Wen só met jou dagboekinskrywing

Dagboek van ‘n Dork 1 (Foto: Verskaf)

In Dagboek van ʼn Dork word die14-jarige Nikki Maxwell se daaglikse lewe deur middel van dagboekinskrywings, wat uit tekeninge, doodles en strokiesprente bestaan, uitgebeeld.

Dork Diaries is ‘n internasionale topverkoperreeks vir kinders wat deur Rachel Renée Russell geskryf en geïllustreer word. Die eerste vier boeke in die reeks is deur Kobus Geldenhuys vertaal.

“Ek vermoed meisies gaan dit ook in Afrikaans verslind,” sê Geldenhuys. Hy vertel dat dit heerlik was om dié boeke te vertaal en voeg by dat dit ʼn interessante proses was.

“Ek het besluit om dit nie suiwer te vertaal nie,” verduidelik hy. Omdat die hoofkarakter in haar tienerfase is, het Geldenhuys getrou gebly aan taalgebruik wat kenmerkend van dié groep is.

“Alles is nie gedwonge Afrikaans gemaak nie. Sy praat soos die meerderheid tieners van haar “besties” en ʼn “crush” op ʼn “awesome” ou. Die meisies dra “lipstiek” en “gloss”, en alles is SUPER – superopwindend, supervervelig en supernice,” verduidelik Geldenhuys. Hy meen die besluit maak die verhaal meer toeganklik vir teikenlesers en dat hulle beter met die storie sal identifiseer.

Nikki is nie gewild nie. Eintlik is sy die teenoorgestelde van gewild. Sy is ʼn absolute dork! Nikki hoop sy kan vriende by die nuwe skool maak en dat haar dorkdae nou verby is. Maar die lewe is nooit so eenvoudig nie.

Geldenhuys sê dat Amerikaanse name behou is omdat kinders dalk die boeke en karakters in Engels leer ken het, of aangesien fliek- en animasiereekse in die toekoms nog die lig kan sien.

Hoe skryf jy in?

NB-Uitgewers nooi alle leerders van graad 4 tot 6 uit om ʼn dagboekinskrywing te skryf oor die keer dat hulle soos dié grootste dork gevoel het.

Inskrywings moet 100 tot 150 woorde lank wees en kan per e-pos na [email protected] of deur ʼn direkte boodskap na @nbpublishers op Instagram gestuur word.

Leerders van Suid-Afrika en Namibië mag inskryf en die kompetisie sluit op 30 April.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.