Video: Lapa neem die voortou met Afrikaanse storie-app vir iPad

‘n Lokvideo volg onderaan die berig. LAPA Uitgewers, tans die grootste uitgewer van Afrikaanse kinderboeke, het nog ’n opwindende tree in die wêreld van leestegnologie gegee en pas sy eerste oorspronklike Afrikaanse storie-app vir Apple se iPad bekend gestel. Die bekende storie van Die Drie Varkies kry lewe op jou iPad – danksy innoverende animasie, prettige musiek en allerlei interaktiewe elemente.

Kinders kan uit drie opsies kies wanneer hulle die app gebruik:
– ’n Selfleesopsie waar die sinne een ná die ander op die skerm verskyn, perfek vir beginnerlesers.
– ’n Voorleesopsie, waar die storie hardop voorgelees word, vergesel deur animasie. Kinders kan byvoorbeeld kyk hoe die varkies hul huisies bou.
– En ’n lees-en-speelopsie, met allerlei interaktiewe elemente wat kinders op die skerm kan manipuleer. Op die varkies se televisieskerm verskyn byvoorbeeld verskillende TV-programme wanneer jy daarop druk – soos Survivor: Plaaswerf met die leuse Beplan. Bevriend. Bevark.

Dié prettige app is deur Marike Beyleveld van die maatskappy Full Circle ontwerp. Beyleveld sê die grootste uitdaging met die skep van sulke tegnologie, is om deurentyd op die hoogte te bly van wat in die mark gebeur.

“Ons moes ’n hele stel nuwe vaardighede aanleer. Dit is nie meer net ’n goeie storie en illustrasies nie. Ons moet nou weet hoe kinders dink, optree en reageer. Nuwe uitdagings moet in ag geneem word, byvoorbeeld klein ogies wat gou verward raak tussen alles wat op die skerm gebeur en vingertjies wat maar nog lomp is met die interaksie. Die lekkerste van hierdie projek was die spanwerk en die uitdaging om al ons nuutgevonde kennis te gebruik sodat kinders die app oor en oor sal luister, lees en speel, want dan is ons suksesvol! As ouers boonop ook vasgenael voor die app sit, is ons baie suksesvol!”

Die bekroonde kinderboekillustreerder Maja Sereda het die humoristiese, kleurvolle illustrasies gedoen, in eg Suid-Afrikaanse styl. Die derde varkie se huisie spog byvoorbeeld met drie kitsch-eendjies en die otjieweergawe van Tretchikoff se Chinese Meisie teen die muur, en die varkies eet aan die einde lustig koeksisters om hul oorwinning oor die wolf te vier.

Sereda sê dié nuwe illustreer-uitdaging het haar toegelaat om lekker te eksperimenteer.

“My doelwit was om hierdie wonderlike klassieke sprokie ’n uniek Suid-Afrikaanse geur te gee en hopelik sodoende meer kinders by die storie te betrek. My inspirasie was Suid-Afrikaanse landskappe, diere en plante, sowel as ons kultuur. In ’n aantal tonele sal lesers oulike en prettige Afrikadiere teëkom waarmee hulle interaktief kan speel. Maar my gunstelingskeppings was die drie ekstra karakters in die storie – die seekoei, die leeu en die olifant. Ek hoop kinders gaan ook van hulle hou!”

Met die iPad wat wêreldwyd ’n toenemend gewilde leesplatform word, is daar tans ’n groot tekort aan Afrikaanse materiaal vir kinders. Met Die Drie Varkies bewys LAPA dat hy op die voorpunt van innovering in die plaaslike kinderboekmark is. Daar is planne om die app binnekort ook in ander Suid-Afrikaanse landstale beskikbaar te stel.
Die drie varkies is op Apple se iStore beskikbaar en kos $4,99.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.