Wenners van Lapa se jeugromankompetisie aangewys

(Foto: Eliott Reyna/Unsplash.)

Die 2022-wenners van Lapa Uitgewers se tweejaarlikse jeugromankompetisie is Woensdag aanlyn bekendgemaak en lesers kan uitsien na drie splinternuwe jeugromans wat eersdaags verskyn.

Annelie Ferreira, skrywer van Dit het alles begin by ʼn hond, is as die wenner van die tienerafdeling, asook die algehele wenner aangewys.

Dit het alles begin by ‘n hond vertel die storie van hoe vier uiteenlopende tieners, Fundani, Sandria, Lihle en Vincent, se paaie kruis. Hulle ken mekaar van geen kant af nie, maar daar is iets magies wat hulle aan mekaar bind.

Die manuskrip is deur die beoordelaars beskryf as ʼn wonderlike en vernuwende verhaal. “Hierin word uiteenlopende wêrelde en geleefde ervarings geskets. Dit is werklik ʼn vernuwende teks waarin fantasie en werklikheid in ʼn wonderlike storie vervleg word.”

In die kategorie vir jonger tieners het Nerine Ahlers die eerste plek behaal vir Die verdwyning van Seamus Smit deur Seamus Smit, en Noreen Nolte het die kategorie vir jong volwassenes gewen met Uitverkies.

Lesers wat dol is oor superheldboeke en -flieks sal Ahlers se jeugboek terdeë geniet.

Nolte se Uitverkies is ’n distopiese verhaal met ’n sterk vroulike hoofkarakter, Zia. Die wêreld soos Zia dit ken, word skielik omvergegooi en alles is chaos. Hoe vind jy jou pad in hierdie deurmekaar wêreld?

Lapa se jeugromankompetisie het vanjaar 70 manuskripte deur gevestigde en debuutskrywers ontvang. Ferreira stap weg met R25 000, terwyl Ahlers en Nolte onderskeidelik R12 500 ontvang.

Klik hier om na die volledige uitsending te kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.