Van ʼn getuienis oor die daaglikse wandeling saam met God en kortverhale oor geloof- en grondpadreise deur Suid-Afrika, na ʼn lewensverhaal wat vertel van God se genade.
Hier is ʼn kort samestelling van Afrikaanse boeke oor groei, lewensreise en nuwe seisoene.
Onbeskryflike genade deur Stefaans Coetzee (NB-Uitgewers)
In Onbeskryflike genade skryf Stefaans Coetzee oor die moeilike pad wat hy gestap het om te wees waar hy vandag is. Hy begin by die komplekse verhouding met sy pa, Fielies, wat ondanks ʼn alkoholverslawing ʼn liefdevolle verhouding met hom en sy susters gehad het, en die verwerping wat hy van sy ma af ontvang het. Coetzee brei ook uit op sy tyd in die tronk, waar hy sowat 19 jaar tronkstraf uitgedien het, en hoe hy God een aand opnuut gevind het.
- Luister hier na ʼn onderhoud met Coetzee in Maroela Media se ateljee.
- Die boek kos R260 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.
Bakens van geloof deur Ilse Roux (Lapa Uitgewers)
Met Bakens van geloof lewer Ilse Roux, ʼn suksesvolle entrepreneur en modeontwerper, ʼn getuienis van haar ervaring om daagliks saam met God te wandel. Sy hoop om op hierdie manier vir lesers ʼn voorskou te gee van hoe groot en tasbaar God se goedheid teenoor sy kinders is. Sy het die waarde daarvan besef om in kinderlike geloof op God se Woord te vertrou en die vrug daarvan in haar en haar gesin se lewens beleef.
- Die boek kos R230 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.
Onder ʼn bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika deur Annemarié van Niekerk (NB-Uitgewers)
Die skrywer Annemarié van Niekerk, wat in Den Haag in Nederland woon, kom in Suid-Afrika aan vir die begrafnis van haar geliefde vriend, Ruben. Ruben en sy ma is op hulle plaas in die Oos-Kaap vermoor.
In Onder ʼn bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika neem Van Niekerk lesers saam met haar op reis na die verlede en herinneringe aan verskillende lewensfases. Sy vervleg haar persoonlike verhaal met sosiale kwessies in Suid-Afrika, soos geweld teen vroue, magteloosheid en skuldgevoelens.
- Die boek kos R350 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.
Die binneland in deur Dana Snyman (NB-Uitgewers)
Geloof is ʼn sentrale tema in Dana Snyman se jongste kortverhaalbundel, Die binneland in. In dié boek vertel Snyman die storie van sy eerste bekering by ʼn avontuurkamp tydens sy laerskooldae, en waar hy ʼn kers in ʼn Franse katedraal aansteek.
Sy stories gaan ook oor die nadraai van die pandemie, beurtkrag, die oorlog in Oekraïne en die politiek. Hy ervaar hoe mense moed opgee as gevolg van die omstandighede in die land, en met hulself.
- Luister hier na ʼn onderhoud met Snyman in Maroela Media se ateljee.
- Die binneland in kos R310 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.
Poskaarte van ʼn reis deur Jacqueline Leuvennink (Lapa Uitgewers)
Jacqueline Leuvennink se jongste boek, Poskaarte van ʼn reis, bevat ʼn keur van haar rubrieke en artikels wat oor die jare in menige tydskrifte verskyn het. Sy nooi lesers om haar op ver reise na interessante bestemmings en inspirerende ervarings, te vergesel. Die stories staan los van mekaar en is dus ideaal vir lesers wat nie baie tyd het om te lees nie.
- Die boek kos R250 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.
Nog aanbevelings
- Dan sien ons mekaar deur James Scott (Protea Boekhuis)
- Kammawaarwêreld deur Estelle Kruger (Naledi)
- Die geheime klippieklub deur Erla-Mari Diedericks (VivA Uitgewers)