Waarom haak mense se koppe uit?

carla-van-der-spuy-en-dr-henk-swanepoel-lapa-twitter

Carla van der Spuy en dr. Henk Swanepoel by die ATKV se Boeke-oase tydens vanjaar se Aardklop-kunstefees pas nadat hulle boek ‘Sielsiek’ op die rakke verskyn het. Foto: Lapa Uitgewers/Twitter.com.

Hoekom is sommige misdadigers se oortredinge só wreed en absoluut gewelddadig? Hoekom het Chris Mahlangu vir Eugène Terre’Blanche vermorsel en nie net doodgeslaan nie?

Hoekom sal ʼn jong man beide sy aanneemouers bewusteloos slaan met ʼn krieketkolf en hulle meer as 20 keer elk in die bors steek voor hy sy pa keel-af met ʼn mes sny?

Wat maak dat hierdie oortreders só wreed teenoor hulle slagoffers optree? Hoekom sê hulle dikwels na die tyd dat hulle dit nie bedoel het nie, of dat hulle nie die persoon wou seermaak nie? Is daar hoop vir hierdie mense – sal hulle ooit kan rehabiliteer?

Dit is die soort vrae wat die boek Sielsiek: Die psige van Suid-Afrika se koelbloedigste misdadigers ondersoek. Dr. Henk Swanepoel, ʼn gesaghebbende kliniese sielkundige en psigogeregtelike evalueerder, het in dié boek kragte saamgespan met die ervare skrywer Carla van der Spuy om ʼn blik te bied op waarom geweldsmisdadigers doen wat hulle doen.

Met die lees van die boek kom ʼn mens vinnig agter watter reusagtige rol iets soos ouerskap op die gedagtewêreld van ʼn misdadiger het.

“Wat hartseer is, is die effek van afwesige ouers wat ons deurlopend by hierdie oortreders gesien het. Ek kan nie die noodsaaklikheid van goeie en doeltreffende ouerskap genoeg beklemtoon nie,” sê dr. Henk.

Carla reken die verantwoordelikheid wat ouers het, is amper skrikwekkend: “Ek wonder of ʼn mens nog kinders sou gehad het as jy werklik besef hoe groot hierdie verantwoordelikheid is.”

Volgens haar is een van die misdadigers in dié boek deel van ʼn identiese tweeling en terwyl die een ʼn moordenaar geword het, is die ander ’n gesinsman wat nog nooit ʼn voet skeef gesit het nie.

“Al verskil is hulle het by verskillende pleegouers grootgeword. Dit bring ʼn mens natuurlik weer terug by die hele vraag oor of ʼn mens as ʼn monster gebore word, of eers later so word, en ek dink dit bevestig dalk net die antwoord,” voeg Carla by.

Dr. Henk sê in sy ervaring loop middelmisbruik en misdaad bykans altyd hand-aan-hand. “ʼn Mens moet egter net onthou dit verskoon nie ʼn oortreder van sy misdade as hy of sy sou sê hulle het ʼn moord onder die invloed gepleeg nie.”

“Dit lyk vir my ook dit maak ʼn oortreder wreder as hulle onder die invloed ʼn misdaad pleeg. Dit is een van die redes hoekom plaasmoorde byvoorbeeld so wreed is. In my ondervinding is middelmisbruik dikwels deel van dié geweld,” sê Carla.

Sielsiek_voorblad

Foto: Verskaf.

Dr. Henk sê sy werk en die skryf van die boek gaan nie daaroor om ʼn misdadiger te verskoon nie. “Ons wil eerder help om ʼn geheelbeeld van die persoon te skep. In al hierdie sake waarby ek betrokke was, moes ek die hof bystaan om ʼn prentjie vanuit ʼn sielkundige oogpunt te gee. My taak is nie om te oordeel nie, maar eerder ʼn objektiewe beeld te gee van hoe hierdie persoon lyk sodat die hof ʼn besluit oor die saak kan neem.”

“Ek dink nie mense moet hierdie boek lees om te probeer uitvind of dit wat die oortreder gedoen het reg of verkeerd was nie,” sê dr. Henk.

ʼn Belangrike vraag wat die twee skrywers in die laaste hoofstuk van die boek ondersoek, is: Is daar hoop vir geweldsmisdadigers?

“Ja,” sê dr. Henk dadelik, “mits die persoon nie ʼn psigotiese breek met realiteit gehad het nie, is daar beslis rehabilitasie-opsies vir die gedrag, maar dit is ʼn lang, deurlopende proses, dikwels lewenslank. Die probleem is net dit word nie volgehou nie, of binne-in die tronke is dit nie altyd beskikbaar soos wat dit moet wees nie.”

“Ek dink daar behoort baie meer geld beskikbaar gestel te word vir hierdie soort rehabilitasieprogramme. Dink nou maar net byvoorbeeld aan die Kaapse Vlaktes met sy uitermatige hoë vlakke van bendegeweld, waar die misdaadspiraal net herhaal word – die geld vir dié soort programme kan hier baie beter aangewend word as die vermorsing wat tans op die regering se soustrein plaasvind,” sê Carla.

Dr. Henk en Carla het daarin geslaag om ʼn boek te skryf wat lesers nie net sal inlig nie, maar ook ʼn kykie sal bied in die donker gedagtes van ʼn misdadiger. Dit lees maklik, alhoewel die onderwerp swaar is, en Sielsiek sal die leser opnuut laat besef hoe belangrik goeie ouerskap is en hoe gevaarlik middelmisbruik werklik is.

  • Esté Meyer Jansen het met dr. Henk Swanepoel en Carla van der Spuy in Maroela Media se ateljee gesels oor die boek Sielsiek. Dr. Henk en Carla verduidelik watter gevallestudies in die boek vir hulle elkeen uitgestaan het. Hulle bespreek middelmisbruik en misdaad, die belangrikheid van ouerskap en beantwoord die vraag of daar hoop vir geweldsmisdadigers is. Luister na die gesprek boaan hierdie artikel.
  • Lees meer oor die boek Sielsiek: Die psige van Suid-Afrika se koelbloedigste misdadigers op Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eish ·

Afwesigheid van ouers is n fenomeen van die Psalm 37 land.
Ek wonder of die oorsake ook deurgetrek kan word na blouligmisdade soos staatskaping en korrupsie?

lynette ·

ek het nog altyd gese jy kry nie slegte kinders nie net slegte ouers – en daar word dit bewys

E.K. die eerste ·

Daar is baie meer faktore betrokke by “slegte” kinders as net “slegte ouers”. Ai… Lees gerus die boek Narsiste, Psgigopate, Stalkers en Sadiste deur Andre le Roux.

hannes marais ·

mens word gebore as n baba,so n baba kan nie moord pleeg nie,dis ook nie ouers se skuld nie,baie kinders wat hul ouer huis verlaat raak heeltemal die pad byster,dis die siek samelewing daarbuite met satan en die jezebel gees wat in mens se koppe inklim wat mense siek dinge laat doen.die bybel se ons stryd is nie teen vlees en bloed nie ,maar die duister magte daarbuite.depressie is n aaklige siekte.ek was daar,maar deur gebed en baie geld vir navorsing en verskillende medikasie tot ek die regte medikasie kon kry het my gered..ons leef in die laaste tye

Popeye ·

Waarom haak mense se koppe uit? Jammer ek moet nou in Ingels praat: i put it to you Mlady, contrary to popular belief ,the genus Homo Sapiens is the most destructive, short sighted, selfish non-adaptable, self consumed to quibble over irrelevant issues for self service. Dink hieraan….as mense vandag sou verdwyn, wat sal aanhou oorleef? Fauna en Flora.

Marthinus Willemse ·

In Rusland het hulle `n sirkus vir jongmense met geweld- en ander gedragsprobleme. Hier word hulle opgelei volgens aanleg, en hul energie positief aangewend. Dis nie `n towerstaf nie, maar vir baie is dit `n lewensredder. Op RT is daar `n dokkie.

Nicki Blakeway ·

Ons het almal besluit dat God se opinie nie vir ons van waarde is nie, ons het populere filosofië en ideolgieë omhel en die idee van sonde en verantwoordelikheid weggestoot, ons het huis gesinnne afgekraak en “die staat” verhewe, ons het “wetenskaplikes” se uitlatings ingesluk en Die Bybel uitgespuug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.