Wenners van Woordveertjies aangekondig

Die dao van Daan van der Walt is benoem in die kategorie ATKV-Prosaprys.

Deon Meyer, Pieter Odendaal en Lodewyk G du Plessis kan almal ná die naweek ʼn ekstra veer in hul skrywershoed druk – ʼn Woordveertjie om presies te wees.

Dít nadat hulle elkeen Vrydagaand met ʼn ATKV-Woordveertjie-toekenning bekroon is tydens ʼn feestelike toekenningsaand in Stellenbosch. Die Woordveertjies is vanjaar vir die 12de keer aangebied.

Leonie van Rensburg, stigter en eienaar van Graffiti Boeke, is tydens die geleentheid met ʼn spesiale toekenning vereer vir haar passievolle toewyding aan Afrikaanse boeke en skrywers. “Haar haas ongeëwenaarde kennis van die plaaslike boekemark bring lesers en Afrikaanse boeke nie net binnelands nie maar oor die hele wêreld by mekaar uit,” het die ATKV in ʼn verklaring gesê.

Die wenners van vanjaar se Woordveertjies is soos volg:

  • Die dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis het die ATKV-prosaprys gewen. Dié prys se beoordelaars was Anastasia de Vries, Elmari Rautenbach en Kirby van der Merwe.
  • Deon Meyer se Prooi is bekroon met die prys vir spanningslektuur. Die beoordelaars in hierdie kategorie was Phyllis Green, Thys Human en Valda Jansen.
  • Asof geen berge ooit hier gewoon het nie van Pieter Odendaal het die prys vir poësie ontvang. Die beoordelaars in hierdie kategorie was Diana Ferrus, Charl-Pierre Naudé en Bernard Odendaal.
  • Die prys vir liefdesroman is toegeken aan Chanette Paul vir Uit die bloute. Die kategorie is beoordeel deur Shireen Crotz, Roela Hattingh en Madri Victor.
  • Die prys vir romanse is deur Carol-Ann Alexander, Naomi Bruwer en Riette Rust beoordeel. Die wenner is Elsa Winckler vir Blameer die skoenlapper.
  • Klippe wat val van die dramaturg Philip Rademeyer is bekroon met die prys vir dramateks, beoordeel deur Marina Griebenow, Ilse Oppelt en Hennie van Greunen. 
  • Die prys vir niefiksie het gegaan aan Petrovna Metelerkamp vir Ingrid Jonker. Die kategorie is beoordeel deur Jean Meiring, Herman Wasserman en Bettina Wyngaard.
  • Die woordwys-toekenning vir woordeboeke en taalgidse is aan Pharos Afrikaansgids (2018) toegeken. Nicol Faasen was die samesteller van hierdie gids. Die kategorie is deur Rufus Gouws, Sophia Kapp en Fred Pheiffer beoordeel.
  • Die toekenning vir leesbevordering gaan vanjaar aan die Du Toitskloof Fairtrade Mobiele Biblioteek en Mediasentrum.

Spaghetti tussen jou tone, geskryf deur Jaco Jacobs en geïllustreer deur Alex van Houwelingen.

Die wenners van die ATKV-kinderboektoekennings, ʼn kategorie waar die kinders self vir hulle gunstelingboeke en -illustrasies stem, is soos volg:

Voorleeskategorie: Graad RR–1
Wenner: Die dag toe Ernst ʼn ertjie geëet het
Skrywer: Jaco Jacobs
Illustreerder: Johann Strauss

Selfleeskategorie: Graad 2–3
Wenner: Spaghetti tussen jou tone
Skrywer: Jaco Jacobs
Illustreerder: Alex van Houwelingen

Selfleeskategorie: Graad 4–5
Wenner: Max die masjien
Skrywer: Jaco Jacobs
Illustreerder: Stephen Wallace

Selfleeskategorie: Graad 6–7
Wenner: Jinx
Skrywer: Celeste Slabber-Loriston

Selfleeskategorie: Graad 8–10
Wenner: Veldiep
Skrywer: Fanie Viljoen

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.