Wonderlike kinderboeke

Dié vyf boeke word voorgeskryf vir kinders tussen drie en ses jaar oud. Dis inderdaad wonderlik dat jong Afrikaanse kinders die voorreg het om aan kwaliteit leesmateriaal blootgestel te word – van heerlike, skaterlag fiksie tot ’n asemrowende woordeboek en geestelike leesstof.

Die beste toebroodjie

Hierdie ou gunsteling (2006) van die topverkoperskrywer, Jaco Jacobs, beloof om ’n hele geslag nuwe lesertjies van drie jaar en ouer te bekoor. Nicolene Louw se pragtige volkleur illustrasies gryp die verbeelding aan en laat die karakters lewe.

Markus se maag gor in die middel van die nag. Hy is lus vir ’n doodgewone grondboontjiebotter-en-konfyt toebroodjie. Daar klim egter ’n yslike ysbeer en drie pikkewyne uit die yskas wat hulle eie idee het van hoe die beste toebroodjie ooit moet lyk. Gou is daar chaos in Markus-hulle se kombuis, en dít terwyl sy pa-hulle slaap! Waarskuwing: Hierdie oulike storie van 32 bladsye sal heel waarskynlik lei tot ’n allemintige drang om die grootste, malste en morsigste toebroodjie ooit te eet!

Meer oor die outeur: Jaco Jacobs het geen bekendstelling nodig nie. Dié uiters gewilde en geliefde skrywer van Bloemfontein se werk het al baie pryse en toekennings verower.

Die beste toebroodjie word deur LAPA Uitgewers uitgegee en is by toonaangewende boekhandelaars beskikbaar. Klik hier om die boek te koop.

1000 nuttige woorde

Hierdie kleurvolle, hardeband woordeboek van 64 bladsye is geskik vir kinders wat nog nie lees nie, beginnerlesers en diegene wat graag Afrikaans wil leer. Dié leersame boek is oorspronklik as 1000 useful words uitgegee en is geskryf in samewerking met die opvoedkundige konsultant, Penny Coltman. An-Mari Fouché het die teks in Afrikaans vertaal. 1000 nuttige woorde word in medeproduksie met Dorling Kindersley uitgegee. Sewe talentvolle illustreerders het trots bygedra daartoe dat die prentjies aandag trek en die boek ’n plesier is om deur te blaai.

Die woordeboek ontwikkel die jong kind se woordeskat en geletterdheidsvaardighede speel-speel. Dit beslaan woorde (bv. selfstandige naamwoorde, werkwoorde en byvoeglike naamwoorde, ens.) en prente, vyf eenvoudige stories en “Kan jy dit kry?”-speletjies en maklike vrae. Die ryklik geïllustreerde teks is ook ingedeel in allerlei opwindende onderwerpe, soos my liggaam, diere, kleure, vorms, getalle, ens. Die boek bevat ’n nota oor sigwoorde, dek talle interessante besprekingspunte en gee raad vir die ouers/onderwysers. Skaf gerus hierdie wonderlike boek aan vir ’n kind van vyf jaar en ouer, want in Graad R begin die lesertjie al woorde herken en in Graad 1 begin hy of sy die woorde lees.

1000 nuttige woorde word deur Penguin Random House uitgegee en is by toonaangewende boekhandelaars beskikbaar. Klik hier om die boek te koop.

My eerste Bybel met Onthou-verse

Hierdie oulike eerste Bybel met uitgesoekte verse is in ’n tassie-formaat (so ewe mét ’n handvatsel en knip!) sodat die kind sy boek orals heen kan saamdra. Die sponsgevulde hardebandboek beslaan 45 bladsye en 22 hoofstukke en is geskik vir kinders drie tot ses jaar oud. Die ryklik geïllustreerde teks komplimenteer die kort beskrywings van gewilde Bybelverhale asook die spesiaal uitgesoekte onthou-vers wat by elke verhaal pas. Die boek gee ook raad oor hoe om die Bybelverse te memoriseer en herinner die kind gereeld daaraan om die vers(e) op te sê. Die immergewilde stories uit die Bybel (bv. God se plan vir Abraham, God help vir Moses, Dawid se geloof, Elia vertrou op God, Daniël en die leeus, Saggeus verander, Jesus was sy dissipels se voete, ens.) asook die pragtige illustrasies maak die verse meer verstaanbaar vir jong kinders. So word daar ook ’n liefde vir God se Woord gekweek.

My eerste Bybel met Onthou-verse word deur Christian Art Kids uitgegee en kan hier bestel word. Dit is ook beskikbaar in Engels as My First Memory Verse Bible.

God hoor wanneer jy bid

Hierdie pragtige hardebandboek van 49 bladsye is ’n samestelling van die oorspronklike The Lord’s Prayer en Psalm 34 en is in Afrikaans vertaal deur Elzeré Poley. Agnes en Salem de Bezenac, ook die outeurs, het vir die allerfraaiste volkleur illustrasies en prettige karakters gesorg. Die skrifverwysings kom uit Psalm 34 en Matteus 6 (Onse Vader).

Op bladsye 10 en 11 word die volgende gedagte met die kind gedeel: “Wanneer ek tot God bid, hoor Hy my en ek voel nie meer bang nie.” Dit word vergesel deur die vers: “Ek het tot die Here gebid en Hy het my geantwoord, Hy het my bevry van alles waarvoor ek bang is.” (Psalm 34:4)

Die boek is geskik vir kinders tussen drie en ses jaar oud en bring by die kind tuis dat God graag met jou wil praat en tyd saam met jou wil deurbring, en dat jy ook met Hom oor enige iets mag praat.

God hoor wanneer jy bid word deur Christian Art Kids uitgegee en kan hier bestel word. Dit is ook in Engels beskikbaar as God Hears When You Pray.

God is altyd by jou

Hierdie lieflik geïllustreerde hardebandboek van 49 bladsye stel Psalm 121 en Psalm 91 aan kinders tussen drie en ses jaar oud bekend en herinner hulle aan God se versekering dat Hy gedurigdeur by hulle is en omgee vir hulle.

Dit is oorspronklik in Engels uitgegee onder die titels “Safe with God – Psalm 91 en Psalm 121, maar is sedertdien tot een boek saamgevoeg en in Afrikaans vertaal deur Louisa Staines. Agnes en Salem du Bezenac, beide grafiese kunstenaars, het die boek geskryf. Agnes het vir die illustrasies gesorg.

Op bladsye 14 en 15 word die volgende gedagte met die kind gedeel: “Die Here is soos my skaduwee wat altyd by my is.” Dit word vergesel deur die vers: “Die Here is jou beskermer.” (Psalm 121:5)

God is altyd by jou word deur Christian Art Kids uitgegee en kan hier bestel word. Dit is ook in Engels beskikbaar as God Is Watching Over You.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.