Video: ‘Juffrou, ek mis jou,’ sê jongspan

Jaco Jacobs (Foto: Jaco Jacobs Blog)

Mariza Claassen, eienaar van Elardu-Steorra Dramaskool by Laerskool Elarduspark in Pretoria, is ʼn juffrou in murg en been en daarom verstaan sy al te goed dat onderwysers na hul “kinders” verlang.

“My man is ook ʼn onderwyser en ek kan agterkom dat hy na die kleinspan verlang,” vertel sy. Toe Claassen onlangs Jaco Jacobs se plasing van sy gediggie “Juffrou, ek mis jou” op Facebook sien, wou sy dit dadelik met die onderwysers by die skool deel. Claassen verduidelik dat sy iets wou doen om hulle op te beur, veral in ʼn tyd waar dit maklik is om moedeloos te word.

“Dit is ʼn uitdaging om met buitemuurse aktiwiteite voort te gaan, ouers en kinders stoei met tuisonderrig en almal spartel om inhoud aanlyn aan te bied,” sê sy.

“Ek het my leerders toe uitgedaag om die gediggie in ʼn dag te leer en vir my ʼn video van hulle optrede te stuur,” vertel Claassen. “Ek het die beste optredes gekies en toe ʼn spesiale video daaruit saamgestel.

“Dit is duidelik dat die kinders nog ʼn huppel in die stap het,” skerts sy. Claassen het die leerders aangemoedig om deel te neem en kreatief te wees.

Jaco Jacobs het sy gediggie “Juffrou, ek mis jou” op sosiale media geplaas en sy volgelinge aangemoedig om dit te deel.

“Dit is ’n rympie spesiaal vir al die onderwysers en ouers wat op die oomblik hul bes doen om die kleinspan tuis te laat skoolwerk doen,” het hy op sy Facebook-blad geskryf.

Kyk hier na die oulike video van Jaco Jacobs se gediggie “Juffrou, ek mis jou” wat deur Elardu-Steorra Dramaskool se leerders opgesê word.

Elardu-Steorra Dramaskool “Juffrou, ek mis jou!” deur Jaco Jacobs uitdaging! Leerders Maroela Media

Posted by Improv Studios on Friday, April 17, 2020

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.