Wêreldboeke-en-kopieregdag: Uitgewersbedryf, regskenners laat hul stemme hoor

Grafika: Mediamodifier/Pixabay

Wêreldboeke-en-kopieregdag word in April gevier. Skrywers, uitgewers en ander betrokke partye in die bedryf het vanjaar dié geleentheid gebruik om nie net lees te bevorder nie, maar ook hul stemme dik te maak oor die onregmatige verspreiding van hul werk.

Sedert die begin van die afsonderingstydperk is daar ʼn toename aangemeld in die verspreiding van materiaal, meer spesifiek digitale kopieë van tydskrifte, e-boeke, boeke wat gekopieer en in PDF-formaat aangestuur word, asook die opname en voorlees van stories.

Maroela Media het by regskenners en uitgewers gaan aanklop om meer uit te vind oor intellektuele eiendomsreg, skending van outeursreg en die verantwoordelikheid van uitgewers en lesers in die verspreiding van materiaal.

Meer oor intellektuele eiendomsreg

“Intellektuele eiendomsreg (IE) is amper soos ʼn gesin waarvan outeursreg ʼn lid is,” verduidelik prof. Owen Dean, emeritus professor in intellektuele eiendomsreg en navorsingsgenoot aan die Universiteit van Stellenbosch.

Foto ter illustrasie: Morné van Rooyen

Esmari Jonker, ʼn prokureur wat in IE-reg spesialiseer, verduidelik verder dat IE ʼn oorkoepelende regsterm is, wat skeppings van die menslike verstand beskerm. Dit sluit onder meer outeurs- en patentreg, handelsgeheime (trade secrets), ontwerpe en handelsmerke in.

“Sommige van dié regte word deur amptelike wetgewing beskerm terwyl ander aspekte, soos handelsgeheime en kennis, ingevolge die gemenereg beskerm word,” sê Jonker.

In Suid-Afrika word outeurs- of kopiereg deur die Wet op Outeursreg beskerm. Dit verhoed dat ander partye onwettige kopieë, reproduksies of aanpassings van die produk maak en dat roofkopieë wat outeursreg skend, verkoop of versprei word.

Outeursreg beveilig oorspronklike skeppingswerk soos literêre, musikale en artistieke werk (byvoorbeeld skilderye, foto’s en argitektoniese werk), rolprente, klankopnames, gepubliseerde uitgawes en rekenaarprogramme.

Dié wet bepaal wie die skrywer of eienaar van ʼn bepaalde produk is, vir watter tydperk die produk beskerm word en tot watter mate die inhoud gebruik mag word. Die eienaar kan ʼn skrywer, kunstenaar, musikant of selfs ʼn uitgewer wees.

“Registrasie van outeursreg (met die uitsondering van rolprente) is egter nie in Suid-Afrika moontlik nie,” sê Jonker. “Maar alle oorspronklike werke wat tot ʼn wesenlike vorm gereduseer word, sal outomaties ingevolge bogenoemde wetgewing beskerm word,” bevestig sy.

Die duur van outeursreg word deur die soort werk bepaal.

Literêre, musikale en artistieke werk word beskerm solank die eienaar leef plus 50 jaar ná sy of haar dood. Rolprente, klankopnames, uitsendings en gepubliseerde uitgawes word vir 50 jaar ná die eerste bekendstelling aan die publiek beskerm.

Die algemene reël is dus dat ʼn werk 50 jaar ná die eerste bekendstelling aan die publiek of 50 jaar ná die dood van die outeur beskerm word.

Skending van outeursreg

Skending van outeursreg vind plaas wanneer ʼn hele werk of selfs ʼn gedeelte daarvan sonder goedkeuring van die eienaar gebruik word.

“Die algemene beginsel is dat enige duplisering, aanpassing of verspreiding van ʼn werk wat sonder die goedkeuring van die eienaar plaasvind, die outeursreg skend en onwettig is,” bevestig Dean. “Dit is van toepassing, ongeag of die ongemagtigde aksie ʼn fisieke, digitale of ander vorm aanneem.”

PEN Afrikaans het lesers vanjaar op Wêreldboek-en-kopieregdag aangemoedig om skrywers en boeke, asook outeursreg te respekteer (Foto: PEN Afrikaans/Facebook)

Dit beteken onder meer dat fotostate, digitale kopieë, voorlesings en opnames van literêre werke onwettig is, indien die skrywer of uitgewer nie ingestem het nie.

Hoewel daar uitsonderings op die basiese reël is, kan die onregmatige verspreiding van materiaal bepaalde gevolge inhou. Dean en Jonker verduidelik dat kopieregskending inderwaarheid ʼn strafregtelike oortreding is.

“Die skending van outeursreg vind plaas wanneer ʼn persoon die hele skeppingswerk sonder toestemming gebruik, maar ook wanneer ʼn substansiële deel van ʼn produk gekopieer, aangepas of versprei word,” sê Jonker.

(Foto: pixabay)

Roofkopieë van e-boeke of klankopnames van stories wat die ronde doen, hetsy per e-pos of deur WhatsApp, kan selfs diegene wat dit sorgeloos aanstuur in die sop laat beland.

“As die verspreiding ongemagtig is, pleeg die doener kopieregskending en kan hy gedagvaar word. Die dagvaarding kan ʼn interdik tot gevolg hê wat die sogenaamde aktiwiteit beperk, asook skadevergoeding en die dekking van regskoste eis,” verduidelik Dean.

Jonker beaam dié stelling.

“Buiten dat die eienaar van die produk regstappe kan doen en ʼn interdik teen die oortreder kan kry, kan die eienaar ook eis dat die roofkopieë tot niet gemaak of terugbesorg word. Die eienaar kan boonop ʼn redelike tantieme eis,” sê sy.

Jonker vermeld ook dat die eienaar se morele regte, buiten outeursreg op ʼn produk, ook deur die wet beskerm word.

“Die eienaar het die reg om beswaar te maak teen enige verdraaiing, skending of ander wysiging van die werk waar sodanige optrede die eer of goeie naam van die persoon sou benadeel. Die morele regte van die skrywer word dus onderskei van die outeursreg,” verklaar sy.

Die onwettige verspreiding van materiaal is geensins toelaatbaar nie. Maar met die nodige toestemming is dit moontlik om ʼn werk binne perke te gebruik.

(Foto: pixabay)

In gevalle waar die materiaal vir navorsing of privaat studie, kritiek, resensies of joernalistieke doeleindes aangewend word, is dit toelaatbaar. Jonker verduidelik dat werk met outeursreg in dié omstandighede nie deur “billike handel” geskend word nie.

“ʼn Persoon mag die eienaar van die werk nader om toestemming vir die gebruik van sodanige werk te verkry. ʼn Ooreenkoms word dan opgestel wat bepaal tot watter mate die materiaal gebruik mag word.”

Dit geld ook vir onderwysers, dosente of ander partye wat mense in ʼn akademiese omgewing oplei. Hoewel daar uitsonderings in dié gevalle is, moet die opvoeder steeds toestemming verkry, voordat die materiaal gekopieer en versprei word, verduidelik Nicolaas Faasen namens die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (Pasa).

Dean bevestig dat die eienaar van die oorspronklike werk vryheid het om die gebruik van sy werk goed te keur.

Wat staan uitgewers te doen?

“Die omvang van onwettige kopiëring en verspreiding van digitale kopieë is kommerwekkend,” het Faasen gesê. “Die verspreiding vind meestal op sosialemediaplatforms, meer spesifiek WhatsApp, plaas.”

Izak de Vries, bemarking-en-kommunikasiebestuurder by Lapa Uitgewers, sê ook dat daar ʼn enorme groep mense is wat skielik boeke voorlees, deel of weggee. Nog ʼn uitgewer, wat verkies om anoniem te bly, bevestig dié probleem.

“Daar is inderdaad ʼn groot toename van kopieregskending. Dit is nie net ten opsigte van opvoedkundige materiaal nie, maar ook fiksie en niefiksie aan die algemene handel. Die verspreiding van voorlesings sonder toestemming van die kopiereghouer is onregmatig. Dit is selfs erger in gevalle waar daar wel oudioboeke van die titels te koop is,” het dié uitgewer gesê.

PEN Afrikaans het lesers vanjaar op Wêreldboek-en-kopieregdag aangemoedig om skrywers en boeke, asook outeursreg te respekteer (Foto: PEN Afrikaans/Facebook)

De Vries sê dat materiaal wat vir opvoedkundige doeleindes aangewend word, binne grense beskikbaar gestel word.

“Uitgewers laat skole toe om materiaal op groepe te deel wat geslote is vir die publiek,” verduidelik hy. “Die ooreenkoms is dat dit ná die afsonderingstyd vernietig word. Uitgewers, in samewerking met Pasa, probeer hard om skole op dié manier te ondersteun.

“Ons kan egter nie toelaat dat ons boeke lukraak op openbare platforms gedeel sal word nie. Daarom word elke versoek streng beoordeel,” voeg De Vries by.

Faasen sê die meeste deelnemers wat by groepe betrokke raak en deelneem aan die aktiwiteite, doen dit waarskynlik uit ʼn liefde vir lees en die behoefte aan leesstof.

Hy sê uitgewers erken die behoefte van lesers, veral tydens die afsonderingstydperk, en wil nie nou al hardhandig optree nie.

Dit is egter belangrik dat lesers moet besef wat die uitwerking hiervan op die uitgewersbedryf en outeurs is en dat onregmatige verspreiding ernstige nagevolge inhou.

Wat hou dit vir lesers in?

Uitgewers en skrywers moedig lesers aan om boeke en ander werke op ʼn verantwoordelike en wettige manier te verkry en die Wet op Outeursreg te respekteer. Hier is ʼn lys met die belangrikste vrae wat lesers in gedagte moet hou wanneer ʼn roofkopie by hulle afgelewer word:

  • Is jy bewus daarvan dat die verspreiding, aanstuur of deelname aan aktiwiteite wat outeursreg skend ʼn strafregtelike oortreding is en dat jy ook skuldig bevind kan word?
  • Is dit ʼn amptelike bron wat die werk aangestuur het?
  • Het die persoon wat dit versprei toestemming by die skrywer en uitgewer ontvang (indien dit nie deur die kopiereghouer gestuur is nie)?
  • Indien jy dit op ʼn WhatsApp-groep ontvang: Is dit ʼn geslote groep wat voldoen aan vereistes soos deur die uitgewers gespesifiseer?
  • Indien jy self die materiaal benodig: Is dit vir navorsings-, studie- of resensiedoeleindes?
  • Laat jou ooreenkoms met die uitgewer of kopiereghouer toe dat jy die materiaal versprei?
  • Is daar ʼn e- of oudioboek beskikbaar wat jy kan koop?

Oorweeg ook die volgende punte wanneer jy met e-boeke of ander weergawes van die materiaal werk:

  • Jonker raai lesers aan om werk wat deur outeursreg beskerm word met die kopieregsimbool © te merk, asook om die naam van die eienaar en die jaar waarin die outeursreg geskep is, te noem. Byvoorbeeld: © Maroela Media 2019
  • Maak by die skrywer, uitgewer of kopiereghouer seker of hulle bewus is van die kopie wat versprei word.
  • Raak eerder van die werk ontslae as jy vermoed dat dit onregmatig aangestuur is.
  • Verwyder dit van jou foon af, moenie ʼn kopie aflaai of op jou rekenaar stoor nie en verlaat die groep waarop dit versprei is.

Kyk hier na ʼn video wat op 23 April deur PEN Afrikaans gedeel is. In dié video pleit skrywers dat lesers hulle boeke koop en outeursreg respekteer:

Wêreldboeke- en kopieregdag 2020

Gelukkige Wêreldboeke- en kopieregdag. Kom ons ondersteun skrywers deur nie net hul boeke nie, maar ook hul kopiereg te respekteer. #WorldBookandCopyrightDay

Posted by PEN Afrikaans on Thursday, 23 April 2020

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
capie

Ek lees op die oomblik boeke wat ek van ‘n skrywer wat in 1972 oorlede is wat ek van die internet afgelaai het. van dit kom selfs van universiteite af. Dit handel oor die lewe in die Kaap oor talle jare , onderhoude wat hy as jong joernalis in die vroee 1900’s met ouer mense gevoer het en hulle vertellings. Ook oor sy reise deur Afrika en ander oorsese lande. ‘n Ontsaglike klomp kennis wat hy deel met ons wat ver verwyder is van daardie tyd. As dit nie gratis afgelaai kan word nie, is dit vir altyd verlore vir… Lees meer »

Karin

Ek is nou bietjie in die donker, indien ek ‘n e-boek of harde kopie gekoop het, mag ek nie die boek deel met my Ma of sussie nie? Hoekom begin uitgewers nie met ‘n online biblioteek nie. Iets in die lyn van Netflieks, maar net vir boeke? Ons het nie meer vrylik toegang tot boeke soos wat dit altyd was met Biblioteke nie. Daar is nie geld om die bibs aan die gang te hou nie, en hulle koop nie nuwe materiaal aan nie. Dit is ook soms gevaarlik om na hulle toe te gaan, as mens kyk na die… Lees meer »