Wys jou staal met die Sanlam Prys vir Jeuglektuur

skryf

Foto: Pixabay.com

Is jy ʼn kranige storieverteller? Inskrywings vir die 2017 Sanlam-prys vir jeuglektuur het pas geopen. Dié kompetisie is oop vir inskrywings in al 11 amptelike tale en bied opkomende skrywers die geleentheid om erkenning vir hul werk te kry.

Die Sanlam-prys vir jeuglektuur is in 1980 ingestel en word tweejaarliks toegeken. ʼn Goue en silwerprys word in kategorieë Afrikaans, Engels en Afrika-tale (Tshivenda, Xitsonga en Nguni- en Sotho-tale) toegeken.

Elena Meyer, senior borgskapbestuurder by Sanlam, sê dié inisiatief moedig jonk en oud aan om te skryf. Sy egter om te skryf kan ʼn intimiderende proses wees.

“As welvaartmeesters verstaan en respekteer Sanlam wat dit verg om die 26 letters van die alfabet te omskep in iets wat jou laat huil, bang maak of jou te laat liefhê. Dit is ʼn proses wat spreek van toewyding en vasberadenheid, maar wat haalbaar is vir enige persoon met ʼn  liefde vir woorde. Ons wil hê dat die kompetisie nie net toeganklik vir gevestigde skrywers moet wees nie, maar ook vir jong, nuwelingskrywers,” het sy gesê.

Die “250 woorde per dag”-veldtog op Facebook gee deelnemers vanjaar weer toegang tot ʼn span ervare en gepubliseerde skrywers wat as mentors optree. Dié veldtog moedig voornemende skrywers aan om elke dag minstens 250 woorde neer te pen en sodoende teen einde September ʼn manuskrip gereed te hê vir inskrywing.

Die ervare skrywers betrokke by die 250 woorde per dag-veldtog gaan tot en met September skrywers bystaan met raad, inspirasie, nuttige skryfwenke en deur insette op deelnemers se skryfwerk te lewer. Dié mentors is onder andere Fanie Viljoen, Paige Nick, Cat Hellisen, Redi Tlhabi en Kagiso Lesego.

Michelle Cooper, uitgewer van kinder- en jeugboeke by Tafelberg, sê die ontwikkeling van nuwe talent is belangrik vir die ontwikkeling van leesstof van hoogstaande gehalte. “Ons is baie opgewonde oor die 250 woorde per dag-veldtog en sien daarna uit om nuwe skryftalent te ontdek,” het sy gesê.

Hoe werk die kompetisie?

ʼn Lesers-paneel gaan ʼn kortlys van 18 manuskripte saamstel wat deur verteenwoordigers uit die onderwys, algemene boekhandel, biblioteke en akademici beoordeel word. Manuskripte word anoniem beoordeel ten einde nuwelinge die geleentheid te gee om met gepubliseerde skrywers mee te ding. Onder die 78 romans wat deur die jare met die Sanlam-prys vir jeuglektuur vereer is, is sommige voorgeskryf in skole en party is selfs in rolprente omskep, soos Lien se lankstaanskoene deur Derick van der Walt en Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom geskryf deur Marita van der Vyver. Die verhaal moet geskik wees vir jong lesers (tussen 12 en 18 jaar) en ten minste 25 000 woorde wees. Vir meer inligting, laai die inskrywingsvorm af.

Die totale prysgeld beloop R12 000 vir die wenner (goud) en R6 000 vir die naaswenner (silwer) in elke kategorie.

Die wenboeke sal in boekwinkels en as e-boeke te koop wees. Inskrywings sluit op 7 Oktober 2016. Vir nog inligting besoek NB Uitgewers se webwerf of Facebook-blad.

Sluit aan by die 250 Woorde per dag-veldtog op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar vir so ‘n groot organisasie en sulke harde werk, is die prysgeld regtig min. Hoe hard moet skrywers nie werk om die pot aan die kook te hou nie. Kyk hoeveel verdien sportmanne en -vroue. Is spierkrag regtig meer gereken as breinkrag. Nee wat, dis volgens my ‘n belediging vir enige skrywer. Die tweede prys is skaars genoeg om die huur vir een maand se verblyf van ‘n sukkelende jong skrywer te betaal…. Daar word so geveg vir die behoud van Afrikaans. Vir wat?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.