Weskusvroue se boek leer kinders sosiale vaardighede

Trish Goosen en Shemone Bokhary met voorbeelde uit hul boekreeks, Zoey en die Superslimhelpers. Foto: Alida Buckle.

Deur Alida Buckle

Twee Weskusma’s het ’n opvoedkundige boekereeks ontwikkel vir kinders tussen 3 en 5 jaar, wat hulle speel-speel sosiale vaardighede soos verdraagsaamheid, empatie en liefde leer.

Die onlangse bekendstelling van Trish Goosen en Shemone Bokhary se eerste boek in die reeks, Zoey en die Superslimhelpers, was ’n droom wat bewaarheid is. Hulle hoop om met dié boek te help om “ons pragtige, diverse Suid-Afrika te verenig”.’

Die storielyn wakker leergierigheid aan en skep ’n leeskultuur.

Trish, gevestigde skrywer en bekroonde joernalis, vertel dat sy en Shemone, vroeëkinderontwikkeling-spesialis, mekaar in 2015 ontmoet het toe sy gaan foto’s neem het vir die plaaslike koerant.

“Ons het dadelik van mekaar gehou en oor jare baie met mekaar te doen gekry.”

In 2017 het iemand ’n opmerking teenoor Shemone (wat landwyd praatjies oor vroeë kinderontwikkeling aanbied) gemaak dat daar nie eg-Weskuskinderstorieboeke bestaan nie.

Aan die begin van 2019 het Shemone met haar boekidee na Trish gekom, wat uitgeloop het hulle vennootskap.

Hulle het saam die karakters geskep.

“Dit was vir ons belangrik om ’n diverse groep karakters vir vandag se Suid-Afrikaanse omgewing te skep. Elke fyn besonderheid, van Zoey se bril tot Piet se gestremdheid en elke persoonlikheid is goed deurdink.”

Die karakters voel al soos hul eie kinders, want Trish en Shemone het saam geboorte aan die storie gegee en Trish het dit neergepen en elke karakter met die hand geteken, waarna die karakters digitaal met ’n ontwerpprogram oorgeteken is. Sy is linkshandig, maar wanneer sy digitaal teken, gebruik sy haar regterhand. Sy gebruik ook nie ’n digitale pen nie, maar teken met ’n tekentoepassing en ’n muis.

Omdat hul eie kinders nog baie jonk is, ken hulle hul teikenmark goed en weet waarvan hulle hou.

Die vroue het elf maande lank nagte om gewerk, ten spyte van hul voltydse werk bedags. Benewens die skryf en teken is daar ook die administratiewe verpligtinge, vergaderings met rolspelers, die opbou van ’n netwerk van rolspelers en Zoey-demonstrasies by skole en kleuterskole. Dit het omtrent 11 maande geneem om die boek drukgereed te kry.

“Ons sal nie rus voor elke kind in Suid-Afrika weet wie Zoey, Piet, Lebo, Rubie en Elroy is nie. Ons wil Zoey ’n bekende handelsmerk maak.”

Die lewenslesse in die boeke spreek tot die hedendaagse en uniek-Suid-Afrikaanse probleme onder Suid-Afrikaanse kinders en wil sosiale en akademiese uitkomste onder kinders verbeter.

Hulle gebruik popreplikas van die diverse karakters in hul skoolbesoeke waaroor die kinders gaande is. Hulle gebruik ook plakkaatgrootte kartonweergawes van bladsye uit die boek om sekere aspekte met die kinders te behandel.

Die boek se voorblad. Grafika: Verskaf.

Zoey, die bebrilde superslim hoofkarakter, het ’n enkelma wat nie vir haar al die dinge in die lewe kan koop soos van haar ryker vriende nie. Sy raak gereeld weg in haar verbeelding. Elroy, weer, soek die hele tyd negatiewe aandag, want hy het probleme by sy ouerhuis en gevolglik word die ander gereeld vir hom kwaad, maar hulle vergewe hom keer op keer. Hy leer dat dit onnodig is om te jok of maats te spot om aanvaar te word en sodoende word boeliegedrag voorkom. Blondekop Piet sit in ’n rolstoel en omdat die ander hom help, versterk dit die boodskap dat selfs kinders met gebreke goed genoeg is om vriende te hê wat jou aanvaar en deel van die pret maak. Lebo dra as ’n reël ’n tiara en pienk – ’n regte prinsessie waaroor die dogtertjies gaande is.

Daar is ook ’n karakter vir kleiner kinders, Rubie, met skelrooi hare, wat enigiets sal doen om deel van die ouer Superslimhelpers te wees.

Nog lesse sluit in om nie rommel te strooi nie en te kyk voordat jy oor die pad loop.

Die boek is ook so saamgestel dat kinderpraktisyns dit ook in terapie kan gebruik.

Trish en Shemone het geleer om saam te staan en dat “as mens doen waarvan jy hou, dit nie soos werk voel nie, selfs al werk jy jouself oor ’n mik”.

Hulle het ook geleer om hul eie kinders meer te waardeer vir wie hulle is.

  • Zoey en die Superslimhelpers is beskikbaar in Afrikaans, Engels en woordloos, sodat kinders op hul eie verbeeldingsvlug kan gaan. Om die boek te bestel of meer inligting te kry, stuur ’n e-pos [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae