Video: Jan Vermeulen gesels oor ‘Spieëltjie, Spieëltjie’

Jan Vermeulen

Doktor Olaf Demeyer herstel nog van sy vierdubbele hartomleiding en die trauma van vorige ondersoeke waarby hy betrokke was. Om die waarheid te sê, hy moes lankal afgetree het as forensiese profileerder van die SAPD. Maar dan kom vra Lucida Winterbach sy hulp. Sy glo ʼn moordenaar teiken studente van haar Elegant Queens Academy, ʼn skool vir skoonheid en modelwerk. Al die meisies is minderjarig, met blinkoogdrome van skoonheidstitels en modelkontrakte. Tot van hulle naak op die bodems van swembaddens in die omgewing gevind word. Olaf se lewenslange beskermingsdrang teenoor die weerloses motiveer hom om gehoor te gee aan haar versoek. Gou besef hy egter dat dit hier gaan oor soveel meer as die feite en bewyse wat ʼn mens kan sien en hoor.

Olaf twyfel aan sy oordeel en instinkte. Hy word geteister deur verwronge beelde van die meisies en homself. Uiteindelik weet hy: Ons sal altyd alles slegs ten dele ken, en ons moet ʼn manier vind om elke dag saam met dié wete te leef. Vir Olaf is dit daardie wete wat dreig om hom na jare in die bedryf van sy kop af te dryf.

Vermeulen is in Bethanie in die suide van Namibië gebore. Op 14 is sy eerste kortverhaal in die destydse jeugtydskrif Patrys gepubliseer. Hy het ʼn BA-graad met Hebreeus en Filosofie as hoofvakke aan die Universiteit van Port Elizabeth behaal. Vermeulen het later sy teologiese lisensiaat aan die Universiteit Stellenbosch en ’n kursus in kreatiewe skryfkuns aan die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Port Elizabeth behaal. Sy debuutroman, Die laaste dans, is in 1998 deur Queillerie uitgegee. In 2000 het sy eerste jeugboek, Geraamtes dra nie klere nie, verskyn. Dié boek is met die Sanlamprys (goud), die MER-prys, die Scheepersprys en ʼn ATKV-kinderboektoekenning bekroon. Vermeulen se kortverhaal “In ma se stoof” het in 2006 in die kortverhaalbundel Van spoke gepraat verskyn. Vermeulen en sy vrou, Diana, woon in die Oos-Kaap.

Spieëltjie, Spieëltjie is die finale boek in Jan Vermeulen se Olaf Demeyer-reeks. Dit volg op Vyfde Aspoester, Ondier en Nagjagter. Die boek het pas by Lapa Uitgewers, ʼn druknaam van Penguin Random House, verskyn en kos R280 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek aanlyn te koop.

Ilse Salzwedel gesels met Jan Vermeulen oor sy laaste Olaf Demeyer-boek. Luister hier na die volledige gesprek wat deur Graffiti Boeke aangebied is:

Graffiti Boeke se aanlyn kuiers en boekbekendstellings word weekliks op Facebook aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.