Video: Nuwe boek oor konsentrasiekampe onthul

Die name van meer as 34 000 vroue, kinders en mans wat gedurende die Anglo-Boereoorlog in Britse konsentrasiekampe gesterf het, is Dinsdag as deel van die herdenking van 110 jaar sedert die beëindiging van die oorlog teen die Voortrekkermonument in Pretoria onthul.

Tydens die geleentheid is Kraal-Uitgewers (die uitgewersmaatskappy van die Solidariteit Beweging) se jongste boek in die Erwe van ons vaad’re-reeks, Onthou! Kronieke van vroue en kinderlydig, 1899-1902, bekendgestel.

Die onthulling is veral merkwaardig aangesien dit vroeëre syfers oor die aantal sterftes in konsentrasiekampe verkeerd bewys. Die sterftelys* is opgestel na aanleiding van jarelange navorsing wat die navorser Celeste Reynolds oor die onderwerp gedoen het.

Volgens dr Dirk Hermann, voorsitter van Kraal-Uitgewers se direksie en adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, is hierdie navorsing merkwaardig aangesien dit as’t ware die geskiedenis oor die Anglo-Boereoorlog herskryf. Vir meer as 100 jaar word daar geglo dat daar nagenoeg 27 000 vroue en kinders in konsentrasiekampe gesterf het, maar hierdie nuwe navorsing bewys dat die werklike omvang van sterftes in en as gevolg van die konsentrasiekampe met minstens 7 000 sterftes onderskat is.

Die onthulling is vandag by Kraal-Uitgewers se herdenking van 110 jaar sedert die einde van die oorlog gedoen. Die 34 000 name, vanne en ouderdomme van mense wat in en as gevolg van die kampe gesterf het, is op massiewe baniere teen die kant van die Voortrekkermonument onthul. Die woord “Onthou” verskyn aan die bokant van die baniere en dra die boodskap oor dat die lyding van diegene wat as gevolg van die Britte se verskroeideaardebeleid gesterf het, onthou moet word.

Die boek is deur AWG Raath van die Universiteit van die Vrystaat en Elria Wessels van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein geskryf en saamgestel.

* Die Reynolds-sterftelys is nie by Onthou! ingesluit nie, maar sal na verwagting binnekort in ’n aparte publikasie oor die konsentrasiekampe verskyn.

http://youtu.be/fgcCpuCCZMA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.