Video: Irna van Zyl gesels oor ‘Op ʼn mooi dag’

Irna van Zyl  

Met Louw Roodt se verdwyning ná ʼn werkgeselligheid word Kristien Liebenberg se grootste vrees bewaarheid: Haar lewensmaat kom nie huis toe nie.

Was Louw in ʼn ongeluk, het sy ʼn affair, is sy ontvoer, aangerand, of erger, in die sandduine en bosse van die Kaapse Vlakte vir dood agtergelaat? Of het dit met hulle groot bekgeveg die oggend te doen?

Toe breek die nuus van ʼn man wat in ʼn Kaapse hotel vermoor is. Dieselfde hotel waar Louw was. Dieselfde aand as wat sy verdwyn het. Dieselfde man wat vroeër dié dag die gasspreker by haar werk was. Het Louw iets met die moord te doen en vlug sy nou? Die polisie dink so. Of hou die verdwyning verband met haar ma wat een-en-twintig jaar gelede voor hulle huis in Tamboerskloof met motor en al gekaap is? ʼn Voorval wat vir Louw ʼn groot sielkundige knou gegee het.

Deur al die vrae en groeiende paniek, weet Kristien Louw is in die moeilikheid en sy moet haar red.

Irna van Zyl, skrywer van Op ʼn mooi dag, is ook bekend vir die gewilde rillers Dead in the Water en Death Cup. Sy is ʼn bekroonde joernalis en media-entrepreneur wat aan die hoof was van die tydskrifte De Kat, Insig en Boeke-Insig. Voordat Van Zyl ʼn heeltydse skrywer geword het, was sy uitvoerende direkteur van ʼn toonaangewende bemarkingsagentskap. Van Zyl is bekroon met die Orde van Tafelberg vir haar prestasies in die sakewêreld. Sy woon in Kaapstad.

Op ʼn mooi dag het pas by Penguin Random House verskyn en dit kos R290 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek aanlyn te koop.

Margit Meyer-Rödenbeck het met Irna van Zyl oor haar roman gesels. Luister hier na die volledige gesprek wat deur Graffiti Boeke aangebied is:

  • Graffiti Boeke se aanlyn kuiers en boekbekendstellings word weekliks op Facebook aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.