Wen: Liefdesverhale vir die vakansie

Argieffoto (Foto: Mahkeo/Unsplash)

Romanza, Lapa Uitgewers se versameling romantiese fiksie, bestaan reeds meer as 15 jaar. Hier is van die jongste leesstof wat nou op die rakke en aanlyn beskikbaar is.

ʼn Tweedehandse lewe – Didi Potgieter

Dokter Carla Nel is vir die eerste keer in ʼn baie lang tyd enkellopend. Nou maak sy planne om die stukke van haar lewe so gou as moontlik op te tel en haar grootste droom te bewaarheid. Sy koop ʼn praktyk en ʼn huis op die kusdorpie Soutstrand, wat albei net soveel restourasie as haar lewe nodig het. Kobus Retief is ʼn enkelouer met meer hooi op sy vurk as wat hy kan hanteer, maar wanneer hy moet help om die nuwe dokter se praktyk en sommer ook haar huis op te knap, herinner iets hom dat hy ʼn man ook is. Carla se planne sluit egter nie ʼn man in nie en Kobus kan haar niks anders as ʼn tweedehandse lewe bied nie. Tog laat die liefde hom nie keer nie en voor Carla hom kan stop, restoureer Kobus haar vervalle hart en word sy deel van ʼn lewe wat haar wildste drome oortref.

Potlode en Pinotage – Louise van der Merwe

Sonja Fourie word geken as die kwaai onderwyseres en versorgende moederfiguur in haar vriendekring. Nes dit ʼn goeie onderwyser betaam, is haar lewe rigied: planne, lysies, tabelle en boksies hou alles mooi op koers en sy maak seker elke woord wat oor haar lippe kom, is suiwer Afrikaans. Deesdae begin iets egter krap. Haar veilige nessie en voorspelbare bestaan voel nie meer genoeg nie. Sy het haarself as kind belowe sy sal ʼn stabiele en standvastige lewe skep en dit is wat sy gedoen het, maar nou het sy haar bedenkinge.

Wie is Ethan om haar te laat voel sy kan iets meer wees? Ethan Brooks het hom in Suid-Afrika kom vestig om te veg vir die behoud van sy erfenis. Deursettingsvermoë loop sterk deur sy are, maar hy besef ook dat dit alleen nie kan red wat verby bereddering is nie. Dan ontmoet hy vir Sonja, en hierdie kwaai juffroutjie laat hom anders na sy lewe en stryd kyk. Maar gaan hy vir hom ʼn gaatjie kan oopskrop in Sonja se reeds vasgestelde toekomsplanne?

Liefde vir ʼn middelkind – Kristel Loots

Vir ʼn muurblom en middelkind maak Mitzi Maree darem deesdae baie amok. Maak nie saak waar sy gaan of wat sy doen nie – verwag die onverwagte. Soos by die langtafel in Stellenbosch, waar haar polkadotrok die ambisieuse sakeman De Wet van der Merwe se aandag trek. Maar agter die manewales lei Mitzi nie die maltrap lewe waarvoor sy wens nie. Die werk by die kontaksentrum verveel haar grensloos, en haar dooilike kêrel Danie vat ook sommer die pad. Hoe gemaak om nie te verdwyn in al die geraas nie?

Wanneer videogrepe van Mitzi se streke op sosiale media versprei word, verander alles. Skielik is die kollig op haar, en De Wet nader haar met ʼn aanbod; hy wil hê sy moet die aanlyn gesig van sy nuwe besigheid       wees.

ʼn Fiets vir twee – Ilze Beukes

Terwyl sy met dwalende gedagtes na die fiets-ekspo trap, beland Benita amper onder Melt se sportmotor. Daar aangekom, val sy flou in die stalletjie wat  Melt bestuur. Die oomblik toe hy haar skraal lyfie op die mat sien lê, kruip Benita diep in Melt se hart sonder dat hy dit besef. Hy wil berge vir haar versit, veral wanneer hy besef watter opdraande die lewe haar gee.

Maar ten spyte van haar omstandighede is Benita ʼn meisie met ʼn wil van haar eie. Hy meng sonder verskoning in haar lewe in, tot haar groot ergernis en frustrasie. Haar lewe is moeilik genoeg sonder nog iemand wat dit kom omkrap. Met drie weke oor voor sy op straat beland, doen Benita haar bes om staande te bly. Intussen probeer Melt juis om haar van haar voete af te swiep.

Skryf nou in

Twee lesers staan die kans om elk ʼn Romanza-boekpak te wen. Lapa Uitgewers, ʼn druknaam van Penguin Random House, gee ʼn boekpak vir een Suid-Afrikaanse leser en ʼn e-boekpak vir een van Maroela Media se internasionale lesers weg. Al wat jy moet doen, is om jou besonderhede in die kompetisievorm onderaan hierdie artikel in te vul.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 9 Desember om 23:45.

  • Baie geluk aan Yolandi Engelbrecht en Elmie Grey, wat elkeen ʼn Romanza-boekpak wen. Hou Maroela Media dop vir nog heerlike kompetisies en kanse om te wen.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

    • Die kompetisie sluit 9 Desember om 23:45.
    • Wenners sal deur middel van ʼn trekking aangewys word.
    • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
    • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind, waarna die wenners deur Maroela Media genader sal word.
    • Sodra alle wenners gereageer het, sal hul name op Maroela Media bekendgemaak word.
    • Die pryse kan nie vir kontant omgeruil word nie.
    • Plaaslike en internasionale inskrywings kan vir die kompetisie inskryf.
    • Internasionale inskrywings kom slegs vir die e-boekpak in aanmerking.
    • Lapa Uitgewers, ʼn druknaam van Penguin Random House, hanteer die versending en sal direk met die wenners in verbinding tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.