Voorskoolse sorgsentrums kry boekskenkings

Eva Bosnjakovic en Mirjam Leemans- Kneppers (van Wings of support) en onderwysers Thalita Cumi Dagsorg

Eva Bosnjakovic en Mirjam Leemans-Kneppers van Wings of Support saam met die onderwysers van Thalita Cumi Dagsorg. Foto: Verskaf.

Johannesburg se stadsbiblioteek-en-inligtingsdiens het in samewerking met die niewinsgewende organisasie Biblionef boeke en speelgoed aan 50 sorgsentrums vir voorskoolse kinders geskenk. Dié skenking bevoordeel van die armste Suid-Afrikaanse gemeenskappe.

Biblionef Suid-Afrika het ʼn R156 000 skenking van Wings of Support, ʼn inisiatief van die lugrederye KLM en Martinair, ontvang. Twee personeellede van die rederye het die oorhandiging aan die begin van April bygewoon.

“Onderrig is een van die grootste uitdagings in Suid-Afrika en die vroeë ontwikkeling van kinders is krities,” het Nobuntu Mpendulo, direkteur van Johannesburg se stadsbiblioteek-en-inligtingdiensdirektoraat, gesê.

“As ons boeke vir kinders kan voorsien en hulle opgewonde oor lees maak voordat hulle die grondslagfase van die skoolstelsel bereik, is ons beter resultate in die latere fases gewaarborg. Dit gaan oor die opheffing van die minder gegoede gemeenskappe, en oor die kinders wat toegang tot hierdie boeke moet hê om hulle lewens positief te beïnvloed,” het sy gesê.

Die veldtog is deel van die Stad van Johannesburg se groei-en-ontwikkelingstrategie (GDS) vir 2040 en ondersteun die vroeë kinderontwikkelingstrategie van toenemende geletterdheid, vaardighede en lewenslange leer.

Dit sluit aan by die visie van Biblionef wat kinders wil help om goeie besluite te maak deur krities te dink en om gebalanseerde en produktiewe lewens te lei, om lesers te kweek wat kinders kan opvoed en help met besluitneming en om kinders toegang tot boeke te gee om ʼn geleentheid te skep vir almal om te kan leer.

Biblionef Suid-Afrika het sedert 1998 meer as 900 sorgsentrums vir voorskoolse kinders ondersteun deur boeke in al die amptelike Suid-Afrikaanse landstale beskikbaar te stel vir die kinders. Die organisasie skenk maandeliks 12 000 boeke wat deur die jare meer as 4 miljoen kinders bereik het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.