Wenners van pryse vir Christelike literatuur bekend

André Pretorius (Foto: Verskaf)

Die skrywer André Pretorius se reisverhaal waarvoor hy 500 jaar ná die begin van die Kerkhervorming in 1517 in die spore van groot hervormers gaan loop het, is pas met ʼn prys vir Christelike literatuur bekroon.

Pretorius is deel van ʼn aantal skrywers wat onlangs met ʼn Andrew Murray-boekprys bekroon is.

Geloof alleen: Reise deur die Kerkhervormings – die titel van sy verhaal – het die Andrew Murray-prys vir algemeen-Christelike publikasies verower.

Pretorius, ʼn prokureur wat al die afgelope 20 jaar in Cambridge woon, sê dié boek is eerder ʼn reisverhaal as ʼn boek wat volledig oor geloof handel.

“Die reise vir hierdie reisverhaal het Pretorius die afgelope dekade geneem na Duitsland, Frankryk, Spanje, Italië, Indië, die VSA en die Noord-Duitse plaas waar die Suid-Afrikaanse Pretoriusse vandaan kom,” lui ʼn verklaring van Naledi, die uitgewer.

Geloof Alleen (Foto: Verskaf)

“Die leser kan Pretorius volg waar hy 500 jaar ná die begin van die Kerkhervorming op 31 Oktober 1517 in die spore van Martin Luther en Johannes Calvyn – die groot hervormers – gaan loop. Maar hy reis verby Luther en Calvyn en besoek die plekke waar die sleutelsepisodes van daardie grootse rewolusie afgespeel het. Hy gaan na die plekke waar die godsdiensoorloë van die Hervormingsera ondenkbare verwoesting gesaai het, maar ook na die plekke waar die kreatiwiteit gebore uit die Protestantse verstaan van woorde en musiek van die grootste kunswerke van die mensdom geïnspireer het.”

Die Andrew Murray-FAK-prys vir Christelike musiek is vanjaar aan Pieter van der Westhuizen toegeken. ʼn Spesiale Andrew Murray-prys is gegee aan Timo Crouse vir sy rol in die verspreiding van die Bybel.

Louis Jonker het die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir Christelike vakwetenskap gewen vir sy boek, Defining All-Isreal in Chronicles. Pierre du Plessis het die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir ʼn debuutwerk in ʼn amptelike taal van Suid-Afrika gewen vir sy boek, Jesus ruik na mirre en stof.

Die pryse word in Mei oorhandig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Klaas Vragie ·

Waarom word Desmond Tutu se naam gekoppel aan die Andrew Murray prys? E

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.