Wêreldboekedag, waarde van lees word benadruk

Verkies jy om met jou neus in ʼn boek rond te snuffel eerder as om ʼn aand uit te geniet of voor die kassie in te skuif? Bekendes soos Elon Musk, Oprah Winfrey en Barack Obama glo dat dit belangrik is om gereeld te lees.

“By Reputation Matters word ons aangemoedig om minstens een boek per maand te lees, en met goeie rede,” vertel Nalene de Klerk, reputasiebestuurder van dié maatskappy.

De Klerk sê die afsonderingstydperk wat tans ingestel is weens die koronavirus, bied aan elke Suid-Afrikaner ʼn geleentheid om gesonde leesgewoontes te kweek.

“Op Wêreldboekedag moedig ons elkeen aan om gereeld te lees, want belese mense help om ʼn sterker nasie te bou.”

Sy verduidelik dat lees verskeie voordele inhou. Dit brei die leser se woordeskat uit, dit verhoog nuuskierigheid en innoverende denke en dit verbreed jou algemene kennis.

Lees brei woordeskat uit

“Lees verhoog ons begrip van hoe verskeie taalelemente bymekaar aansluit – hetsy die leser ʼn fiktiewe wêreld verken of ʼn nuwe vaardigheid wil baasraak,” verklaar De Klerk. Elemente soos lees- en skryftekens, spelling en grammatika is noodsaaklik vir doeltreffende interpersoonlike kommunikasie. Lees is kardinaal vir kinders se ontwikkeling, maar behoorlike taalgebruik speel ook ʼn rol in die geloofwaardigheid van volwassenes se kommunikasie.

Lees prikkel die verbeelding en stimuleer innoverende denke

Deur gereeld te lees word die leser se horisonne verbreed en kan daardie persoon makliker buite die boks dink. De Klerk reken dat fiksie of biografieë die leser in staat stel om ander mense se wêreldbeskouings te verken en sodoende hul emosionele intelligensie te verhoog. Sy voeg by dat die lees van niefiksie lesers meer leer oor elemente van die lewe en die wêreld wat hulle nie vantevore geken het nie. “Leesstof help almal om kreatiewe oplossings vir uitdagings in die alledaagse lewe en in die sakewêreld te vind,” sê De Klerk.

Lees verbreed jou kennis

“Daar is iets om te leer uit elke boek of brokkie inligting wat ons lees,” meen De Klerk. Sy erken dat daar meriete is om nuus- en aktuele sake te lees, maar boeke stel ons in staat om die wêreld binne ʼn groter konteks en op lang termyn beter te verstaan. “Dit is ook meer voordelig om vir selfverbetering en opvoeding eerder as vir blote vermaak te lees,” sê De Klerk. “Dit is wat beroemde mense soos Bill Gates ʼn voorsprong in die lewe en in die sakewêreld gee.”

Hoewel biblioteke tans landwyd gesluit is, is daar ʼn magdom e-boeke en ander digitale leesstof beskikbaar. Dit sluit Reputation Matters se praktiese gids in wat wenke deel oor die instandhouding van ʼn onderneming se reputasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.