Westdene-busramp: Meer as 35 jaar later

Dit was 27 Maart 1985, omstreeks halfvier die middag, slegs twee dae voor die skoolvakansie. Soos gewoonlik het die geel dubbeldekker- munisipale bus skoliere van die Hoërskool Vorentoe vanaf Rossmore na hul huise in Westdene, Triomf en Newlands vervoer. Aan die stuur was die 41-jarige Willem Horne, wat glo erg was oor die skoolkinders en gewoonlik vir hulle popmusiek oor die bus se radio gespeel het.

Die atmosfeer in die bus was gemoedelik, die vakansie is om die draai. Aan die voet van die Randse Afrikaanse Universiteit begin die bus soos gewoonlik oor die Westdenedam oorsteek. Maar die bus beweeg na links, bars deur die damversperring en ploeg regoor die middel van die brug te midde van ʼn gegil en geskree van die kinders 10 m verder in die dam. Die bus begin stadig sink en oral begin kinders in hul maroen skooldrag verskrik en verward by die oop vensters uitpeul. Verskeie volwasse mans in die nabyheid spring dadelik in om te help, maar in hierdie oomblikke van chaos is ook ʼn paar kinderhelde gebore.

***

Dewald van Dyk was ʼn paramedikus ten tyde van die ramp en deel van die nooddienste wat ʼn kwartier ná die ongeluk by die dam opgedaag het. Hy het onmiddellik ʼn domkrag van een van die ambulanse gegryp, ʼn busvenster oopgebreek en Reinette du Plooy uit die bus getrek en op die dak van die bus noodasemhaling toegepas. Toe sy in sy mond opgooi, het hy met haar kant toe geswem en aan die paramedici op die pad oorgegee. Ongelukkig het sy nie oorleef nie. Die kinders is uit die bus gesleep, van wie sommige nog geleef het, maar die meeste was reeds dood. Vir Van Dyk en sy kollegas het dit ʼn reddingsoperasie geword wat tot middernag geduur het en moes hulle herhaaldelik induik om die lewelose liggame uit die water te haal. Sy kollega Eddie Haskins het die bestuurder, Willem Horne, bewusteloos agter die stuurwiel aangetref en hom na die oppervlakte getrek, waar sy lewe met noodasemhaling gered is. Van Dyk het die gebeure van Westdene as “die lelikste dag van my lewe” beskryf.

***

Een van die goeie nagevolge van die ramp was dat Johannesburg sy rampbestuurplan herskryf het om massaverdrinkings daarby in te sluit, tesame met mynrampe, bomvoorvalle, brande en vliegongelukke.

In 2009 is ʼn gedenkteken op die noordwestelike oewer van die Westdenedam opgerig om die ramp te gedenk, en die skool hou ook jaarliks ʼn gedenkdiens vir die 42 slagoffers.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Protea Boeke. Klik hier om Nêrens veilig aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.