Wenners van 2021-Andrew Murray-pryse bekend

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Die Andrew Murray-prysfonds wat uitnemendheid in die Christelike media bevorder deur die bekroning van werke van hoogstaande gehalte in Afrikaans en ander tale van Suid-Afrika, het pas die wenners van vanjaar se pryse vir Christelike en teologiese boeke bekendgemaak.

Die hoofpryse is die Andrew Murray-prys vir Christelike en teologiese publikasies in Afrikaans en die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir Christelike en teologiese publikasies in enige amptelike taal van Suid-Afrika.

Die prysfonds bied ook pryse aan vir teologiese artikels, Christelike joernalistiek, Christelike radioprogramme en Christelike beeld-en-klank-produksies. Spesiale toekennings word ook van tyd tot tyd gemaak.

Andrew Murray-prys vir teologiese publikasies in Afrikaans
Die wenner van die Andrew Murray-prys is aan Malcolm de Roubaix toegeken vir sy boek Hoop, heling & harmonie. Dit is deur Penguin Random House uitgegee.

Die keurders beskryf dit as ʼn buitengewoon interessante boek wat lesers uitdaag om die mediese en gesondheidskwessies van ons dag op ʼn radikaal holistiese wyse te sien en te probeer oplos.

“Vir De Roubaix beteken dit uitdagings oor die sin van die lewe en alles wat lewe is, maar altyd binne die holistiese, spesifiek interdissiplinêre, konteks van teologie en wetenskap. Die mees beduidende uitspraak vir die optimale verstaan van die teks is sekerlik De Roubaix se stelling dat daar inderdaad geen ‘finale’ antwoord op die vraag na die ‘diepere’ betekenis van pyn, siekte en lyding is nie. Die skrywer is ook oortuig dat siekte allereers ʼn uiters persoonlike ervaring is wat ʼn mens tot in die diepste van sy of haar wese raak en interaksie met die wêreld radikaal affekteer.”

Keurders vir die Andrew Murray-prys sluit proff. Wentzel van Huyssteen en Fanie Snyman, sowel as dr. Ronell Bezuidenhout in. Die prys bestaan uit R25 000. De Roubaix het met Maroela Media gesels oor die taal van siekte en hoe pasiënte metafore gebruik om siekteprosesse en behandelings beter te verstaan. Klik hier om na die volledige onderhoud te luister.

Hykie Berg (Foto: Hykie Berg/Facebook)

Andrew Murray-Desmond Tutu-prys
Hykie Berg se boek Ultimate Survivor, wat by Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskyn het, is die wenner van die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir 2021. Dié prys word toegeken aan Christelike en teologiese publikasies in enige amptelike taal van Suid-Afrika

Volgens die keurders is Berg se vertelling van sy stryd met dwelms, alkohol, seks, dobbelary en ʼn lae selfbeeld op ʼn onopgesmukte wyse weergegee.

“Berg ‘preek’ nie vir sy lesers nie, maar vertel sy verhaal eerlik, deeglik en chronologies en wil daardeur ander help om hulle eie verslaafdheid te oorkom. Hiervoor span hy dieselfde twaalf stappe van herstel in wat hy in sy eie lewe toegepas het. Die twaalf stappe self is nie nuut nie, maar wel die wyse waarop dit in die boek aan die orde gestel word.”

Prof. Marius Nel, dr. Nina Muller-Van Velden en mnr. Heindrich Wyngaard was die keurders van die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys. Die prys bestaan uit R25 000.

Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys
Dié prys vir debuutwerk in ʼn amptelike taal van Suid-Afrika is vernoem na die Nobelpryswenner Desmond Tutu, en die vroeggestorwe Stellenbosse teoloog en boekeredakteur Gerrit Brand.

Vanjaar se wenner is Ivor Swartz, skrywer van Die verlore seun vannie Gaatjie, uitgegee deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers.

Ivor Swartz (Foto: Verskaf)

Die keurders beskou Swartz se debuutwerk as ʼn wonderlike getuienis: “Ivor se verhaal is rou en boeiend, die emosie eg, met fyn humor wat soms deurskemer. Ivor kry seer en maak seer en beland in die tronk. Dan vertel hy meesterlik hoe die besef by hom posvat dat hy nie met sy lewe soos dit is, tevrede kan wees nie. Wanneer hy dan sy tweede kans kry, gryp hy dit met albei sy hande.”

Volgens die paneel is hierdie boek boonop uiters aktueel omdat dit ʼn lewensverhaal vertel wat uit die armste en rofste dele van die samelewing kom. “Waar dit na ʼn soort gemeenplasigheid mag klink aan die einde van ʼn mindere boek, is dit hier ʼn treffende boodskap nadat die leser behoorlik ingelaat is in die skrikwekkende oorlewingstryd van die jong Swartz in die onveiligste deel van Grabouw.”

Die beoordelaars was Jana Marx, Le Roux Schoeman en Jacobie M Helena Visser. Die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys se prysgeld is R15 000.

Maroela Media het tydens ʼn Zoom-onderhoud met Swartz gesels oor sy tronk-outobiografie. Hy vertel hoe sy beskouing van God oor die jare verander het, wat sy rol as jeugpastoor vir hom beteken en hy verklap ʼn geheim uit sy tronkdae. Luister hier na die volledige onderhoud.

Andrew Murray-FAK-prys
Jan de Wet, geliefde Afrikaanse sanger van liedjies en liedere in verskillende genres, is die ontvanger van die Andrew Murray-FAK-toekenning vir 2021.

Dié toekenning is in 2016 die eerste keer gemaak en wel aan Chris Lambrechts vir sy buitengewone bydrae tot Christelike musiek.

CLF-Elise Tempelhoff-prys
David Botha ontvang dié prys ter erkenning van sy groot bydrae om teologiese gesprek oor natuurbewaring te stimuleer en ʼn Christelike standpunt oor die ekologie te help ontwikkel binne die konteks van die ekumeniese kerk in Suid-Afrika.

Dr. Danny Titus (Foto: Verskaf/ATKV)

Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning
Twee bekende Suid-Afrikaners wat onlangs oorlede is, Mary Ann Plaatjies-van Huffel en Danny Titus, word gesamentlik postuum vereer met die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir hulle besondere bydrae tot eenheid, versoening en geregtigheid in die kerk en in ons land.

Volgens Frits Gaum, voorsitter van die Andrew Murray-prysfonds, sal die oorhandigingsgeleentheid later vanjaar plaasvind:

“As gevolg van onsekerheid oor die Covid-19-pandemie, sal die oorhandigingsgeleentheid van die pryse en toekennings nie vanjaar soos gewoonlik in Mei plaasvind nie, maar hopelik in September in Wellington.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Wow…baie geluk vir elkeen en ook die wat nie noodwendig n prys gekry het nie maar hulle stories met ons deel…ek is n dankbare leser

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.