‘Welkom in die wildernis’, sê Wanda Bam

Foto: Maroela Media

Wanda Bam. Foto: Maroela Media

Wanda Bam, radiopersoonlikheid en motiveringspreker, het vandeesweek haar jongste boek, Wilderniswenke vir vroue, Woensdagaand in Pretoria bekendgestel. Dié boek is op Wanda se lewe gegrond en vertel ʼn verhaal van worsteling en oorlewing.

“Ek het hierdie boek vir mense geskryf, wat soos ek, super-heel probeer lyk het – wat vir jare jok oor die ‘Van Tonders’ met wie dit so goed gaan.”

Sy sê met die skryf van die boek was daar tye wat dit maar swaar gegaan het omdat sy nie wou hê haar seer moes in die boek weerspieël word nie, maar slegs haar ervaring, die feite, en wat sy geleer het. “Dis nie maklik om so ʼn boek te skryf wanneer jy nog deur sekere goed moet werk nie. Maar ek is nou op ʼn plek waar ek kan sê: ‘Daar is die boek, hy’s gedoen!’”

Vir haar was die skryf van dié boek soos terapie, en sy raai ander mense ook aan om te begin skryf. “Al lees niemand jou storie nie, begin hom net skryf. Skryf is soos water wat uit jou vloei – eers is dit net modderwater en later word die stroom net meer suiwer. Dis wat ek beleef het.”

Sy meen die gedagte met die boek was nie om ʼn klomp derms uit te ryg nie, en dis ook nie ʼn sensasionele storie nie, maar ʼn boek wat genesing moet bring.

“Wanneer mense hierdie boek lees, moet hulle dink: ‘Sjoe, dit het met my ook gebeur, en mens kán daardeur.’ Dis al wat ek wil hê. Vir my was dit ʼn roeping gewees om hierdie boek te skryf, maar dis nie ʼn outobiografie nie. Dit is nie God se plan met my lewe nie – die stories in hierdie boek is nie die hele storie op sigself nie, maar die lesse wat ek daaruit geleer het.”

In die begin van die boek heet Wanda jou welkom met die volgende:

Welkom in die wildernis. Jy is veilig, want jy is nie alleen nie.

Aan die einde van die boek groet sy jou weer: Welkom in die wildernis. Wanda verduidelik wat sy hiermee bedoel: “Ons almal wil tog so graag uit ʼn wildernis kom en ʼn storie in ʼn tydskrif hê oor hoe ons oorwin het en watter inspirasie ons is. Daai storie is net ʼn storie wat God vir jou kan skryf. Inspirasie is God se werk. Dit is nie ʼn verhaal van oorwinning dié nie – dis nie iets wat nou klaar en verby is nie, maar die seer raak dowwer, en die lesse word duideliker.”

Welkom in die wildernis!

Die boek is binnekort in alle boekwinkels landwyd beskikbaar of by die Voelgoedwinkel.

Lees meer oor Wilderniswenke vir vroue op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

E ·

Welgedaan Wanda!
Eers as ons die masker afhaal en die waarheid leef dan is ons waarlik vry!
Geen beter gevoel as dit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.