Voormalige ekonoom deel kaalkopwaarheid oor AHi

Tom Moodie gesels met Theuns Eloff oor sy boek ‘AHi: Die Afrikaanse Handelsinstituut’ wat pas verskyn het. (Foto: Verskaf)

Tom Moodie, voormalige ekonoom van Saambou Nasionale Bouvereniging en skrywer van Die Saambou Debakel, se boek oor die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi) is Dinsdag in samewerking met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) by die Voortrekkermonument in Pretoria bekendgestel.

Moodie het ondanks ʼn gebrek aan populêre aanvraag steeds besluit om die boek te skryf. “Ek het gedink die AHi was altyd ʼn belangrike organisasie, maar in talle gesprekke met mense, was dit duidelik dat hulle nie weet waar die AHi vandaan kom nie.”

Theuns Eloff, voorsitter van die Dagbreek Trust en voormalige visekanselier van die NWU, het as gesprekleier by die geleentheid opgetree. Eloff, wat in 2009 visepresident en in 2011 president van die AHi was, bestempel Moodie se boek as baanbrekerswerk wat nie misgekyk moet word nie. “Ons kan leer uit die goeie werk wat Tom gedoen het.”

Moodie (77) se verbintenis met die AHi strek oor meer as vier dekades. Die verhaal en gebeure van hoe die instelling oor ʼn tydperk van meer as 50 jaar van ʼn nederige posisie tot leierskap gegroei het en in minder as 20 jaar gekwyn het, is een van die onderwerpe wat hy in sy boek bespreek. Op die kruin van sy bestaan het die AHi meer as 9 000 Afrikaanse sakeondernemings verteenwoordig.

“Ek het nooit net op ʼn dag bewus geword van die bestaan van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi) nie. Soos met vele ander instellings, word ʼn mens groot in ʼn samelewing waar dinge soos jou skool, die kerk en die regering eenvoudig deel is van die omgewing. So was dit ook vir my met die AHi; dit was asof dié organisasie nog altyd bestaan het.” – Dawie Roodt, Voorwoord

Moodie deel ook hoogte- en laagtepunte, waarhede oor wat agter die skerms gebeur het, hoe geleidelike verengelsing die organisasie, nou bekend as die Small Business Institute (SBI), beïnvloed het, en gebeure wat daartoe gelei het dat die AHi in 2017 ontbind.

Ná die Anglo-Boereoorlog, die Rebellie van 1914 en 1930-depressiejare het die Afrikaner ʼn opstaantydperk beleef waar gemeenskapsinstellings opgerig is en ekonomiese kragte saamgespan is in ʼn poging om oorlewing.

Tom Moodie het ondanks ʼn gebrek aan populêre aanvraag steeds besluit om sy boek oor die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi) te skryf. (Foto: Verskaf)

Die AHi het in die 1930’s saam met talle ander gemeenskapsinstellings soos Sanlam, Santam, Volkskas, die ATKV en die Afrikaner-Broederbond tot stand gekom.

Die algemene besef was dat daar nie op ekonomiese bemagtiging deur die staat gereken moet word nie en volgens Moodie is daar nou weer só opstaanperiode met organisasies soos Sakeliga, AfriForum Sakenetwerk en die SBI wat die voortou neem.

“Dit is ʼn verhaal van idealisme, moed en durf, maar ook van individuele ambisies, persoonlikheidsbotsings, minder goeie besluite by tye en gebrekkige insig aan die kant van leiers wat gaandeweg die waardes en fondamente waarop die organisasie gebou is, laat vermurwe het,” verduidelik hy.

AHi: Die Afrikaanse Handelsinstituut is moontlik gemaak deur ʼn ruim finansiële bydrae van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die boek kan bestel word deur ʼn e-pos te stuur na [email protected]. Dit is deur Malan Media uitgegee en kos R280 (prys onderworpe aan verandering).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

anniekiewiet ·

“Dit is ʼn verhaal van idealisme, moed en durf, maar ook van individuele ambisies, persoonlikheidsbotsings, minder goeie besluite by tye en gebrekkige insig aan die kant van leiers wat gaandeweg die waardes en fondamente waarop die organisasie gebou is, laat vermurwe het,” verduidelik hy…. Wat ‘n hartseer einde vir so ‘n wonderlike instansie en veral dat dit vermurwe het agv leiers se gebrekkige insig. Ek het nie die boek nie, maar wonder sommer hoekom daai leiers dit laat gebeur het. Ook dalk maar eiewaan en eie finansiële belang…?

Kokkie ·

In Engels is daar ‘n gesegde wat lui: the main thing is to keep the main thing the main thing. En dit is myns insiens waar sommige leiers die bal laat val het, selfs onkant gespeel het. Hulle het hulle oë van die ‘main thing’ afgehaal vir ander (ook eie gewin ) redes , met die gevolg dat die oorspronklik bedoelde ‘ main thing’ nie meer die ‘main thing’ gebly het nie. En dit is daar waar die oorspronklike waardes en fondamente verlore geraak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.