Vyf leersame aktiwiteitsboeke vir die jongspan

Wat is nou lekkerder as om speel-speel te leer?! Kinders sal dol wees oor dié interessante aktiwiteitsboeke propvol kleurvolle illustrasies wat die verbeelding aangryp. Ouers en onderwysers sal beslis ook jubel oor hierdie leersame en opwindende hulpmiddels waarmee vlytige handjies en flink breine produktief mee besig gehou kan word.

Plakkerpret met 555 voertuie

(Susan Mayes) (Human & Rousseau)

Hierdie prettige boek van 56 bladsye bevat 555 kleurvolle plakkers van allerlei voertuie in verskillende soorte en groottes. Klein handjies kan die plakkers na hartelus plak en vele interessante tonele skep van bv. ’n busstasie tot ’n treinstasie, en dokke tot ’n bouterrein. Hulle kan selfs ’n opwindende toekomsfantasie en ’n ruimte-avontuur skep. Terwyl die kinders produktief besig is, leer hulle sommer speel-speel oor die verskillende vervoermiddels. Dan Crisp het gesorg vir die pragtige illustrasies. Die boek word aanbeveel vir kinders 4-6 jaar oud, maar selfs effens ouer kinders sal hulle in dié leersame aktiwiteite verdiep.

Koop die boek by Graffiti Boeke vir slegs R112-00*

Plakkerpret met 555 perde en towerponies

(Oakley Graham) (Human & Rousseau)

Hierdie oulike aktiwiteitsboek van 56 bladsye bevat 555 prettige plakkers van onder meer perde en towerponies. Besige handjies sal die verskeidenheid plakkers, wat in ’n gerieflike formaat vir klein vingertjies kom, na willekeur op die pragtige tonele kan posisioneer om verbeeldingryke tonele te skep – tonele soos ’n pronkparade, winterwonderland, meerminmeer, ʼn perdepiekniek, ens. Bradley Hunt en Lauren Ellis het gesorg vir die kleurvolle illustrasies. Kinders van 4-6 jaar oud sal ure se vermaak uit dié besonderse boek put.

Koop die boek by Graffiti Boeke vir slegs R112-00*

Nuwe alles-in-een voorskoolse aktiwiteitsboek 2

(Mart Meij) (Best Books)

Hierdie baie oulike voorskoolse aktiwiteitsboek bestaan uit 96 bladsye met 30 splinternuwe 3D- en 2D-volkleuraktiwiteite vir die jongspan. Die onderwerpe bou voort op dié in die eerste boek – saam bied boek 1 en 2 alles wat jy benodig as lesmateriaal vir voorskolers. Van die onderwerpe sluit in aktiwiteite oor diere, goggas, water, vrugte, groente, ens. Die boek gee raad oor verskeie aktiwiteite en temas en verduidelik ook hoe die handwerkaktiwiteite gedoen moet word. Waardevolle wenke oor bewegingsaktiwiteite en gepaste liedjies en rympies word gedeel. Astrid Castle het gesorg vir die mooi illustrasies. Kinders tussen 2-5 jaar oud sal hierdie boek vreeslik baie geniet.

Koop die boek by Graffiti Boeke vir slegs R125-00*

Nuwe alles-in-een pret met spel Graad 1

(Mart Meij) (Best Books)

Hierdie wonderlike spel-werkboek (72 bladsye) vir Graad 1 Huistaal voldoen aan die KABVvereistes en bevat innoverende woord- en klankspeletjies en werkvelle. Daar is oulike spelspeletjies, 110 hoëfrekwensie sigwoorde, werkvelle met spelwoorde, ’n bekendstelling van enkel- en dubbelklanke, riglyne vir ouers en onnies, en ook belangrike info oor spelkompetisies. Meer as 30 kaart-, bord- en bewegingspeletjies behandel voorgeskrewe klanke en ook sig- en spelwoorde. Die boek moedig vreugdevolle leer met speletjies vol aksie en beweging aan. The Icon Agency & Dreamstime het gesorg vir die illustrasies. Kinders tussen 5-7 jaar oud sal tuis én in die klaskamer baat vind by die aktiwiteite in dié kosbare boek.

Koop die boek by Graffiti Boeke vir slegs R100-00*

Nuwe alles-in-een pret met spel Graad 2

(Mart Meij) (Best Books)

Hierdie innoverende interaktiewe spel-werkboek (72 bladsye) vir Graad 2 Huistaal voldoen aan die KABV-vereistes en het ten doel om kinders opgewonde te maak oor spelling en klanke. Dit bevat die eerste spelreëls, oulike speletjies en sewe werkvelle met spelwoorde (ook meerlettergrepige woorde) 200 sigwoorde, hersiening van Graad 1-klanke, spellyste met voorgeskrewe klanke, riglyne vir ouers en onnies en inligting oor spelkompetisies. ’n Hele 40 kaart-, bord- en bewegingspeletjies oefen voorgeskrewe klanke en sig- en spelwoorde in. The Icon Agency & Dreamstime het vir die mooi illustrasies gesorg. Kinders vanaf 7-9 jaar oud kan die aktiwiteite in die boek by die huis of in die klaskamer aanpak.

Koop die boek by Graffiti Boeke vir slegs R100-00*

Nuwe alles-in-een pret met spel Graad 3

(Mart Meij) (Best Books)

Hierdie leersame spel-werkboek (72 bladsye) vir Graad 3 Huistaal voldoen aan die KABV-vereistes en sal by kinders ’n liefde aanknoop vir spelling en klanke. Kinders leer spelreëls met allerhande interessante spelspeletjies. Die boek bevat 300 sigwoorde, die hersieningsklanke van Graad 1 en 2, werkvelle met spelwoorde, spellyste, wenke vir ouers en onnies, en meer inligting oor spelkompetisies. Byna 50 kaart-, bord- en bewegingspeletjies leer kinders die voorgeskrewe klanke en sig- en spelwoorde. Lettergreepverdeling, meervoude en verkleinwoorde kry aandag. The Icon Agency & Dreamstime het vir die kleurvolle illustrasies gesorg. Kinders tussen 8-10 jaar oud kan die aktiwiteite in die boek suksesvol tuis of by die skool aanpak.

Koop die boek by Graffiti Boeke vir slegs R100-00*

Bogenoemde aktiwiteitsboeke is ook by toonaangewende boekwinkels beskikbaar.

*Pryse onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.