Vier digters en hulle bundels

Dit is verblydend dat poësie ’n definitiewe terugkeer gemaak het. Dit is ook weer die inding om vir iemand ’n digbundel as geskenk te gee. En waarom nie? Gedigte is boonop die perfekte pasmaat tydens beurtkrag. Dink net – ’n flikkerende kers, ’n glas wyn, en verse wat jy proe-proe lees en oordink …

Die waarheid oor duiwe

(Gisela Ullyatt) Protea Boekhuis

Gisela Ullyatt, ’n dosent in Engels by die Fort Hare Universiteit, se lankverwagte debuutbundel word met opgewondenheid ontvang. Haar gedig die eksodus van ouma martha (na Marlene Dumas se skildery, Martha – my ouma), het my diep geraak, veral die volgende vers: “oor haar swartkappiejare in die kakies se kamp / rep sy geen woord / sou sy droom dat die doodsengel / haar deurkosyn kom salf / haar eersgeborene terugbring?”

Hoeveel geskiedenis, seer en verlange lê nie in hierdie bedrieglik eenvoudige paar woorde opgesluit nie! Vir my is dit ’n treffende voorbeeld van die kragtige wyse waarop lesers van poësie verplaas kan word na ’n ruimte weliswaar buite hul eie onmiddellike ervaringsveld maar waarvan hul bewussyn tog kollektief deel is van.

Die uitgewersbrief het dit eens dat die bundel handel oor intieme ruimtes, jeugherinneringe en verlies.

Tussenganger

(Marius Crous) Protea Boekhuis

Marius Crous, ’n dosent aan die Nelson Mandela-Universiteit, se bundel sal veral digliefhebbers van intellektueel uitdagende poësie met hier en daar religieuse ondertone se belangstelling prikkel.

Die gedigte vra deeglike ondersoeking en nabetragting, maar die beloning is oorvloedig vir hulle wat die lae van die ui onverskrokke afskil.

Digter en resensent Louis Esterhuizen merk tereg op dat Tussenganger die werk is van ’n digter wat in die volle krag van sowel sy eie kreatiewe denke as vakkundige vernuf staan.

Die bundel konfronteer, daag uit en stroop. Ek bespeur onder meer sinisme en ontnugtering tussen die lyne – sekerlik bewustelik ingespan as wapen om lesers uit te lok om bestekopname te neem. Die eerste strofe van Chengguan gaan só: “dungchen-trompette / maak nie die mense en honde / van Ihasa wakker / ’n blikkerige jiang qing-namaaksel / skrou uit ’n luidspreker / aanmekaargelap uit oorskietdele”.

Oolog

(Nathan Trantraal) Kwela Boeke

Nathan Trantraal, tans besig met ’n MA-graad aan Rhodes-Universiteit, se nuutste digbundel verse piets lesers geniepsig soos ’n verwoede perdeby – veral in die slotreëls. Dié uiters talentvolle digter vuur sekuur en met voorbedagte rade. Hy is ten volle in beheer van die woorde wat hy doelgerig en oënskynlik moeiteloos verweef om lesers te neem na waar hý hulle wil hê.

Nie net plant hy die saad nie, hy bind ook die lote op. Hy stel die teikens op én hy laai die loop.

Die gedigte is visueel én narratief sterk geskryf in verbeeldingryke Kaaps. Elke woord is deeglik geweeg en oor besin. Dit steek – dikwels seer, soms verrassend, en altyd vreesloos – met die insig wat net ’n ou en ontnugterde siel kan hê.

Die eeueoue stryd tussen lig en donker word oopgeskryf in ’n ontploffing van konflik en oorlogvoering op groot en minuskule skaal. Daar buite en hier binne. Die slotstrofe van Insoluble gaan só: “Ek sou die body opgie / Maa it raak onmoontlik om / jouself op te hang / innie badkame / agterie een dee innie hys wat slyt / As daa elke twiede miniet / ieman annie dee klop / en vra of jy nog lank / gan biesag wies”.

Chinatown

(Ronelda S. Kamfer) Kwela Boeke

Ronelda S Kamfer, met ’n honneursgraad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland en ’n meestersgraad in skeppende skryfkuns aan Rhodes-Universiteit in haar sak, se bundel lewer sosio-politieke kommentaar wat lesers uit hulle gemaksones lig.

Haar verse het my laat kriewel, want dit slaan ongenadig hard en onapologeties. Moedswillig ook.

Ek vermoed dat ’n kletsrymer sommige van Kamfer se gedigte tot iets subliems sal verhef wat in die strate gedreunsang kan word. Maar, ten spyte van haar uitdagende skrywerstem, is daar ook ’n weerloosheid (en daarmee saam die oorlewingsdrang) wat na vore tree, soos bv. in Babes: “as die pa van jou kind sy nuwe / baby se ma slaan / leer haar hoe om met kookwater te skiet”.

Sy dig só in Beckenbauer: “ek is passive aggressive tot / iemand vir my vra hoekom arm mense / so baie geld waste op expensive sport brands / dan zip ek jou op soos my Adidas Beckenbauer top”.

Al vier bogenoemde digbundels is tans in die handel beskikbaar.

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae