Wil jy medies studeer? Dié boek beantwoord jou vrae

Francois Jacobs en Edward Blignaut, twee sesdejaar- mediese studente verbonde aan die Universiteit van Pretoria, het onlangs ʼn boek geskryf oor mediese studie in Suid-Afrika.

“Toe ons dié skrikwekkende aansoekproses gedurende ons matriekjaar moes aanpak, het ons staatgemaak op ons ouers se ondersteuning, die inligting wat ons self in die hande kon kry en ‘n aansienlike mate van selfvertroue,” onthou Jacobs en Blignaut.

In The Flipside of studying Medicine werp hulle lig op keuringsvereistes, huidige studente se subjektiewe ervarings en dokters se ondervinding in die praktyk. Maroela Media het onlangs met die skrywers gesels om vas te stel wat hul navorsing alles opgelewer het.

“Suid-Afrika het slegs nege universiteite wat mediese kwalifikasies aanbied. Dit is nie naastenby genoeg om die voornemende studente in te neem wat jaarliks uit sowat 36 000 aansoeke gekeur word nie,” sê die skrywers.

Jacobs en Blignaut bied telkens inligting oor die onderskeie universiteite se keuringsproses, asook die relatiewe kans om gekeur te word, op objektiewe wyse aan. Maar huidige mediese studente se ervarings word egter op ʼn subjektiewe wyse weergegee.

“Studente van oor Suid-Afrika het met ons oor hul mediese studie gesels en wat aspirantdokters kan verwag wanneer hulle gekeur is. Dit is ʼn uitdagende pad en as jy nie om die regte redes inskryf nie, gaan jy dit beslis nie enduit deurvoer nie,” vertel hulle.

Jacobs en Blignaut wil boonop die “(meestal) neurotiese poel van aansoekers en hul ouers” se wanindrukke en wolhaarstories die nekslag toedien.

The Flipside of studying Medicine is ʼn selfpublikasie wat aanlyn beskikbaar is. Klik hier indien jy belangstel om die boek te koop.

  • Maroela Media het tydens ʼn Zoom-onderhoud met Francois Jacobs en Edward Blignaut, skrywers van The Flipside of studying Medicine, gesels. Jacobs en Blignaut, twee sesdejaar- mediese studente aan die Universiteit van Pretoria, het onlangs ʼn boek oor mediese studie in Suid-Afrika geskryf. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.