Waag en wen, sê Christien Neser met jongste jeugverhaal

pienk-is-nie-deur-christien-neser

Die skrywer Christien Neser het met Maroela Media gesels oor haar jongste boek ‘Pienk is nie vir sissies nie’. Foto: Tafelberg en ChristienNeser.com

“Daar is ʼn uitdrukking wat sê die swakkeling soek wraak, die sterke vergewe en die intelligente ignoreer. Ek sal graag wil hê as iets met jou gebeur moet jy dit kan vergewe, opsy skuif, begin ignoreer en met jou lewe kan aangaan.”

Volgens die skrywer Christien Neser is dit ook wat die hoofkarakter Nicci in haar jongste boek Pienk is nie vir sissies nie moet leer doen.

Neser is ʼn spraakterapeut van Bryanston in Johannesburg maar is ook self ewe tuis op ʼn bergfiets. Sy is die skrywer van die gewilde Elle-reeks waarvan die agste boek in 2017 verskyn het.

In Pienk is nie vir sissies nie word Nicci die heeltyd vir hoofrolle as ballerina oor die hoof gesien. Op ʼn dag besluit sy summier om pienk af te sweer en haar lang hare moet sommer ook waai. Sy word die bergfietsryer Nix wat stof in almal se skop.

“Hierdie randfiguurmeisie probeer haarself bewys op ʼn bergfiets en sy ry naderhand selfs die seuns weg, want sonder dat sy dit besef, het ballet haar soepel gemaak. Dit gee haar die vermoë om beter te kan spring en ’n beter tegniek op haar fiets te kan hê.”

Almal in Neser se gesin is fietsryers en daar is ook ʼn groot fietsrygemeenskap in Johannesburg. “Dit is ook so dat daar amper nie ʼn week verbygaan waar daar ʼn fietsryer van sy fiets beroof word nie. Daar is geweldig baie misdaad in Johannesburg, maar tog woon en ry ons steeds fiets in dié stad.

Neser was self ook die slagoffer van ʼn gewapende roof twee jaar terug.

“Ek dink ʼn mens moet sin probeer maak van so ʼn voorval en dit vind dan onbewustelik neerslag in ʼn storie.”

Wat is die boodskap wat sy hoop lesers neem huis toe uit haar boek?

“Natuurlik moet hulle lekker aan die boek lees en ek hoop hulle word sommer ook geïnspireer om ʼn fiets te gryp en te begin ry waar hulle ook al is, maar dan is daar ook die boodskap oor vergifnis.”

Vir haar is die uitdagendste aspek van jeugverhale skryf juis om, soos sy dit noem, ʼn balans tussen die soet toffie van die boek en substansie te kry.

“Om seker te maak ek skryf ʼn storie wat tieners wil lees, maar dat dit ook nie te lig in die broek is nie. Die storie moet hulle uitdaag, maar moet ook darem verkoop.”

Die lekkerste gedeelte van jeugverhale is om elke keer weer 15 jaar oud te word.

“Dit is so bietjie van ʼn verjongingskuur en, soos hulle sê, dit is ook nooit te laat om ʼn gelukkige kinderlewe te hê nie.”

Neser glo ook dit is die rede waarom sy dit regkry om haar volwasse stem uit haar boeke te hou

“Ek ontmoet my hoofkarakter, sy word vir my vlees en bloed. Ek dig my hoofkarakter se eienskappe toe aan ʼn kind wat ek ken van daardie ouderdom. So werk ek met haar en probeer heeltyd in haar kop bly. Ek word nooit haar ma of juffrou nie, ek bly sy.”

Kry hulle só weer aan die lees

As ouers dalk in die eksamentyd bekommerd raak omdat hul kind meer ʼn gewone boek as ʼn handboek lees, kan Neser hulle darem effens gerusstel.

“ ʼn Lekkerleesboek is ʼn wonderlike hulpmiddel in die eksamen. Dit kan ʼn kind help ontsnap van eksamenstres sonder dat hy of sy eers van hul stoele hoef op te staan.

“Dit gee die brein ʼn breek, die kind kry ontvlugting en terselfdertyd is dit vir die kind lekker.”

Neser sê so word lees en lekker onmiddellik aan mekaar gekoppel en die brein begin lees as lekker ervaar.

“Netnou, as jy teruggaan na jou akademiese boeke, onthou die brein lees is lekker en daardie breinpaadjie is nou gebou. So saam met die lees tel die kind ʼn klomp woordeskat op.

“Glo vir my, dit is een van die grootste probleme waarmee taalonderwysers nou sit. Kinders kan nie begriptoetse doen nie wat hulle het eenvoudig net nie die woordeskat nie. Behalwe natuurlik die kinders wat baie van lekkerlees hou.”

Neser sê ook ʼn kind moet weet hoekom hy of sy moet lees.

“Hulle moenie lees omdat hul ma of juffrou so sê nie, hulle moet weet wat die voordeel daarvan vir hulle is.

Sy het op haar webwerf ʼn praatjie oor die vyf beginsels van die voordele van die lees. “Dit gaan oor die vyf “in”-woorde wat bestaan uit inligting, intelligensie, interessantheid, inspirasie en insig.

“ ʼn Kind moet weet jy kry ál vyf hierdie aspekte elke keer as jy lees. Jy verryk jouself en bou nuwe breinpaadjies.”

Neser sê ouers en onderwysers moet onthou ʼn kind gaan nie lees as hulle nie iets lekkers het om te lees nie. “So jy moet jou kind help om iets te kry wat vir hom of haar interesseer en as julle eers saam daardie boek gekry het, volg die res sommer maklik.”

Sy sê ouers moet ook nie huiwer om hul kinders te beloon om ʼn boek klaar te lees nie. “Dit is die beste omkoopgeld wat jy kan betaal, want op die ou end is dit vir daardie kind se breinontwikkeling van die grootse waarde.”

  • Luister ook na die podsending boaan hierdie berig waar die skrywer Christien Neser met Esté Meyer Jansen van Maroela Media oor haar jongste boek Pienk is nie vir sissies nie Neser vertel hoekom sy dink kinders mag maar ook tydens die eksamentyd agter ʼn lekkerleesboek inskuif en sy gee ouers en onderwysers ook ʼn bietjie raad oor hoe om die jongklomp weer aan die lees te kry.
  • Lees ook Louise Viljoen se resensie van Pienk is nie vir sissies nie op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.