Woordskilder Anzé Bezuidenhout beïndruk

Foto: Louise Viljoen

Deur Louise Viljoen

Poësie hoef nie noodwendig swaar, literêr of akademies van aard te wees nie. Soms lê die mooi van gedigte reeds in die taal se eenvoud. Digters gebruik woorde as die kleure waarmee hulle ’n prentjie skilder. Hoe meer gemaklik die digter met taal omgaan as medium om emosies mee aan te raak, hoe meer geslaagd is die woordrangskikking en hoe langer bly ’n gedagteskets die leser by.

Anzé Bezuidenhout is ’n Afrikaanse digter wat duidelik lief is vir haar moedertaal. Sy ryg woorde soos kleurvolle liggies aan stringe en hang dit op waar ander die mooi daarvan kan waardeer. Dit word ’n baken van hoop vir diegene wat hulself iewers in die donkerte bevind.

Mens voel lus om, soos die verhaal van die meisie en die vuurhoutjies, jou neus teen ’n huisie se toegewasemde ruit te druk in ’n poging om binne-in te sien en iets van die lewegewende warmte en samesyn daarbinne te ervaar.

Anzé se ses selfgepubliseerde digbundels is die huisies. Elke bladsy is ’n ruit. Mens proe-lees snoep aan die gedigte en verwonder jou telkens aan die verrassende wyse waarop Anzé woorde inspan wat jou hart nie vir ’n oomblik onaangeraak laat nie. Haar pretensielose kaalvoetgedigte is vir die mooi. Daar is niks geforseerd of gestruktureerd daaraan nie.

In haar Revolusie in Purper-bundel, skryf Anzé in ’n Gevriesde traan die volgende:

in die trietsigheid
van hierdie wintersdag
gluur die wolke grou
verby die gebleikte son

Hoe mooi is dit nie! Elke keer as dit ’n koue onweersdag is, sal ek onthou dat die wolke grou verby die gebleikte son gluur. Dís wat Anzé se werk so treffend maak. Sy beskryf die alledaagse op só ’n manier dat die woordbeeld jou eie word en moeiteloos in jou hart en verbeelding kom lê. Haar beskrywing en gedagtegang maak vir jou sin en jy wonder waarom het jy dit nie self ook raakgesien nie.

Die titel van een van Anzé se bundels, Woorde is my asem, dui op haar groot liefde vir die digkuns. Sy open Donkernag wat stil erodeer met die volgende vers:

as die nagson in sy adamspak
oor die oorsterkim flikflooi-loer
kom sing die naguil weemoedig
sy eensame verlange lied

Wie sal ooit weer na die volmaan kan kyk en nie aan dit as ’n sjarmante nagson dink wat in ’n netjiese adamspak uitgevat is nie? Anzé se digstem kom fluister sagte, soet woordjies in jou oor wat deel word van jou eie verwysingsraamwerk. Sy is lief vir die skepping en herinner jou aan die misterie wat dit omhul en die weergalose kosbaarheid daarvan. Haar werk getuig van die lof en aanbidding vir haar Skepper wat spontaan uit haar uit borrel.

In haar bundel, Met my woorde as verfkwas, skryf sy ’n minnedig en rig sy ’n uitnodiging aan haar geliefde in Gepoleerde Oniks:

kom pak jou siel in ’n tas
of dalk in die wegsteeksak
van ’n ou verslete jas

Anzé se digkuns is ongekunsteld, suiwer en eerlik. Daar is nie plek vir aansitterigheid en hoogdrawendheid in haar verse nie. Sy skryf uit haar hart en siel uit soos wat net ’n opregte mens sou praat en dink. Haar gedigte laat jou nadink. Jy wil jou knus toewikkel in ’n gehekelde kombersie en dit lees voor ’n kaggelvuur. Dan wil jy kort-kort ’n versie vir iemand voorlees en sê: “Hoor gou bietjie hier.”

Anzé het ’n mooi en innige verhouding met haar Skepper. Sy skryf vir die gelowige leser. In By die voete van my Skepper open sy Wasgoedlyn van die lewe só:

waar ek daagliks doelloos rondwapper
aan die tenger wasgoedlyn van die lewe
deur onverstaanbare omstandighede vasgepen
wonder ek telkemale of ek hierdie geveg gaan wen

En later in die gedig:

dan waai my lewenswasgoed
skoongewas deur U kosbare bloed
daagliks wapper die wasgoedlyn
altyd tot U groter heil

In Ek (en jy) is susters van Eva dig sy oor die vroue van die Bybel. Anzé skryf in Vrou, uit Sy hand geheilig, die volgende:

deur die skyn van jou binnelig
straal brose sterkte, ’n ribbebeen
volmaak gevorm uit Sy hand
en met al jou Eva sondes
bly jy steeds vrou
die kroon van Sy skepping

In Wasem woorde uit my hart skryf sy in Net omdat ek mag en kan hierdie mooi woorde vir haar geliefde:

ek wil jou geheime kliptafels
voor my oop kom pak
my hartsgeheime aan jou
met hamer en beitel
uitgriffel soos op ’n oer-ou lei
en jou so vertel van ’n
ewige liefde, tussen jou en my

Anzé se werk word gekenmerk deur deernis en empatie. Sy is ’n mensekenner en fyn waarnemer. Sy dig spontaan oor dit wat haar na aan die hart lê. Deur haar digkuns gee sy uiting aan dit wat haar binneste vol lê en waaroor sy ’n opinie het. Dit is dus gepas om haar ’n woordskilder te noem en my resensie af te sluit met die slotvers van haar Verdwaalde woordskilder:

in gedagtes word ek dan
net ’n verdwaalde woordskilder
wat sielspatsel emosiewoorde
sag oor papierdoek in ink kom ets

Meer oor die skrywer: Anzé woon saam met haar man, Willie, op ’n plaas op die Springbokvlakte naby Modimolle. Daar bedryf sy haar eie padstal, IetsiVanAls Curios & Biltong. Sy het ook die webtuiste www.ink.org.za geskep waar liefhebbers van Afrikaans skeppend kan omgaan met gedigte, verhale, rubrieke, lirieke en musiek. Anzé herdruk tans haar bundels. Dit kan bestel word op die INK-webtuiste se boekwinkel.

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae