Vyf boeke geskryf deur mans

Van hartroerende gedigte na dramatiese romans, van spitsvondige essays tot moderne wetenskapsfiksie – mans skryf die Afrikaanse leeswêreld aan die brand. Hier is ’n kort opsomming van vyf skrywers se interessante werke wat tans op die rakke beskikbaar is.

op weg na kû (Breyten Breytenbach)

Hierdie sagtebandboek van 256 bladsye is sóveel meer as bloot ’n versameling gedigte, mymeringe, gedagtes en kort-kortverhale (weliswaar sublieme werke deur ’n digter wat al twee keer die Hertzogprys vir poësie ingepalm het!). Dis ’n viering van meesterlik verweefde woorde en met die hand uitgesoekte beeldtenisse wat die leser trakteer op ’n leeservaring wat hom of haar ongetwyfeld ryker laat in gees.

Die teks word treffend geaksentueer deur velerlei kleurfoto’s van ondermeer Breytenbach se eie en ook ander kunstenaars se skilderkuns. Breytenbach se sukses is dalk juis daaraan toe te skryf dat sy skrywes spreek tot die gewone leser sowel as die literêre fynproewer.

Uit die gedig genommer 4.8.1 op p. 83: dit het hard en dringend gereën gister/ met sliertkrale druppels nat klippies/ wat die landskap/ toegewoel in ’n donker sluier/ vas moes pak

Meer oor die skrywer: Breyten Breytenbach word beskou as ’n lewende legende in die kringe van Afrikaanse digkuns. Hy skilder ook graag en is veral bekend in Amerika, Nederland en Frankryk.

Die verevrou (Jan van Tonder)

Hierdie komplekse roman van 320 bladsye strek oor etlike dekades en kontinente heen en vertel die verhaal van twee uiteenlopende vroue uit verskillende agtergronde se kleintyd ervaringe en die uitdaging van grootword en groei tot onafhanklike volwassenes. Die magiese volstruisbedryf beklee ’n prominente posisie in beide hierdie verevroue se lewens.

Liora word groot op Finisterre, ’n volstruisplaas in Algerië waar haar tante Alessa ’n meesterpluimbereider is wat in haar pluimery volstruisvere omskep in kostuums. Candice se arbeider-pa werk weer op volstruisplase en neem haar soms saam wanneer hy stukwerk doen en vere sorteer en klas.

Liora en Candice vlug albei om verskillende redes op ’n stadium uit hulle onderskeie geboortelande en gaan werk oorsee. Tog bring die twee se beheptheid met volstuisvere en ’n verbintenis met die Joodse man Moshe Habib, hulle by mekaar uit toe die twee mekaar wel op ’n dag in die Klein-Karoo ontmoet.

Aanhaling: “Los,” sê Liora. Sy hou ’n pluim na Candice uit. “Stroop hom eers, maar nétjies, hoor – vat dáárdie messie. Ek wil hê jy moet die skag by die basis teen ’n hoek sny asof jy ’n waaier gaan maak, maar hou aan met sny, een snit na aan die ander, die hele skag, selfs waar hy so dun word dat jy sukkel om hom teen die plank vasgedruk te kry.” Sy stroop self ’n veer sodat die skag kaal is, plaas dit op ’n plank en maak blitsig tien sekure snitte skuins daaroor. “Só,” sê sy.”

Meer oor die skrywer: Jan van Tonder is die skrywer van die romans Wit vis, Is Sagie, Die kind en Roepman. Die kind word met die ATKV-prosaprys (1990) en die FAK-prys vir ontspanningsleesstof (1991) bekroon. Roepman word vir talle literêre pryse benoem en is ook verfilm.

’n Ander mens (Zirk van den Berg)

Hierdie blitsblaaier van ’n misdaadroman knoop behoorlik die leser se derms op verskeie plekke. Dit lees vinnig, maklik en is moeilik om neer te sit. Die spanningsverhaal is die waardige wenner van die eerste kykNET-Rapport Boekprys in die Film-kategorie, nou tot rolprent verwerk. Die storielyn is oorspronklik, geloofwaardig, slim en beslis karaktergedrewe. Die boek is in sagtebandformaat en beslaan 240 bladsye.

Erica van der Linde is in die jare negentig in beheer van Kaapstad se getuiebeskermingsprogram. Haar werk is om getuies in haar bewaring daarop voor te berei om onsigbaar te wees, middelmatig en doodgewoon – sodat hulle voor neus en ore spoorloos kan wegraak en voortaan veilig is. Máár, dan gaan sy ’n stappie verder en vermoor die getuies om hulle permanent uit die samelewing te laat verdwyn. Daniël Enslin is egter ’n getuie waarmee sy glad nie rekening gehou het nie.

Aanhaling: Hy haal sy skouers op. “Die een ding wat ek in die afgelope paar weke geleer het – as jy min genoeg het om te verloor, verloor jy naderhand jou vrees ook. Dis een van die laaste goed om pad te gee.”

Meer oor die skrywer: Zirk van den Berg woon in Nieu-Seeland. Sy eerste Engelse roman, Nobody Dies, word vertaal as ’n Ander mens. Van sy ander werke sluit in: Ekstra dun vir meer gevoel, Wydsbeen, Halfpad een ding en Half of One Thing.

Boodskapper van die gode (Murray La Vita)

Lesers wat graag kort, puik leesstof geniet, sal baie hou van hierdie keur uit die veelbekroonde joernalis Murray La Vita se rubrieke, essays en sketse. Die bundel met 104 lekkerlees skrywes is in ’n gerieflike sagtebandformaat en beslaan 256 bladsye. Antjie Krog se opmerking op die voorblad tref dadelik die oog en maak die leser nuuskierig: “Met sintuiglike taal en ’n lieflike hoflike toon word onvergeetlike taferele geskep.” Die tong-in-die-kies subtitel is: Fabels en fantasieë van ’n vlieg teen die muur.

Ek het heerlik gelees aan hierdie welgekose versameling werke wat in ’n gemaklike geselstrant in die eerste persoon geskryf is. La Vita skryf oor alledaagse, op die oog af klein en selfs onbenullige gebeure en sake wat in die bedrieglike eenvoud van sy teks tot iets uitsonderliks in boodskap en les omskep word. Sy werk bly jou by en jy vang jouself dat jy weer daaroor nadink. Hy wissel interessante insidente uit sy kinderdae en jeug af met ervaringe wat hy tydens sy besoeke aan wêreldstede soos Amsterdam, Rome, New York en Parys opgedoen het. Die stemming van die vertellings varieer tussen onder meer weerloosheid, weemoed en selfs heerlike humor en verspottigheid.

Aanhaling: “My verhouding met tikmasjiene het nie goed begin nie, want ek het nooit behoorlik leer tik nie. Daarom dus dat ek op die swart-wit-foto stip (en effens idioties) afkyk na die wysvinger van my regterhand wat tentatief na ’n toets mik. As ek die status van die verhouding op Facebook sou moes beskryf, sou dit wees: It’s complicated.”

Meer oor die skrywer: Menigmaal vereerde profiel- en rubriekskrywer, Murray La Vita, is ’n skrywer vir Netwerk24 en Die Burger.

Ondier (Jan Vermeulen)

Die forensiese profileerder, dokter Olaf Demeyer, sluit sy praktyk ná die uiteindelike ontrafeling van die Aspoester-moorde. Maar dan ontvang hy ’n oproep wat sy lewe weer van voor af omvergooi en hom met sy eie demone konfronteer. Die vrou met wie hy ’n liefdesverhouding gehad het, Kaptein Jasmyn Oktober, is vermoor en haar byna drie maande oue baba is ontvoer. Die baba waarvan Olaf onbewus was. Die baba van wie hy die vader kan wees. Die baba wat ’n ernstige hartdefek het en dringend ’n operasie moet ondergaan. Olaf kon vroeër sy dogter uit die kloue van ’n reeksmoordenaar red. Sal hy sy seuntjie ook kan red? Boonop word meer vroue vermoor en hulle babaseuntjies verdwyn spoorloos. Sal die legkaarstukke ooit inmekaar pas?

Lees hierdie grusame spanningsroman van 304 bladsye wanneer jy nie die volgende dag hoef te werk nie, want sodra jy begin lees gaan jy nie hierdie boek wil neersit alvorens die moordenaar vasgetrek is nie. Die skrywer neem sy lesers op ’n grieselrige rit wat bedoel om te skok, maar die boeiende storielyn en sterk karakters verleen ’n strak werklikheid aan die makabere verhaal. Tradisionele en godsdienstige gebruike, seksverslawing, kannibalisme, mesmoorde en babas wat seergemaak word … hierdie boek spook by jou lank nadat jy dit klaar gelees het. Puik leesstof vir die leser wat daarvan hou om homself bang of naar te lees.

Aanhaling: Beth kom staan voor hom. “Miskien is die hande in die sangoma se pot toe tog nie aaphande nie.” Sy ruk die masker van haar gesig af. “Miskien probeer die monster nie ander mense se babas in ’n kelder vir homself grootmaak nie. Miskien is hy net ’n sadistiese dier wat dit geniet om vroue en hulle babatjies dood te maak.”

Meer oor die skrywer: Jan Vermeulen is bekend om sy bekroonde jeugverhale waaronder Asem wat die 2016 LAPA Jeugroman-pryswenner is. Ondier volg op sy baie gewilde volwasse roman getiteld Die vyfde aspoester.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.