Vriendskappe tussen Boere en Russe in Afrikaans bekyk

Lika Gorokhowa, wat gehelp het met die boek se vertaling, het onlangs ook vir Flip Buys van die Solidariteit Beweging en Kallie Kriel van AfriForum ontmoet. (Foto: Kallie Kriel/Twitter.com)

Die hartlike verhouding wat daar tussen die Russe en Boere tydens en ná die Anglo-Boereoorlog bestaan het, word vandag weer in herinnering geroep met ’n boek Persoonlike vriendskappe: Boere en Russe wat binnekort amptelik bekendgestel word.

Die bekende sportfotograaf Wessel Oosthuizen en die bekende skrywer-historikus Nico Moolman is die skrywers van dié boek. Moolman is ook die skrywer van The Boer Whore en ander boeke oor die oorlog.

In Persoonlike vriendskappe: Boere en Russe skryf hy oor die betrekkinge tussen die Boere en die Russe gedurende die tydperk 1898 tot 1945.

Die boek is ook in Russies vertaal en Lika Gorokhowa (22), wat onlangs haar BA-graad in Afrikaans aan die Moskouse Staatsuniversiteit verwerf het én met die vertaling gehelp het, het verlede week in die land aangekom vir die bekendstelling.

“Dit is vir my ’n wonderlike eer om in die land te wees en die mense te ontmoet. Die mense is baie vriendelik en dit voel of alles vir my reeds bekend is,” vertel sy in vlot Afrikaans.

Sy het ook vir Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, ontmoet.

Haar keuse om Afrikaans te studeer is aangevuur ná sy die aktrise Charlize Theron op YouTube Afrikaans hoor praat het.

Gorokhowa en Oosthuizen is tans op toer deur die land en sy het vandeesweek ook vir Rene van Reenen (23), ’n derdejaarstudent van Orania, ontmoet. Van Reenen studeer elektriese ingenieurswese in Tomsk, Siberië. Sy kon weens Covid-19 nie vanjaar terugkeer om haar studies voort te sit nie, maar hoop om later vanjaar na Rusland terug te keer. Dié twee het dadelik by mekaar aanklank gevind en beplan om kontak te behou.

Gorokhowa en Oosthuizen gaan ook Stellenbosch toe waar hulle dr. Willem Botha, hoof van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) sal ontmoet asook die oudrugbyspeler Schalk Burger.

Hulle gaan ook in KwaZulu-Natal draai en ’n besoek bring aan die Bloedrivier Erfenisterrein.

Gorokhowa sien daarna uit om Moolman te ontmoet wat die historiese navorsing vir die boek gedoen het. Hy woon deesdae in Utrecht. Moolman is vroeër vanjaar deur die Russiese ambassade vereer vir sy navorsing oor die besonderse verbintenis wat daar tussen die Boere en Russe tydens die oorlog was.

Die Russiese ambassadeur in Suid-Afrika, Ilya Igorevich Rogachev, het in Maart ’n krans op die graf van ’n Russiese soldaat wat in die oorlog aan die Boere se kant geveg het, in Utrecht gaan lê. Op 31 Mei het hy en Kriel ook ’n krans by die Russiese Ortodokse Kerk in Midrand gelê ter viering van die Vrede van Vereeniging, wat op 31 Mei 1902 in Melrosehuis, Pretoria, onderteken is om die Anglo-Boereoorlog te beëindig. By die kerk is daar ook ’n gedenkmuur vir die Russiese vrywilligers wat aan Boerekant teen die Britte geveg het.

Oosthuizen het ’n groot liefde vir Rusland wat met gimnastiek begin het. Sy dogter, Heidi-Marie, was ’n gimnas en toe sy tien jaar oud was, het hy in 1987 die 24ste Wêreldkampioenskap vir artistiese gimnastiek in Rotterdam as persfotograaf bygewoon. By die eerste amptelike oefening van die Russiese span het hy, onder andere, vir Tatiana Tougikova afgeneem. Sy lyk baie soos Heidi-Marie en hy het haar na Suid-Afrika genooi om sy dogter te ontmoet. In 1991 het sy uiteindelik gekom en dit was die begin van ’n lewenslange vriendskap.

“Ek het deur die jare baie vriende in Rusland gemaak en die ongelooflikste mense ontmoet. Ek het daar besef die Rooi Gevaar wat aan ons voorgehou is, is eintlik die “Mooi Gevaar”.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Belinda ·

As ons vriendskap so “dik”is met die russians, hoekom kom haal hul nie?

Cherokee ·

Weet nie waarom jy geduimaf word vir ‘n tong in die kies sêding nie, Belinda. Mense na-aap mekaar.

daniel ·

Wie weet wat die toekoms vir ons inhou?. Wat ons dink gaan gebeur gebeur noodwendig nie, en wat ons die minste verwag gebeur gewoonlik.

marius ·

Rusland is nie die varke wat aan ons voorgehou is nie . Die weste met hul vroom gesigte wel .

Keelvol ·

Die russe het die terroriste opgelei om teen ons te baklei.

groenboer ·

Diegene wat naby genoeg is, kan gerus die Russiese Ortodokse katedraal in Centurion gaan besoek – daar is ‘n gedenkmuur daar ter herinnering aan drie Russiese vrywilligers wat in die Anglo-Boereoorlog dood is. Die ding is in Russies, maar mens herken sy doel aan die datums (1899 -1902) wat ook op hom staan. Die katedraal is boonop ‘n argitektoniese pragstuk. Tog jammer ons stug protestante kan nie ‘n blaadjie uit die Russe se kerkboutradisies neem nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.