Die koffie en koek staan vroegdag gereed by die veteraan-fotojoernalis Wessel Oosthuizen se huis in Johannesburg. “Ek het die koek self gekoop,” spot Wessel terwyl hy die ketel aanskakel en iets te drinke aanbied.
Op 80 is dié eertydse koerantman nog jonk van gees. Hoewel hy reeds op 65 as fotoredakteur van The Citizen afgetree het, is stilsit en oudword allermins vir hom ʼn opsie.
Hy het juis onlangs ʼn versamelboek, getiteld Koerantman: My lewe in drukkersink, met hoogtepunte van sy loopbaan uitgegee. In dié boek met 556 bladsye word talle stories, herinneringe aan mense en gebeurtenisse, en duisende foto’s wat Wessel gedurende sy lewe as koerantman geneem het, geboekstaaf.
“Oor die afgelope 60 jaar het ek hordes geskiedkundige oomblikke op film vasgelê. Ek was by meer internasionale rugbywedstryde, krieketwedstryde, atletiekbyeenkomste en bokstoernooie as wat ek kan onthou.
“Daar is ʼn legio hoogtepunte wat ek ervaar het. Ek was byvoorbeeld die enigste Suid-Afrikaanse fotograaf wat al drie wêreldbeker-rugbytoernooie gedek het wat Suid-Afrika gedurende my tyd gewen het,” vertel Wessel.
- Anneline Kriel (Foto: Wessel Oosthuizen)
- Elroy Bumper Gouws (Foto: Wessel Oosthuizen)
Sy huis is ʼn uitstalruimte vir dekades se foto’s wat teen die mure hang, en elke foto kom met sy eie storie. In een foto glimlag oudpres. Nelson Mandela, en op ʼn ander een is die voormalige Russiese gimnas Elena Zamolodchikova in aksie. Talle van die foto’s is deur die persoon wat afgeneem is, geteken. Soos die een van Oscar Pistorius waar hy oor die wenstreep snel en nog een van Vasily Tsibliyev, ʼn Russiese ruimtevaarder.
Dit is stories wat Wessel nie sonder ʼn goeie skeut toewyding deur sy lens kon vertel nie. “Ander mense sit van agt tot vyf in ʼn kantoor by ʼn lessenaar, maar enige joernalis en fotograaf sal weet dat dit ʼn beroep is wat baie van jou persoonlike tyd vereis. Naweek ná naweek, en selfs op weeksdae, was ek plaaslik en internasionaal langs sportvelde en in arenas; selfs buite my amptelike werkstyd.”
Wessel se harde werk het beslis vrugte afgewerp as ʼn mens hoor van die toekennings en eerbewyse wat hy oor die jare ontvang het.
Van die eerste pryse wat hy gewen het, was in 1970 vir sportfoto van die jaar. Dit was ʼn foto waar Frik du Preez die All Black-skrumskakel Chris Laidlaw plat duik. In 2006 is hy met die Sasol Springbok-toekenning bekroon vir fotograaf van die jaar en in 2019 het SA Brouery die foto waar Beaden Barrett van die All Blacks tydens die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan vir Cheslin Kolbe afbring, as aksiefoto van die jaar aangewys.
Wanneer Wessel oor hierdie bewyse gesels, is dit nie grootpraterig nie. Trouens, hy wil graag hê dat mense weet hy kom uit nederige omstandighede uit, en dat die wêreld aansienlik anders lyk as toe hy jonk was.
“Ons was ʼn hegte gesin, en as kind het ons saam om die kombuistafel gesit en eet, maar ons het niks gehad wat jy vandag as vanselfsprekend kan aanvaar nie.

Wessel Oosthuizen het ‘n fotoboek ‘Koerantman: My lewe in drukkersink’ met hoogtepunte uit sy loopbaan gepubliseer. (Foto: Maroela Media)
“My pa het nooit ʼn motor gehad nie en nie een van ons kinders het ooit ʼn fiets besit nie. Daar was ook nie yskaste, ligte of telefone in ons huis nie. Die luuksheid om saam met ministers en presidente by staatsdinees te wees, het eers later in my loopbaan gekom. Dit is nie iets waaraan ek gewoond was nie; ek was ʼn hele paar keer in die verleentheid,” vertel Wessel verder.
Die onderhoud met Wessel duur ʼn paar uur, maar tog voel die oomblik vlietend. Sy staaltjies oor die dag toe hy in ʼn Suid-Viëtnamese oorlogsone vir sy lewe gevrees en ʼn groot les daaruit geleer het, hoe sy loopbaan in 1962 by Die Vaderland begin het, en die jaar toe hy sneeurugby in Moskou afgeneem het, is enkele van die oomblikke wat hy in ʼn video-onderhoud met Maroela Media vertel.
Hier volg ʼn paar video-onderhoude met Wessel Oosthuizen:
Alles wat Wessel Oosthuizen van fotografie weet, het hy deur ervaring geleer. In hierdie video vertel hy dat hy eintlik nooit beplan of geweet het dat hy ʼn loopbaan of lewe uit fotografie gaan maak nie.
Wessel se droom om professioneel rugby te speel was van korte duur, maar toe leef hy sy liefde vir dié sport op die kantlyn uit. Dit het hom ook gelei tot in Rusland by ʼn sneeu-rugbytoernooi.
Wessel kan vandag skerts oor die dag toe hy vir sy lewe gevrees het, maar in daardie oomblik in Suid-Viëtnam het hy nie gelag nie. Dit is een van die vele staaltjies uit sy loopbaan wat Wessel in hierdie video vertel.
Wessel se jongste boek, Koerantman: My lewe in drukkersink, is ʼn versamelaarsitem met uitgesoekte foto’s en stories waarmee hy sy omvangryke loopbaan vasvang.