Leon van Nierop sê hy was vier jaar oud toe hy die eerste keer gaan fliek het. “Dit was by ʼn kerk- of skoolsaal, ek kan nie onthou nie, en daar het gestaan ‘Daar doer in die bosveld – Jamie Uys’. Ek kon dit natuurlik nie lees nie, maar ek het my ouma gevra. Ek het dadelik van die woord ‘doer’ gehou.”
Leon meen dis waar die titel van sy nuwe boek, Daar doer in die fliek, vandaan kom. Dié boekbekendstelling het gister in Brooklyn plaasgevind waar Leon oor die rolprentbedryf gesels het. “Ek vertel vreeslik baie stories in die boek waarvan niemand weet nie.”
Daar doer in die fliek is Leon se huldeblyk aan die Afrikaanse rolprentbedryf, ʼn boek waarin hy die beste Afrikaanse rolprente en staaltjies bespreek.
“Ons het baie foute in die verlede gemaak – almal wat altyd oor die verlede skryf, skryf net altyd in heilige aanbidding oor wat gebeur het, maar daar het verskrik baie dinge verkeerd gegaan. Iemand moet dit sê.”
Maar Leon sê hy noem ook in die boek wat dié bedryf reg gedoen het. “As die ou pioniers nie daardie foute gemaak het nie, as hulle nie begin het om die hoekstene te plaas nie, kon ons nie verder bou nie.”
Leon het ook met geesdrif oor die rolprent Dis ek, Anna gepraat, wat die no. 1-plek op sy lys van tien beste Afrikaanse rolprente gemaak het. Lees hier om te sien watter ander rolprente dié lys gehaal het.
Kyk na die video waar Leon ʼn staaltjie oor ʼn bekende regisseur vertel. Waarskuwing: Leon gebruik ʼn enkele kragwoord in dié video.
Laat my so ver terugdink. Die “vloekwoord” was algemene omgangstaal waar ek groot geword het maar die 3 letter weergawe was taboe! Ai, die wonder van taal en die mense wat dit gebruik, tog!