Wen: ‘Tippie’-reekse vier tien jaar op die rak

(Foto: Verskaf)

Ma’s het ʼn gesamentlike sug van verligting geslaak toe die kleinspan onlangs na die lang – te lank vir sommiges – somervakansie terug is hok toe.

Nou moet hulle weer huiswerk doen, kerm die kinders.

Wel, hiervoor is die nuwe Tippie-reekse met hul kleurryke illustrasies nommerpas om die angel uit hul “pyn” te haal.

Die Tippie-reekse, waarmee kinders speel-speel en op prettige wyse kennis opdoen, is vanjaar al tien jaar lank op die rakke. Meer as ʼn miljoen kopieë is al verkoop, en dit in ʼn land waar die verkoop van 8 000 eksemplare as ʼn topverkoper beskou word.

Twee nuwe Tippie-reekse het pas geland, naamlik die Wiskunde vlak 2-reeks in Januarie en die Skryf en Uitvee-reeks in Februarie.

Die skrywers

Hoekom is dié reeks so gewild dat die ma en dogter-span José Palmer en Reinette Lombard nou heeltyds aan die Tippie-boeke werk?

Met jare se ervaring in buitengewone onderwys met kinders met lees- en leerprobleme, was kinderboeke skryf ʼn jeugdroom van José wat vir 30 jaar gebly het.

(Foto: Verskaf)

As remediërende terapeut het Reinette ʼn reeks progressiewe leesboekies nodig gehad om kinders in haar praktyk te help met lees, taal en begrip.

Reinette vertel: “Na ʼn groot tragedie in ons lewe het ek en José saam aan ʼn reeks vir my praktyk begin werk. Met die implementering van die reeks leesboekies het die kinders verstommend vinnig gevorder, leer lees skielik baie geniet en was die selfvertroue waarmee hulle na ʼn paar weke begin lees het, opvallend.

“ʼn Vriendin – Ilse Salzwedel, aanbieder van die program Skrywers en boeke op RSG – was ontsteld dat slegs ʼn klein groepie kinders baat vind by die reeks en toe het sy ons na Lapa Uitgewers gesleep.”

Onderwys is in Reinette en José se bloed.

“Die onderwys is soos die mafia, as jy eers ʼn onderwyser was, kom jy nooit weer daaruit nie. Ons is nie skrywers nie, ons is juffrouens wat skryf.

“Ons het albei ʼn passie vir onderwys en het groot deernis en empatie met jong kinders wat sukkel om te leer. Met meer as 48 jaar gesamentlike onderwyservaring het ons gevoel dat ons wel ʼn verskil kan maak en die vrees uit leer lees kan haal, taal en begrip op ʼn prettige manier kan ontwikkel en die kind die selfvertroue kan gee om self te kan leer lees.”

(Foto: Verskaf)

Hoe werk hulle as ma en dogter saam?

Hulle vertel dat hulle as ʼn span baie goed oor die weg kom en mekaar aanvul.

“Die lekker is dat ons mekaar verstaan en saam kan droom, werk en kreatief wees. Ons albei ‘Tippie’ nou voltyds en met sperdatums is dit nie altyd ewe maklik nie.”

Hulle kry uitstekende terugvoer van ouers, onderwysers en leerders.

“As ons met Tippie, die gelukbringer, by skole gaan kuier, is dit oorweldigend om te sien hoe lief kinders vir Tippie is.”

Wiskunde

Met die Tippie doen wiskunde-reeks, word ʼn liefde vir wiskunde geletterdheid by kinders gekweek.

Hoe gemaak met wiskunde wat nie almal se gunstelingvak is nie? Dit blyk dat daar baie mites oor wiskunde is.

Tippie doen wiskunde (Foto: Verskaf)

Hulle vertel dat enige kind wiskunde kan doen as hulle die nodige selfvertroue en ʼn positiewe ingesteldheid teenoor die vak het.

“Hulle moet net met begrip kan lees. Ons glo dat leer opwindend, prettig en funksioneel moet wees. Kinders moet wel eers speel-speel die basiese wiskundige-beginsels ontdek en syfervaardighede op ʼn prettige en praktiese manier bemeester.

“Dit moet reeds van ʼn vroeë ouderdom geskied deur ʼn speletjie te maak van voorwerpe in en om die huis, byvoorbeeld: tel die messe, tafels, stoele, vrugte, lekkers; wys wat is groot en klein, wat is bo, onder, in, langs, agter; wat is rooi, blou, groen, geel; wat is die vorm (sirkel, driehoek, vierkant).

“Ons fokus op die boustene van wiskundige geletterdheid en gee jong kinders die geleentheid om verskeie vaardighede speel-speel aan te leer en toe te pas.”

Praktiese ervaring het hulle oorgenoeg.

“Ons is omring deur klein kinders van familie en vriende, asook ons eie twee seuntjies in Suid-Afrika en een dogtertjie wat in Australië saam met Tippie Afrikaans leer.

“Dit is nogal snaaks en vreemd as jou kleinkinders of kinders wil spog met hul leeswerk en jy dan na Tippie sit en luister! Reinette se kinders Reuben (8) en Luca (6) se manewales is dikwels die inspirasie vir baie van Tippie se avonture. Tippie groei en ontwikkel ook saam met Reinette se seuns.

Meer oor die nuwe reekse

Die eerste Tippie-reeks, Leer my lees Vlak 1, is in 2014 gepubliseer. Tans werk Reinette en José kliphard aan Vlak 6 en Level 6 se twintig boeke. Die Zoeloe-weergawe, Funda ukufunda Izinga 1 word in April gepubliseer en Tippie doen wiskunde Vlak 3 vroeg in 2025.

Tippie word as ʼn dinamiese reeks beskryf waar daar voortdurend groei en ontwikkeling is om die leer en lees vir beide kinders en ouers of onderwysers makliker te maak. Curious Readers is die interaktiewe aanlyn platform vir Tippie en hulle werk ook kliphard agter die skerms aan Curious Readers se inhoud.

Tippie Skryf en uitvee(Foto: Verskaf)

Die illustreerder

Wat is boeke vir kinders sonder illustrasies?

Zinelda McDonald, ʼn bekroonde Suid-Afrikaanse illustreerder, is vir die illustrasies verantwoordelik.

Sy het verskeie kinderboeke geïllustreer en is ook ʼn bekende grafiese ontwerper en illustreerder van kinderboek-omslae.

Toekennings vir haar werk sluit die Alba Bouwer-prys en die Exclusive Books IBBY SA-prys.

Raad

Wat is hulle raad vir kinders wat nie van skool en leer hou nie?

Kinders wat nie van skool hou nie, is gewoonlik kinders wat sukkel om te leer en te lees, vertel hulle.

“Tippie programmeer vir sukses en wanneer kinders sukses ervaar, is daar selfvertroue en ʼn positiewe ingesteldheid.

“As onderwysers sal ons aanhou skryf om ʼn verskil in jong kinders se lewens te maak. Daar is ʼn groot behoefte vir ʼn unieke gegradeerde leesreeks vir die intermediêre fase en later vanjaar werk ons saam met ʼn briljante, geliefde Suid-Afrikaanse skrywer aan hierdie droom.”

Wen

Twee Maroela Media-lesers staan die kans om elkeen ‘n boekpak van Wiskunde Vlak 1 of Vlak 2 te wen. Al wat jy moet doen om in aanmerking te kom vir hierdie is prys, is om jou besonderhede in die kompetisievorm onderaan die artikel in te vul en ons te laat weet watter boekpak jy wil wen.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is Sondag 25 Februarie om 23:45.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die kompetisie sluit Sondag 25 Februarie om 23:45
  • Wenners sal lukraak gekies word.
  • Deelnemers moet ouer as 18 jaar wees.
  • Lesers wat in die afgelope drie maande ʼn kompetisie op Maroela Media gewen het, sal nie dadelik weer in aanmerking geneem word om die betrokke kompetisie te wen nie.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind, waarna Maroela Media met die wenners in verbinding sal tree.
  • Sodra alle wenners gereageer het, sal hul name op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die pryse kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Deelnemers moet in Suid-Afrika woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.