Vrouestem breek deur klankgrens van die Bosoorlog

Magda het haar lewensverhaal aan Maretha Maartens vertel en dit het sowat drie jaar geneem om die boek, getiteld ‘Klankgrens’, te voltooi. (Foto: Verskaf)

Party mense noem haar dapper, ander meen Magda Slabbert was braaf om haar belewing van die stille oorlog wat in die vroue van beroepsoldate woed, te deel.

Magda het dit egter om geen ander rede gedoen as om ʼn platform te skep waar genesing kan plaasvind nie – vir haarself, maar ook vir die honderde ander vroue wat dieselfde omstandighede as sy ervaar het.

Vroue wat in stilte met angs, woede en pyn geworstel het, en wat die posttraumatiese stresversteuring van hulle mans ook moes hanteer.

“Ons het altyd geweet dat daar iets belangrikers as ons is. Jou man se taak en plig as soldaat kom eerste en sy medesoldate wat saam met hom op die grens veg, word sy geesgenote, nie jy nie,” sê Magda in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Magda het haar lewensverhaal aan Maretha Maartens vertel en dit het sowat drie jaar geneem om die boek, getiteld Klankgrens, te voltooi.

“Ek het van die begin af vir Maretha met die skryf van my storie vertrou. Sy is werklik ʼn hartsmens wat nie bang is om onderwerpe aan te roer nie. Maretha noem ʼn ding op die naam en sy doen eers deeglik navorsing voor sy oor iets skryf.”

In Klankgrens leer ken die leser vir Jo en haar kinders en die stryd wat die vroue weg van die grens af gevoer het. Die boek word uit die oogpunt van weermagvroue vertel wat moes agterbly, aanhou, verstaan, en bowenal kop bo water moes hou.

“As die mans hulleself emosioneel aan ons moes verbind, sou hulle nie die werk as soldaat kon doen nie. Hy het dit nodig gehad om hom nie oor sy vrou en kinders te bekommer nie. Dit is my ervaring, maar ek kan nie namens al die vroue daarbuite praat nie.”

Magda, haar eggenoot, Rufus, en hulle kinders is van Bloemfontein in die Vrystaat afkomstig. Rufus was jare gelede ʼn beroepsoldaat in die Bosoorlog en hy het onlangs as regiment-sersant-majoor (RSM) van 1 Spesiale Diensbataljon (1SDB) in Tempe afgetree.

Die titel, vertel Magda, het ʼn dieper simboliese betekenis, en sinspeel op die emosionele nadraai van die oorlog.

“Tydens die oorlog, en selfs daarna, is daar nie oor hierdie goed gepraat nie. Jy het gecope ter wille van jou man,” sê sy. “Ek weet nie wat die reaksie van lesers gaan wees nie, maar ek hoop dat dit êrens vir iemand genesing sal bring.”

Sy verwys na die Bosoorlog, oftewel Grensoorlog, wat van 1966 tot 1989, plaasgevind het. Magda breek as’t ware deur die klankgrens van die oorlog deur klank aan iets te gee wat nie vantevore gehoor is nie.

“Ek het erge mood swings gehad, wat my kinders meestal moes verduur. Dit was bloot omdat ek nie werklik besef het watter emosies in my opgekrop lê nie. Deur woorde aan hierdie emosies te koppel, word daar klank aan iets gegee wat nie voorheen klank gehad het nie. Dit is geweldig bevrydend.”

Klankgrens is ʼn verhaal oor die onsigbare oorlog teen geloof en hoop. Dit gee ʼn stem aan weermagvroue en word eindelik ook ʼn spreekbuis vir vroue wat nog nie vantevore met hulle mans hieroor kon praat nie.

  • Klankgrens verskyn in Januarie 2022 by Luca, ʼn druknaam van Lapa Uitgewers. Klik hier om die boek vooraf te bestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Dankie Magda/Maretha

anniekiewiet

Baie dankie, ek wil hierdie boek ook lees en ek weet daar is duisende vroue wat dit gaan nodig hê, en ook kinders van daardie jare.

Jacob

Eerste keer dat ek so ‘n invalshoek of perspektief oor die Bosoorlog raaksien. Oorspronklik maar ook broodnodig om die vroue (en kinders) van beroepsoldate se belewinge van die oorlog te verstaan en al-lesende mee te maak. Ek wil die boek lees.

kaplyn

Ek salueer al ons vrouens en ons moeders wat die fort gehou het in die tyd. Ek sal graag ook die boek wil bekom en vir my vrou wil gee. Ek dank God dat hulle, met die hulp van die Heilige Gees, vasgestaan het in die geloof!