Voortrekkers hou ná 90 jaar steeds koers

Dr. Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, is in gesprek met Daniëlla van Heerden, joernalis en eNuus-nuusleser, tydens die bekendstelling van ‘Die Voortrekkers hou koers!’ (Foto: Verskaf)

“Die Voortrekkerstorie is die verhaal van ʼn beweging wat oor dekades en geslagte unieke inhoud aan Afrikanerkultuur gee deur die vorming van jong Afrikaners se kulturele karakter.”

Só sê dr. Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, wat Die Voortrekkers hou koers! verlede jaar tydens die Covid-19-inperking geskryf het. Dié boek is ʼn viering van die Voortrekkers se 90ste bestaansjaar en is Vrydagaand by die Voortrekkermonument in Pretoria bekendgestel.

Langner meen as dit nie vir die Covid-19-pandemie en streng inperking was nie, het die boek waarskynlik nie die lig gesien nie.

“Die grendeltyd was ʼn onverwagse maar gulde geleentheid om dié deeglike en omvattende bronnestudie te voltooi,” sê hy. “Die verhaal van die Voortrekkers is ongetwyfeld een van die Afrikaner se mooiste kultuurstories.”

Langner is die tiende hoofleier van die Voortrekkers en eerste Presidentsverkenner wat dié posisie beklee. Hy dien ook as uitvoerende hoof van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK).

Die Voortrekkers hou koers! is ʼn diepgaande studie oor dié jeugorganisasie se geskiedenis. Dit bestaan uit hoofbestuursnotules, jaarblaaie, Voortrekkerliteratuur, herinneringe aan huidige en oud-Voortrekkers en bykans 500 historiese foto’s. Te danke aan die bronne wat geraadpleeg is, het ʼn uitsonderlike kultuurverhaal oor die wel en wee, asook die hoogte- en laagtepunte van ʼn dinamiese kultuurorganisasie ontvou.

“Die Voortrekkerstorie getuig van planne, vars denke, aanpasbaarheid, hoëfunksieprestasies en die kultuurhistoriese ontwikkeling van Afrikaners se kulturele identiteit oor die afgelope nege dekades. Dit is ʼn storie met ʼn oop einde wat vandag steeds geskryf word,” sê Langner.

Die kultuurstorie van die Voortrekkers is ʼn verhaal van vrywilligers wat hul vrye tyd gebruik om graadwielboeke, handleidings en ander literatuur te skryf, vertel Langner. Dit vertel ook die verhaal van dr. NJ van der Merwe, stigter van die Voortrekkers, se droom van meer as ʼn eeu gelede en wat oor dekades deur tallose vrywilligers uitgebou is, sodat daar vandag ʼn Afrikaanse jeugvereniging bestaan wat die toets van tyd deurstaan het.

“Vandag word die Voortrekkers beskou as ʼn dinamiese en eietydse kultuurorganisasie, relevant vir sy lede, maar steeds gewortel in waardes wat vasstaan sedert die stigting in 1931,” meen Langner. Geboue, spankamers en kampterreine is deur harde werk en innoverende denke tot spogprodukte ontwikkel.

Volgens Langner is dit boonop ʼn storie van sente omdraai, moue oprol, vasbyt en hard werk; betrokkenheid, praktiese omgee en diensbaarheid in plaaslike gemeenskappe; deursettingsvermoë, toewyding en opoffering; asook ʼn storie van historiese feeste, monumente bou en erfenisse bewaar.

Die Voortrekkers hou koers! is ʼn inspirasiestorie van wat moontlik is wanneer mense hande vat en kinders begelei omdat liefde en omgee vir hul kultuureie die dryfkrag van diensbaarheid is,” sê hy.

Buiten die boek beoog die organisasie om later vanjaar landwyd feeste aan te bied. ʼn Spesiale lied, “Die spore wat ons los”, wat deur Johan Vorster geskryf en getoonset is en deur Adam Tas gesing word, word ook binnekort uitgereik.

Die Voortrekkers hou koers! is Vrydagaand in die Voortrekkersaal by die Voortrekkermonument in Pretoria bekendgestel. Daniëlla van Heerden, joernalis en eNuus-nuusleser, het met Langner oor die boek gesels en Pieter Smith het met sy sang en staaltjies vir groot vermaak gesorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.