Wen: Die Goorgomgaai verjaar!

Die Goorgomgaai

Die Goorgomgaaitjie. Foto: Verskaf

ʼn Muis gaan stap deur ʼn donker bos.
ʼn Vos sien die muis en hy dink aan kos.
“Waarheen stap jy, liewe Muis?
Kom eet by my in my jakkalshuis.”
“Rooihaarvos, jy’s gaaf en fraai,
maar ek gaan eet by die Goorgomgaai.”

Dié geliefde boek, wat oorspronklik in Engels geskryf is, was sedert sy eerste uitgawe in 1999 reeds op die topverkoperlys en vier vanjaar sy 15de verjaardag. Om dié spesiale geleentheid te vier, is ʼn herdenkingsuitgawe nou beskikbaar!

The Gruffalo is in verskeie tale vertaal en word oor die hele wêreld deur miljoene kinders gelees. Maroela Media het met Philip de Vos gesels, die persoon wat verantwoordelik is vir die Afrikaanse vertaling van dié spesiale boek.

“Ek het al 10 van Julia (die skrywer) se boeke vertaal en ek kan nie eens onthou hoe ek betrokke geraak het nie,” skerts Philip. Hy meen hy is ook nie seker hoe hy aan die naam “Goorgomgaai” gedink het nie. “Ek het net gedink dit klink soos ʼn monster met die G-klanke.”

Philip sê as dit by skryf kom, doen hy dit “op gevoel”. “Alles wat ek doen, is eintlik baie intuïtief, die gedagtes kom maar net. Ek het probeer dink waar ek aan die titel gekom het en in die woordeboek gaan kyk. Daar is ʼn woord soos “Verfomfaai” en ek wonder of daar ʼn konneksie is.”

Wanneer ʼn boek soveel bekendheid verwerf soos The Gruffalo, moet dit sekerlik ʼn groot uitdaging wees om so ʼn boek te vertaal. Philip sê dit was vir hom belangrik om die kern en wese van die boek te behou. “ʼn Rymvertaling is sekerlik een van die moeilikste vertalings wat daar is, want jy kan nie aan die verhaal verander nie, en die illustrasie is ook reeds voor jou. Waar rym is, is daar metrum. Ritme is een van die belangrikste dinge – daar is ʼn musikaliteit daaraan.”

Die vertaling van dié boeke vat vir Philip ongeveer ʼn week of twee. “As dit in die prosavorm geskryf was, het ek dit baie vinniger vertaal, maar omdat dit ʼn rymvertaling is, vat dit baie langer.”

’n Mens kan hoor dat Philip trots is oor sy vertalings en dat dit absoluut ʼn passie vir hom is. “Ek kan dit nie verduidelik nie – ek geniet wat ek doen! Ek dink dis die belangrikste ding in die lewe – jy moet geniet wat jy doen.”

Hierdie kompetisie is gesluit: Twee lesers kan elk ʼn eksemplaar van Die Goorgomgaai of Goorgomgaaitjie wen. Om in te skryf vir die kompetisie, stuur jou antwoord op die volgende vraag, asook jou naam, van, kontakbesonderhede en posadres na [email protected]: Wat is die oorspronklike naam van Die Goorgomgaai?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maria van Dieweeck ·

Hehe Philip! ‘Goorgomgaai’ – tog te oulik en vreesaanjaend

Janetta van Niekerk ·

Baie baie dankie vir die eksemplaar van die Goorgomgaai wat ek gewen het. Dis regtig iets besonders.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.