Wenkbrou

deur Deborah SteinmairWenkbrou

Hulle is in ʼn vreemde ruimte. Dis nog nie mooi lig nie. Die môre ruik na kraalmis en varkhok, die lug vibreer met plaasgeluide… Bedrieglik gewoon, amper gerusstellend. Maar in haar linkerslaap klop ʼn aardige voorgevoel. Onheil. Hulle is êrens in die sogenaamde Herder se opstal. Gisternag het hulle hom die sleutel met finaliteit in die deur hoor draai, aan die buitekant.
Toe Jesse hoor dat die kleinseun van moeder Motle, hoof van die Susters en lewenslange vriendin van haar ouma, vermis en vermoedelik vermoor is, besluit sy en Aga Gruber om te gaan ondersoek instel. Die twee vroue bevind hulle in ʼn vreemde wêreld, dié van ‘n Amish-agtige sekte in die Oos-Vrystaat. Hulle maak kennis met die groep none en die patriargale volgelinge wat leef volgens die ouderwetse geskrifte van hul menslike Herder.
Soos ʼn mens kan verwag by Deborah Steinmair se tweede komiese raaiselroman is dit nie lank voor Aga en Jesse ʼn rits rare ervarings beleef nie. Hulle word weer bygestaan deur die rowwe jack dude Claude. Dié slag met die hulp van sy nuwe vriendin, die wit sangoma Stasi Soldatos. Satiries, lig, vars.

Oor die outeur:
Deborah Steinmair het in Pretoria grootgeword. Sy het ʼn BA-graad in Engels en Drama behaal en ʼn honneurs in Drama. Sy was onder andere assistent vir ʼn reisende poppespeler en lektor in Engels. Sy is tans ʼn vryskutkopieskrywer, -redakteur,- proefleser en – skrywer. Deborah se debuutdigbundel, A see-through Suitcase, is in 2003 deur Genugtig gepubliseer. Haar debuutroman, Marike se laaste dans, het in 2010 verskyn en is in 2011 bekroon met die Jan Rabie Rapport-prys. Die roman was ook op die kortlys vir die M-Net Literêre prys in die Afrikaanse kategorie. Deborah het intussen twee onkonvensionele spanningsromans gepubliseer: Poppekas en Die neus. Die skrywer woon in Pretoria. Sy het twee dogters.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R185-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.