Wals met Matilda

Dan Sleigh

Dan Sleigh se jongste manuskrip handel oor die lewe se ewige dans met die dood – alle lewe, ook die lewe van die skryfkuns. Die protagonis, Koos van der Merwe, was eens een van Goeie Hoop Uitgewers se topskrywers, en dit is waarom ’n woonstel in Bay View Villas aan hom toegeken is, op ’n verdieping wat die uitgewery reserveer vir die skrywers van topverkopers. Maar die muse het Koos verlaat. Jare reeds wag sy uitgewer vergeefs op nuwe werk uit die pen wat voorheen die kasregisters laat klingel het. Die uitgewery se geduld het opgeraak; Koos mag net in die woonstel aanbly as hy produktief is. In ’n bestel waarin kommersiële sukses die hoogste waarde is, is daar in elk geval nie plek vir iemand wat so verstok in sy weë is en so wars van alles wat progressief en modieus is nie. Die uitgewery speel sy troefkaart: Carelina van der Merwe is een van die inspirerendste redakteurs, en as sy nie nuwe lewe in Koos se loopbaan kan blaas nie sal niemand nie. Carelina waai soos ’n stormsterk suidooster by Koos se woonstel in. Hy gooi wal, hy skerm, hy vlug . . . maar uiteindelik begin hy vertel wat dit is wat die donker kolk in hom uitgeruk het waarin alle kreatiewe energie verdwyn. En al vertellende word sy skermutseling ’n dans. Dit is uiteindelik weer die dans met die muse, maar noodwendig weer die lewe-dood-dans, die dans van die lewe.

Oor die outeur
Dan Sleigh was as redakteur werksaam in die transkripsie-afdeling van die Kaapse Argief. Hy het in die Nederlandse koloniale tydperk gespesialiseer. Vir sy debuutroman, Eilande, het hy die volgende pryse ontvang: M-Net-prys, Sanlam/Insig -romanprys (2001). WA Hofmeyr -prys (2003), RAU-prys (2004) en die Helgaard Steyn-prys (2004). Hy woon in Pinelands. In 2010 verskyn Afstande waarvan die regte ook aan ‘n Nederlandse uitgewer verkoop is.

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R220,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.