Slaaptydstories wat haar ma uit die Bybel voorgelees of oorvertel het, is een van Wendy Maartens se vroegste herinneringe en onomwonde die beginpunt van haar liefde vir Bybelverhale.
“Ek het agtergekom dat my ma se stem en oë anders is wanneer sy Bybelstories lees as wanneer ons ander stories lees,” onthou Maartens. “Daar was ʼn sagtheid wat groter as haar lyf of die bed of die kamer was. Dit het my laat voel dat ek en sy deel van iets veel Groter is en wat net sy kan sien.”
Maartens vertel dat sy toegelaat is om te lê en luister, maar wanneer hulle gebid het, moes sy kiertsregop sit.
Dit het haar van kleins af laat besef dat die God in haar Bybelstories nie net ʼn liefdevolle God is nie, maar ook iemand wat groot en almagtig is, iemand wat haar respek waardig is.
Maartens meen die grondslag van haar geloof en begrip van die lewe is op vreemde wyse met dié stories gevestig.
“As ek terugblaai deur die boek van my lewe, kom ek telkens weer by daardie heel eerste stories uit,” sê sy. “Dit is nie eintlik die feite en of die stories waar is of nie, maar die wete dat dit die begin van my verstaan was van God se liefde en die pad wat Hy met my stap.”
Daarom wend Maartens haar tot die skryf van Bybelverhale vir die jongspan – sodat sy vir kinders die geskenk kan gee wat haar ma destyds vir haar gegee het.
My eerste Bybel bestaan 43 Ou en Nuwe Testamentverhale wat geskik is vir kinders tussen nul en drie jaar. Die helderkleurige illustrasies deur Honor Ayres sal jong lesers se belangstelling prikkel en die teks is kort en in maklik verstaanbare taal.
Die boek is in opdrag van Susan Jordaan by Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, geskryf en Maartens beskou dit as ʼn voorreg om hieraan te kon werk. Sy het die Engelse teks tot haar beskikking gehad, maar dit doelbewus eenkant toe geskuif.
“Ek wou nie hê dit moes my eie kinderstem beïnvloed nie. Daarom het ek slegs van die teksverwysings en Honor Ayres se lieflike illustrasies gebruik gemaak,” verklap sy.
Maartens sê dit was ʼn enorme uitdaging om die stories met slegs 100 woorde te vertel.
“Van die verhale strek in die Bybel oor etlike hoofstukke. Dit beteken dat ek heeltyd die geheelbeeld in my gedagtes moes hou terwyl ek soos ʼn driejarige dink – in kort sinne en eenvoudige woorde.” Uiteraard moes elke storie ʼn inleiding, slot en die gewone elemente van ʼn goeie verhaal hê.
Sal sy weer so ʼn uitdaging aanpak? Beslis, en dié keer met ʼn hele stel skryfgereedskap tot haar beskikking.
“ʼn Mens maak padlangs gereedskap bymekaar wat jou help om ʼn bepaalde taak te verrig. As ek weer ʼn soortgelyke opdrag kry, gaan ek net my gereedskap uithaal, dalk ʼn bietjie afstof en weer aan die werk spring.”
Maartens het vantevore ook so ʼn taak verrig wat haar voorberei het om My eerste Bybel te skryf. Sy het ʼn ruk terug in opdrag van Sua du Plessis van CUM-Uitgewers skryfwerk vir vier- tot sesjariges gelewer. Du Plessis het boonop vir Maartens ʼn belangrike les geleer – om getrou aan die Skrif te bly wanneer sy Bybelverhale herskryf.
“Ek moet presies bly by wat in die Bybel geskryf staan. Eers as die ruggraat van die storie gevorm is, kan ek vleis aansit met detail wat tot ʼn kind spreek,” vertel Maartens. Die proses het behels dat sy weer soos ʼn kind moes leer praat.
Wat Maartens egter bygeval het, was hoe haar gedagtegang deur dié taalgebruik vereenvoudig is, dat verhale op ʼn elementêre wyse aangemeld en die kleur van haar gedagtegang se beelde na meer primêre kleure verander het.
“Dit het my baie stof tot nadenke gegee. Met ouer kinders is daar baie meer vryheid om rond te speel,” sê sy.
Maartens het in ʼn onderhoud met Maroela Media ook ʼn paar van haar skryfrituele gedeel. Soos dat sy in die oggend en in stilte skryf, voordat sy in die namiddag haar radio aanskakel om na die jongste nuusgebeure te luister.
“Stilte is vir my seker die mooiste musiek wat daar is,” sê sy. “Ek wil my gedagtes hoor, my papegaai hoor vroetel en gesels, my kat met die wolvoetjies in die gang hoor afstap – asof sy pantoffels aanhet wat te groot is.
“Ek wil hoor hoe die duiwe in die voëlbad voor my studeerkamervenster hul vlerke klap wanneer hulle bad. Op winderige dae baklei die wind in die bome en kreun die stoepdak. Saans, wanneer alles stil is, kan ek die see hoor.” Dié doodgewone geluide laat haar in die ondermaanse tuis voel.
Wanneer sy klaar gewerk het, sit sy eers musiek aan. “Ek hou daarvan om aan my musiek te kan vat, soos wat ek daarvan hou om aan my boeke te vat. Enigiets van Ennio Morricone en Buena Vista Social Club tot Cesaria Evora – en dan is Koos Kombuis en David Kramer se ‘Ek wil huis toe gaan’ seker een van die mooiste Afrikaanse liedjies.”
Maartens is die skrywer van My eerste Bybel, Engele van die Bybel en My Slaaptydgebedjies en talle ander kinderverhale wat ook Storiekaros, Rooimiere-in-die-broek-idioom-inkleurboek en Sylvester – Ramkat van die Groot-Karoo en nog 21 Lekkerlees Legendes, Ware Verhale & Staaltjies insluit.
Sy is tans ook besig met ʼn projek oor familiestaaltjies uit die Anglo-Boereoorlog. “Ek het besluit om ʼn boek saam te stel met soveel moontlik staaltjies wat nog in gesinne of gemeenskappe vertel word. Die projek lê my na aan die hart.”
- Het julle gesin of familie Anglo-Boereoorlogstories wat nog voortleef? Stuur gerus vir Maartens ʼn e-pos na [email protected] of besoek die webwerf vir meer inligting.