Video: Nova: Bloedbroers

Fanie Viljoen

Terwyl Lucas en sy vriende probeer om Ayanda se dood te verwerk, word hulle gekonfronteer met vreemde gebeure: ‘n misterieuse bol lig, so groot soos ‘n rugbybal, hang in die donker buite Brandon-hulle se huis; ‘n massiewe swart trok ry Nova se strate binne en verdwyn in die Hok. Die skool word ook skielik ontruim wanneer ‘n vuur uitbreek en dele van die skool ontplof. Al die leerders en onderwysers soek skuiling in ‘n ondergrondse bunker.

Om sake te vererger vertel Lucas se ma vir hom ‘n geheim… Dit keer sy hele wêreld om en hy kan nie help as om anders na homself en sy vriende te kyk nie.

Wanneer Duart uitvind van die geheim, kom daar ‘n breuk in sy en Lucas se vriendskap. Wanneer hulle toegesluit word in ‘n klein, leë stoorkamer binne die Hok, breek daar selfs ‘n rowwe stoeigeveg uit tussen die twee.

Die vure en ontploffings dring nou selfs die Hok binne, en terwyl Lucas-hulle probeer vlug, kom hulle af op laboratoriums waar ruimtewesens aangehou word. Van hulle lyk soos die wesens wat in Nova: die begin in die rivier was, ander lyk meer soos ruimtewesens, en nog ander lyk soos mense.

In die klimaks maak die Sterreloper vir die eerste keer sy verskyning, maar Lucas-hulle kan nie sien wie hy is nie. Hy stel hulle voor ‘n moeilike keuse: om hulself te red, of om ‘n vriend te red.

Hierdie is die derde boek in die baie gewilde wetenskapfiksie-reeks waarvan die eerste boek, Nova: die begin, se eerste oplaag binne die eerste vyf maande uitverkoop het.

Die reeks:
1. Nova: Die Begin
2. Nova: Vuurdoop
3. Nova: Bloedbroers

Oor die outeur:
Fanie Viljoen woon die afgelope 9 jaar in Bloemfontein. Hy is een van Suid-Afrika se gerekende kinderboekskrywers. Sy werk is met verskeie toekennings bekroon. Hy skryf kinder- en jeugboeke omdat daar nie grense is aan kinders se verbeelding nie. Sy werk sluit in 13 Spookstories en die gewilde Slym-reeks.

Uitgewer: Lapa
Prys: R90-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.