Kits cappucino: Vreemd, vreemder, veearts!

Hierdie is nie vir sensitiewe lesers nie… probleem is net, nou weet ek almal gaan dit lees! Dis amper soos parental guidance wat eintlik gebruik word om flieks mee te verkoop. O, wel…

So skop 2012 toe af met ‘n besoek aan die veearts. Gelukkig hierdie keer nie om ‘n pofadder-byt, vishoek of vreemde-voorwerp-ingesluk-probleem op te los nie. Kom ons stel dit so: ek en my man is nou die enigste twee op die werf wat kan voortplant.

‘n Vriendin het my so ‘n ruk terug belowe dat kinders grootmaak eintlik maar net soos honde grootmaak is. “Al verskil,” het sy gesê, “is dat nie almal hulle honde soos kinders grootmaak nie!” Nou ek is een van daai. My honde is meestal fisies, emosioneel en geestelik in ‘n beter toestand as ek. Daarom was my eerste besoek aan die veearts op die platteland, ‘n paar jaar terug, hoogs emosioneel.

Kom laat ek julle vertel – daar is geen suurstofmaskers of hartmonitors in ‘n veearts se “teater” nie. Boggeroll. En as jy nie jouself uit die voete maak nie, word die operasie sommer voor jou gedoen. Deur die genade kon ek destyds myself tot buite die geboutjie sleep en ‘n paar minute later is my hart se punt op ‘n kruiwa na my kar toe gestoot. Met so kop wat eenkant afhang en sy pienk tong wat amper op die grond sleep… Phew! Hoe anders vervoer ‘n mens nou ‘n 60kg aan-die-slaap boerboel? het my man probeer troos. Ek weet nie!! Op ‘n draagbaar… of iets.

Mettertyd het ek gewoond geraak daaraan dat noodprosedures op ‘n lessenaar gedoen kan word, of sommer op jou voorstoep (!). Maar vanoggend het ek weereens besef, Afrika is nie vir sissies nie, en ‘n veearts wat na die hele distrik se kuddes moet kyk, werk meestal teen tyd. En teen ‘n spoed.

Woedend om sy manlikheid prys te gee, het drie volwasse mans gespook om ons boerboel bo van die bakkie af te kry. Met toue en kettings en ‘n toneel wat herinner aan ‘n psigiatriese riller, het die veearts uiteindelik die naald ingekry… en boetie het begin slaap. Die keer was die kruiwa te ver en het hulle hom sommer hammer-spyker op die tafel gekry. In die hoek het die veearts se eie hond nuuskierig lê en kyk…

Tien minute later, was alles verby. “Jy sal hom moet hanteer,” het die veearts gesê toe my baba sommer daar en dan wil opstaan en weer begin byt. “Hy gaan baie kwaai wees as hy groot is.” Eers wou ek vra is 65kg nie groot genoeg nie? Toe wou ek weet presies hoe hardhandig ek hom moet hanteer? Toe maak my man vir my grootoë en verduidelik in die bakkie die veearts bedoel ek moet hom leer om aan ‘n halsband te loop. As mans net wil ophou om in kodes te praat…

O, ja. Die enigste ooreenkoms tussen die platteland en die stad, is die veearts se rekening.

Vir die nuwe jaar, wens ek dat daar iemand sal wees om jou in ‘n kruiwa te stoot wanneer jy dit nodig kry. En dat daar altyd iemand sal wees om jou te help. Al is dit ‘n veearts op die platteland!

Fran
X

Fran Mostert

Meer oor die skrywer: Fran Mostert

Fran is jou heel beste vriendin ... vir jare al versteek tussen die moets en moenies van elke dag. Haal haar uit, stof haar af! Want dis tyd dat julle twee lang koffies saam drink, lees, lag, huil, bak en plak. Fran vat die vervelige vaal uit jou lewe uit, en gee dit kleur!

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.