe spieël. Skraal maar met spiere op die regte plekke. Dit kos reg eet en oefen om te lyk asof alles vanself gekom het.

“Dis snaaks, maar ja. Ek het nie gedink ons sou nie.”

“Hoekom is dit vir jou snaaks? Ek lyk dan soos Pa. Too bad, met dié neus!”

“Daar’s niks fout met jou neus nie.”

“Wat ʼn hele klomp cosmetic procedures nie kan regruk nie.”

“Ag, Adri.”

“Ag, Marco,” na-aap sy my.

***

Verkleurmannetjie het pas by Lapa Uitgewers verskyn en dit kos R200 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om meer oor die boek te wete te kom.

Louis Awerbuck het met François Bloemhof oor sy jeugverhaal gesels. Luister hier na die volledige gesprek wat deur Graffiti Boeke aangebied is:

GRAFFITI AANLYNKUIER MET FRANCOIS BLOEMHOF

Verkleurmannetjie – François Bloemhof in gesprek met Louis AwerbuckToe Marco sy biologiese pa ontmoet, is dit die antwoord op baie vrae. Die regte antwoord, want Dirk du Toit is iemand soos wie hy graag wil wees. Die eintlike vrae kom egter nog. Wat nou van die mense wat Marco in die stad agtergelaat het? Wat is sy halfbroer se probleem? En Dirk se vrou s'n? Word hy agtervolg? Alles is reg aan Dirk, maar soveel is verkeerd óm hom … Soos die titel belowe, is Verkleurmannetjie nie net een soort storie nie. Hier is meer ratverwisselings en onthullings as in 'n hele TV-reeks, deur 'n skrywer wat weet hoe 'n tiener se kop werk – en hou van hoe dit werk!https://www.graffitiboeke.co.za/af/378647/Boeke

Posted by Graffiti Books & Stationery on Tuesday, August 24, 2021

  • Graffiti Boeke se aanlyn kuiers en boekbekendstellings word weekliks op Facebook
  • Die uittreksel is goedgunstig deur Lapa Uitgewers, ʼn druknaam van Penguin Random House, verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.