Vroue deel verlies om hoop te bring  

Alta Strauss en Rene Roux het saam aan die digbundel geskryf. (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand vier Vrouemaand met ʼn bundel gedigte vir almal wat hoop in ʼn tyd van verlies moet skep.

Die digbundel, Steeds vrou, bevat 40 gedigte uit die pen van Alta Strauss, skrywer en motiveringspreker, en René Roux, adjunk-uitvoerende hoof van Helpende Hand.

Hannes Noëth, Solidariteit Helpende Hand se uitvoerende direkteur, sê die doel van die bundel is om mense hoop te gee deur na die voorbeeld van vrouwees te verwys.

“Oor die eeue heen is verlies deel van die vrou se menswees. Ten spyte van haar verlies is sy steeds die geliefde, die moeder, die versorger, die een wat atmosfeer aan die samelewing toevoeg en wat sagtheid bring. Haar vrouwees is sag, mooi en kosbaar. Haar geloof maak haar onwankelbaar, haar verlies maak haar sterker en haar hoop beskaam nie,” sê Noëth.

Hy sê albei skrywers het swaargekry met die saamstel van die bundel en “moes diep gaan grawe in al hulle onthou”.

“In ʼn wêreld vol gebrokenheid en baie stukkend en baie seer deel hulle so ʼn bietjie van hulle hart, ʼn bietjie van hulle verlies. ʼn Pa wat verdrink, ʼn ongebore baba wat sterf, ʼn swangerskap wat net nie wil gebeur nie, drome wat nie wil realiseer nie, intimiteit wat soek geraak het, liefde wat seermaak. Hul werk was aanvanklik nie bedoel om deur enigiemand gelees te word nie, maar ná alles sê beide van hulle – ons is steeds vrou. Ons praat nie net nie, ons ken verdriet en seer en verlies. Hulle boodskap is: Wees jouself, hê hoop, selfs in tye van verlies. Natuurlik stel hulle hulself bloot met die publisering hiervan. Hulle kies dit, en hulle doen dit graag vir elkeen wat hoop in ʼn tyd van verlies moet skep,” sê hy.

(Grafika: Verskaf)

Die sangeres Laurika Rauch en Anice Kruger, die brandslagoffer Pippie Kruger se ma, het reeds die bundel onder oë gehad en positiewe terugvoer gegee.

“Die gedigte bevat woorde waarmee ʼn mens kan identifiseer. Ná selfs net die eerste deurlees van Steeds vrou het ek ʼn ongelooflike ligte ervaring beleef, maar bowenal het ek ʼn plek van stilte gevind en woorde wat ek nodig het om my eie gevoelens te beskryf,” skryf Rauch.

Kruger skryf die gedigte is ʼn kombinasie van soveel diepte en seer, maar dan skyn die hoop deur.

“Dan kan ek wat so diep voel, insien hoe ander vroue dit saam met my voel. Dat ek nie alleen is op my reis na antwoorde nie. Dat ek deur gedigte soos dié werklik verstaan wat genade is en dat geen vrou alleen is nie. Dat God ons almal saamweef, al is dit deur woorde. Dat ons almal se leef en lag en seer ons nader aanmekaar bring, al is ons vreemdelinge.”

Die wins van die digbundel gaan aan Helpende Hand se FroueVonds (met opset verkeerd gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg verloop nie). Die FroueVonds streef daarna om vroue te bemagtig om pilare van hoop in hul gemeenskappe te wees. Die fonds sorg ook dat 3 000 behoeftige meisies sanitêre ware ontvang en stel jong vroue in staat om deur die Susanna Smit-studiefonds te studeer.

Die digbundel is beskikbaar teen R120. Besoek www.steedsvrou.co.za vir bestellings of stuur ʼn e-pos aan René Roux by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.